Die onverwagse is die ding wat ons almal seker die meeste vrees? Dit is daardie ding wat soos 'n vuishou vir jou in die sy tref as jy net vir 'n oomblik wegkyk. En dan die gevolge - hoe hanteer jy dit sodat dit die minste seer veroorsaak?

Die dag toe ek my vuishou in my sy gekry het, het ek ontdek  dat ek nooit geleer het om met my kinders te praat nie. Hulle was 5 en 7 jaar oud en ek moes aan hulle verduidelik het dat ek siek was en sou weggaan vir 'n lang tyd en wou vir hulle verduidelik hoe diep my liefde vir hulle lê in 'n taal wat hulle sou verstaan. Ek kon nie. En ek weet dat my onvermoë om op daardie dag myself ordentlik uit te druk, eintlik groot trauma in hulle lewens veroorsaak het en dat dit hulle eintlik jare gevat om  daaroor te kom.

Ek wou eintlik vir hulle spaar van die seerkry, die bekommernis en hulle vrees - en toe ek hulle handjies vat en vir hulle moes vertel wat gebeur het, het ek minder vertel as wat ek moes. Ek het gedink dat hulle nie sou verstaan nie maar dit was eers baie jare later dat ek besef het, hulle hét nie verstaan nie want ek het nie alles aan hulle verduidelik nie.  Hoekom doen ons dit?

'n Ouer  se natuurlike instink is om te beskerm. Ek wou vir my kinders weghou van slegte nuus en elke keer as ek 'n storie vertel het, het ek  eintlik nie vir hulle voorberei op die werklike gevolge van die verhaal nie .Maar meer as dit, ek het nie die woorde gehad om myself uit te druk nie - so amper asof ek alles leer doen het in my lewe behalwe o moor die belangrike dinge te kan praat - die dag as dit moet!  Ek het nie vir my kinders verduidelik watse impak die onverwagse op hulle lewe sou hê nie.  Dis amper om vir 'n kind te sê dat jy en hulle pa net 'n bietjie gaan skei, of jy't net 'n bietjie kanker, of is net 'n bietjie werkloos...

Die lewe is vol vuishoue and bliksemstrale en 'n  mens doen eintlik jou kinders 'n onreg aan om hulle te weerhou van die realiteite van die lewe en om seer  te kry is 'n groot deel daarvan, van menswees en van mens word.

Dit het jare gevat om die moed te kry om dit te doen  maar nou pak ons saam al die vuishoue en die realiteite van die lewe aan, sonder voorgee, met eerlikheid en kwesbaarheid  - elke dag  'n bietjie nader aan onsself, aanvaarding en begrip.

In ons huis hoor die apies, praat die apies en sien die apies...