Dis verby, vinniger as wat ons "Happy New Year" kon sê!

Maar dié keer voel ek anders. Die jaar was lank. Intens en uitdagend. Dit het my energie, geduld, deursettingsvermoë, buigsaamheid en hoop getoets. En ek hoor hoe julle my woorde eggo.

Want wie het geraai dat ons aan die einde van 2008 ’n nuwe staatspresident sou hê en dat dit die situasie in die land só sou omkrap? Hoe sou ons kon weet dat die wêreld-ekonomie dinge onderstebo sou dompel en van die grootste internasionale banke oornag sou sneuwel.

Dat ook ons in SA vrae sou vra oor die veiligheid van ons geld nou en môre? Wie het gedink dat prysstygings in kos, brandstof en rentekoerse ons só sou treiter en verby moedeloos sou hê? Dinge wat dag vir dag, stukkie vir stukkie ons geluk en lewensvreugde beïnvloed.

’n Moeilike jaar vir jou, my en ek glo vir elke Suid-Afrikaner.

Maar terwyl ek skryf, onthou ek ek moet lysie maak. Die een, veral, as dinge moeilik is. Die een wat dinge in perspektief plaas. Negatiewes aan die een kant, positiewes aan die ander.

Vir SARIE was dit ’n taai jaar. Ons voel die impak van ’n verswakkende ekonomie, en ons het waardevolle kollegas en goeie vriende verloor. Maar, wys die lysie, ons het ook gewen.

2008 was die jaar waarin ons as span meer lesers as enige ander jaar ontmoet het. Op feeste en vrouedae, van Pretoria tot die Koue Bokkeveld, Mosselbaai tot Bloemfontein, Oudtshoorn tot Potchefstroom, het ons en julle verhale gedeel en stories uitgeruil. Saam gelag en soms ’n traan weggevee. Elke keer het ek teruggekom kantoor toe met hoop en inspirasie.

Met die kreatiwiteit van dramaturg Hennie van Greunen en talentvolle kunstenaars Jolette Odendaal en Pedro Kruger het ons André le Roux se rubriek verwerk in die verhoogstuk Op die vrou af II, wat by Aardklop gedebuteer het en waarna almal by die volgende KKNK kan uitsien. Tussen lagbuie en -trane deur besef jy net weer mans en vroue kan nie sáám nie, maar so wraggies, ons kan ook nie sonder mekaar nie!

Vir SARIE KOS, ons spesiale kostydskrif, het lesers ’n groot ja gesê. “For she’s a jolly good fellow” wil ons vir Barbara Joubert sing, want met haar koesterkos eet familie en vriende - ons vastrapplek in die lewe - weer saam. Op ons rubriekskrywer Nataniël, wat graag sê as dinge moeilik is, help dit om ’n ietsie te eet, is ons meer as trots. As ambassadeur van Kindersorg SA stel hy ’n goue voorbeeld en gee hy van sy tyd en omgee vir ons land se kinders wat nie die vreugde en vertroeteling van kindwees ken nie. En só kan ek aangaan.

SARIE se plus-lysie is lank.

Ook myne. Selfs al het ek die pyn van die dood van ’n beste vriend ervaar, en die teleurstelling van planne wat nie uitwerk nie. Ons kan nie stry nie, hierdie lysie hét waarde. Vir elke kruisie is daar ’n regmerkie. Vir elke stukkie skadu ’n poeletjie lig.

Ek en die hele SARIE-span wens jou ’n liefdevolle, geseënde Kersfees toe. Eet ’n ietsie, droom ’n bietjie, gee van jouself en sprei dan jou vlerke vir 2009. Jy is nie alleen nie - ons sal sáám die nuwe jaar met nuwe hoop binnegaan.

Michélle van Breda

SARIE Desember 2008