Spioene moet leuenverklikkers kan omseil en sonder vrees deur X-straalmasjiene kan loop. Spioene moet goed kan lieg. As hulle dit nie kan doen nie, word hulle aan hul toonnaels iewers in ‘n kelder in ‘n koue land opgehang. Hoe meer ek oor die liegery van ‘n spioen begin dink het, hoe meer het ek my lus vir vodka drink saam met die Russe verloor, want om ‘n geheim te hou is baie, baie moeilik.

Dié week se episode oor die Helderberg-geheim het my opnuut laat besef hoe belangrik dit vir mense is om die waarheid te weet. In my onderhoud en met my navorsing oor die program was dit duidelik dat dit vir die families nie gaan oor vervolging nie, maar bloot oor die waarheid en daarmee saam die voltooiing en afsluiting van ‘n pynlike verhaal.

Aan die ander kant kan ek my nie voorstel hoe moeilik dit moet wees vir die mense wat die Helderberg se geheim moes bewaar nie. Dis gewone mense wat net hul werk gedoen het en toe deur die tragedie gedompel is in ‘n situasie waar hulle waarskynlik gedwing is om te swyg.

In my eie lewe bevraagteken ek daagliks die kwessie van die waarheid. As ma, het ek al so geworstel met die vertel van ‘n storie aan ‘n kind of iemand wat vir my lief is.

Moet die waarheid nie partykeer 'n bietjie wag nie?

Wat doen jy as jy vir jou kind iets wil sê maar net nie weet hoe nie, of as jy voel dat hulle nog te klein is vir die nuus? Wat sê jy alles vir ‘n kind as jy byvoorbeeld skei? Deel jy die redes van die egskeiding met die kind? Is dit nodig dat ‘n kind alles weet? Wat van ‘n pa wat tronk toe gaan? Drank- of dwelmmisbruik? Ontrouheid? Wanneer is ‘n kind oud genoeg vir die waarheid en is dit altyd nodig om alles te vertel?

Wie leer vir ons as ouers wat die regte dosis waarheid is wat ons aan ons kinders moet oordra sodat hulle betrokke kan voel by dit wat om hulle in die huis gebeur?

Met siekte en egskeiding, alles gelyk onder my dak toe die kinders klein was, het ek besluit om te wag met van die waarhede. My kinders was so getraumatiseer dat ek besluit het om sekere dinge eers met hulle te deel as hulle ‘n bietjie ouer is. Dis nie dat ek nie die waarheid kon praat nie. Dis net dat ek gevoel het dat ek hulle wou beskerm. Soos wat hulle ouer geword het, het ek stadig, die verhale een vir een, bietjies-bietjies oorvertel in ‘n taal wat ek gevoel het reg was vir elkeen.

Of jy nou die een is wat wag vir die waarheid of die een wat die waarheid moet oordra, dit is so dat dit ‘n helende en bevrydende proses is.

Die tyd leer ons gelukkig wanneer ons nie meer dubbelagente onder ons eie dak hoef te wees nie.