Om ‘n positiewe mense te wees beteken nie dat jou kop altyd reg dink nie. ’n Mens word nie net wakker in die oggend met ‘n kop vol gesonde gedagtes ofplanne nie. Dis ‘n keuse – amper soos gesond eet. Jy besluit self of jy die gesonde kos of die ongesonde kos in jou trollie gaan pak as jy in die supermark se gang afstap. Elke dag as ek wakker word, voel ek soos ‘n soldaat wat my kamoefleerklere, pantser en geweer vasgordel aan my lyf, goed bewapen vir die daaglikse besoedeling van ander mense se oordeel en opinies. Maar, die week het Rambo sy gat gesien. Ek leesop die oomblik ‘n riller van Michael Connelly en die Chinese triads en hoe magtig hulle invloed is in die gemeenskap en oor die wêreld. Die triads se wette word nie eers deur die gemeenskap betwyfel nie. Veral die ouer geslag aanvaar die reëls en bly vir hulle lewens sonder bevraagtekening gehoorsaam aan die ongeregtigheid. Ons boere het ook‘triads – ons noem hulle komitees. Hulle is mense sonder tatoes en swaarde, maar net gevaarliker - hulle is in ons kerke en ons liefdadigheidsorganisasies en nie eers die slimstes van ons kan die laksman onder hulle herken nie. Daar’s altyd ‘n paar laksmanne in ‘n komitee – verbloem agter ‘n netjiese haardos,ordentlike kinders en ‘n mooi huis is hulle daai mense wat jou verstom met hulle onredelike stemme, wrede oordeel en agterbakse politieke strategieë. Ons komitees se mag lê in hulle mag om besluite te neem.Die mag om te veto en die harde werkers met ‘n kopknik te herinner wie’s die baas. Dit maak nie saak hoe positief jy is nie – daar is geen verweer teen die magteloosheid wat onredelikheid jou laat voel nie. Ek voel so magteloos as iemand my dag net sonder rede bederf! Maak nie saak hoe ek fokus op positiwiteit en opregtheid of gedissiplineerd my dae vol dade met waarde probeer vul nie – dit vat eintlik net een ander mens se negatiwiteitof egosentriese selfsug om die orde te versteur. My ma sê altyd – ‘n Mens moet positief dink, of pasop wat jy dink! As dit nie vir die simpel mense om my was nie, was my kop net vol goeie gedagtes. Dis wat sommige mense met hulle nougesette oordeel binne-in my kop kom sit wat my deurmekaar en onseker laat voel en dit is die ding wat ek die meeste mee sukkel, want ek het nog net nie geleer hoe om die gemors wat ander mense in my kop sit, uit te kry nie. My kop werk soos my swembad by my huis. Nie altyd lekker nie... Ek dink die probleem lê by die filter se masjien wat nie sterk genoeg is vir die gemors wat hy moet hanteer nie en my creepy crawly haak die heeltyd by die trappies vas en suig net in sirkels op dieselfde plek op. Ek’t vrede gemaak met my swembad, want ek weet al lankal dat hy meer werk verg as my buurman s’n. Sekere tye van die jaar moet ek tot 3 keer per dag die blare van die uitheemse peperboom wat bles word, uitskep. As die blare langer as ‘n dag in die water lê, begin dit afsak na die bodem toe en danweet ek dat ek binne 3 weke sal super shock! Dis dieselfde met my kop... ek moet elke dag aan hom werk. My filter se masjien is ook maar vrot en my creepy crawly haak ook dikwels in die hoek vas en dink in sirkels. Ek moet elke dag blare skep, en doen ek dit nie, weet ek ook dat ek binne 3 weke sal moet super shock. Swembad-onderhoud is darem nie altyd harde werk nie. In die wintermaande gooi ek net daai drywende spoetnik-ding in- en los hom so tot minstens einde Oktobermaand, want hy bly sommer so helderop sy eie, sonder onderhoud. Met ‘n hittegolf agter die rug en ‘n paar gewetenlose besluite in die raadsaal, wag ek en die swembad nou geduldig vir die winter en die temperatuur om te sak...