SAL Vlug 295, die Helderberg, het op 28 November 1987 in die see naby Mauritius gestort – met 159 mense aan boord. Vir hul geliefdes is daar steeds onbeantwoorde vrae . . . wat dalk nou beantwoord kan word.

Die bekroonde Kaapse fotograaf Frenske Otzen het 25 jaar gelede sonder haar geliefde man aan haar sy die lewe aan klein Peter in die Park Lane-kliniek in Johannesburg geskenk. Haar Deense man, ook Peter, was tien dae tevore aan boord van die Helderberg. Sy onthou alles nog soos gister.

Frenske Otzen en haar seun Peter

'Op Vrydag, 13 November, het ek Peter die laaste keer by die glasdeur van die lughawe sien wegstap van my . . . ek was op pad na die ginekoloog.

Twee dae voor hy sou terugkeer, het ons nog oor die telefoon gepraat. Die 28ste was ek effens ontsteld nadat ek die oggend die radioversoek gehoor het dat almal wat mense op Vlug 295 verwag die lughawe moet bel omdat die verbinding met die beheertoring verbreek is.

Ek het nie veel daaroor gedink nie, maar tog my ma en ’n lugwaardin-vriendin gekontak. Nadat ek na drie verskillende mense by die lughawe verwys is, was ek ’n bietjie verwilderd. Tóé het die dinge begin gebeur . .

Die hele dag was soos ’n bisarre tuinparty met mense wat in en uit ons huis beweeg het met eet- en drinkgoed. Die name van almal op die vlug het heeldag oor die TV-skerms geflits, maar daar was geen nuus oor die vlug nie. Teen sesuur dié aand het ons gehoor almal aan boord is oorlede.

Dit het gevoel asof ek in ’n nagmerrie was. Ek het altyd aan Peter gedink as iemand wat dinge sou oorleef. Ek wou nie voor almal ineenstort nie en is badkamer toe. My ma, wyle Marja Winjtje, het van Kaapstad gevlieg en in dié tyd by my kom bly, ín my kamer. Ook my vriende het my ongelooflik ondersteun. Ek het my van die wêreld afgesluit, sonder energie, maar ek moes aangaan.

Ons het sy gedenkdiens in die kerk gehou waar ons vroeër daardie jaar getroud is. Jou kop is ’n snaakse ding, hy speel speletjies . . .

Ek ?het na die mat van pers jakaranda-blommetjies by die kerk gekyk en wou net foto’s neem en dit vir Peter wys, net om te besef ek kón nie.

Klein Peter se geboorte op 9 Desember was baie emosioneel, maar ook wonderlik. My eerste gedagte toe hy gebore is, is dat hy eendag, as hy 21 word, my in sy aandpak, nes sy handsome, donker en sjarmante pa, na die opera gaan vergesel. En dit ís ook so vandag.

Die eerste Kersfees ná Peter se dood was die ergste. Ek was sielsalleen. Tot vandag toe is ek nie mal oor Kersfees nie. Ek onthou net tydens die gedenkdiens het die predikant gesê dit help nie jy vra vir God ‘waarom ék?’ nie. Ek kry baie heling in die natuur. As ek na die see kyk, dink ek: Peter is opgeneem in die see, water verdamp daaruit in wolke en dit word reën. Ek glo in die kringloop van die lewe . . .

Dit was ’n groot aanpassing om skielik sonder my man te wees. Ek moes leer om gloeilampies om te ruil, muurproppe te vervang en wetlike aspekte rondom sy dood te hanteer.

My en my seun se verhouding is baie heg. Ek het ook die kans op tweede liefde gekry. Ek is dankbaar vir die lewe wat ek nou het, die sirkel is nou weer volmaak. Ons hoop net met die ondersoek sal almal helderheid kry oor wat regtig gebeur het."

* Kontak Peter by helderbergcrash@gmail.com of Twitter by @helderbergcrash

NOG 'N FAMILIE SE WARE VERHAAL

* Kry jou Augustus-uitgawe van SARIE (met Erica Wessels op die voorblad) vir nóg 'n ware verhaal oor hoe 'n familie deur die Helderberg-ramp vernietig is.

DIE VOORSKOU VAN DINSDAG 14 AUG SE 'WAT MENSE SÊ MET JANIE'