En daar lees ek toe die skokkendste berig oor dwelms, seks en kanker – alles in een, as opsommend van dít waaroor die boek gaan wat Martie Meiring geskryf het. Heeltemal uit konteks uit! Verstommend sensasioneel en duidelik geskryf deur iemand wat nie die boek gelees het nie!

En asof dit nie genoeg is nie, het ‘n ‘space invader’ nog boonop op die oop sitplek langs my kom sit en my kom vra waaroor die boek gaan en hoekom ek die boek laat skryf het? Dis eenvoudig. Dit gaan oor die heiligheid van ons huwelike en hoe ons belofte van getrouheid aan ons maat dikwels tragedies wegsteek wat geen uitkomkans bied aan die een wat swaarkry nie. Veral ons Afrikaanse vrouens is geleer dat uitpraat uit die huwelik nie iets is wat ons doen nie. Die waarheid is egter dat as daar ‘n tragedie in jou binnekamer afspeel gaan niemand jou kan help nie, want niemand gaan weet nie. Agter geslote deure is ons dikwels vasgevang met skrikwekkende realiteite van ons tyd – alkoholisme, dwelms, ontrouheid en geweld.

Dit het my jare gevat om te besluit om die boek te skryf. Ek het verlede jaar met die Journey of Hope-gemeenskappe besoek waar ek hartverskeurende verhale moes aanhoor van vroue wat vir een of ander rede in my vertrou en hulle harte aan my oop gemaak het. En die waarheid was eintlik dat die grootste geheim maar eintlik in my eie hart gelê het...

Die ergste chaos in my huis het my soos ‘n besetene laat oefen en fietsry langs die kus in Portugal. En ek onthou dat daar in daardie tyd ‘n fliek van Kevin Costner was wat in ons dorpie gewys het – En soos ek gery het, het die titel van die fliek bly herhaal in my kop : “No Way Out".

Min het ek geweet dat kanker my sou kom red, net daarna...

* KRY JOU NOVEMBER-UITGAWE VAN SARIE VIR 'N EKSKLUSIEWE ONDERHOUD EN UITTREKSEL UIT DIE BOEK.