Toe Misha,  en toe, twee jaar later, Benito gebore is, kon ek hulle in die begin nie bad sonder dat my ma langs my gestaan het en raad gegee het  nie. En terug by die huis in Europa, het ek vir Sandra da Silva gehad – ‘n 15 jarige meisie wat in die berge gebly het, om my te help. Sy was ‘n wonderlike ma vir my kinders. Sy’t selfs  langs my gestaan as ek wortels gekook het! Speeltyd alleen met hulle was net so moeilik en daar het Sandra ook raad gegee. Ek het nie van blokkies bou gehou nie. Ook nie van wegkruipertjie nie. Ek’t gesukkel om te gesels in babataal en het ook nie gehou van die sandput in ons tuin nie.

Omtrent al wat ek goed kon doen, was  storie-lees in die aand.
Maar toe begin hulle mens word. Die dag toe hulle self die yskas begin oopmaak en hulle self vir hulle begin oggend pap in hulle bakkies ingooi, het dit vir my gevoel asof ek meer  kon begin ontspan het , asof die ergste oor was en asof ek met meer gemak kon mamma wees. Dis toe dat die lekker vir my begin inskop het...

Dit was asof ons begin saamwerk het. Skooltake, kos kook, stry en saampraat - dit was die tipe ma-wees wat ek goed kon doen.  Iewers in die Hoërskool het  ek ook sommer begin ophou baklei oor tande borsel, bad- en kamer aan die kant maak. Die seuns moes leer om op hulle eie voete te staan, hulle moes deur hulle foute leer, hulle moes leer om onafhanklik te dink. Deur-sluit in die aand was hulle verantwoordelikheid . Ek was in die kol met my opvoeding.

Een van die dae sou hulle groot wees, uit die huis wees...alles verby , in ‘n oogwink.
Misha se 18de verjaarsdag is gevier met oorgawe. Ek het 3 dae na die partytjie nog bierbottels agter en onder meubelstukke uit gekrap. Nooit weer nie , het ek gedink! Dít was my afskeidsgeskenk aan hom. Sy volgende fees sou nie in mý huis plaas vind nie. Die voëltjie was amper vry.

Hoe verkeerd was ek nie!
Dit het alles begin met die GAP-jaar. Hoekom het hy so gou begin huis toe verlang? Is hulle nie veronderstel om hulle ma’s af te skud nie? Ek kan nog verstaan as ‘n seun na sy ma se kos verlang, maar hoe op dees aarde kon hy so gou na mý begin verlang het? Wat van mý GAP jaar? Ek het gedroom oor klein potjies kos op die stoof, partykeer sommer net tee en ‘n kaas toebroodjie vir aandete, min wasgoed, ‘n skoon huis, ‘n kleiner telefoon rekening, een selfoon minder om te betaal!
Maar nou dit lyk my asof dinge net erger gaan word?

Ek lees nou  in die koerante dat studente kan ‘staak’?! Hulle  staak want die universiteit moet vir hulle kos gee, afslag gee, vervoer gee, DSTV gee!  Die ergste is, dit gaan nie eintlik beter hier by my huis met ons ons maniere van grootmaak nie!  Ek was en stryk bondels en bondels wasgoed oor naweke, ek betaal  twee internet rekeninge, ry op en af op die N2 want die moordenaars en dronkies gaan die kinders in gevaar sit. Ek bestuur en finansier 2 huishoudings, die selfoon is nou duurder en die sakgeld byna ‘n salaris!  Iets is fout!  Hoe’t die sirkel so gou weer by sy begin gekom uitgekom...

Agge nee, ek vee al weer boudjies af!
Ons het gelag toe ons ouers vir ons vertel het van hoe swaar hulle gekry het. Hulle moes kaalvoet skool toe gaan en om hulle voetjies warm te kry in die winter het hulle in die beesmis getrap. Wat gaan met my aan?

 My kinders weet nie eers van mis nie! Hulle weet nie daarvan nie want ek tel dit so gou vir hulle op...