My´ seuns vir wie ek kan lief wees, vir wie ek so ongelooflik lief ís en vir wie ek enigiets in my mag sal doen. Daar is so baie wat ek julle wil leer van man-wees. Van hoe om ’n goeie man te wees met respek vir jou medemens en liefde vir jou vyande, en hoe om ’n vrou met liefde en respek te hanteer. Hoe meer ek daaroor dink, hoe meer oorval vrees my. Die vrees vir die blote omvang van die verantwoordelikheid. Ek wonder gereeld hoe ek dit ooit sal regkry om julle beter mans te maak as wat ek is en kan wees. Hoe ek julle sal kan beskerm teen al die dinge wat julle kan seermaak of teen al die foute wat ek reeds gemaak het. Hoe ek dit gaan regkry, is vir my onbekend, maar dat ek met alles in my sal probeer, dit weet ek vir seker!

Dit tref my as ek na die eindelose onskuld in jul mooi blou oë kyk, deur ’n pa vir julle te probeer wees en ’n voorbeeld te probeer wees, maak julle van my ’n beter man. Dat julle my deur jul onaangetaste, rein en onvoorwaardelike liefde vir die eerste keer soos ’n volwaardige man laat voel.

Aidan en Samuel

Ek dank my God vir die voorreg om julle te kan liefhê, vir die plesier om julle te kan vashou en julle in die bed te kan sit en te hoor “Lief vir jou, Pappa”, net voor my hart smelt. Vir die ongelooflik trotse gevoel wanneer julle die eerste keer kruip en dan loop en dan praat, en Aidan wat nou sommer al fietsry sonder die hulpwiele. Vir die eerste keer wat jy die rugbybal in jou hande gekry het en laat nael het terug na jou eie doellyn, en al die kere wat jy my laat lag en ons saam lag tot nie ek of jy meer kan nie.

Samuel, vir die eerste keer toe jy “Pappa” gesê het en hoe jy my uitdaag en jou perke toets en ek myself in jou kan sien elke keer wanneer ek julle weer sien as ek weg was, hoe julle my groet en my om my nek gryp en soen. Ek het nooit kon dink dat hierdie klein oomblikke dié sal wees waarna ek elke dag uitsien en dié sal wees wat ek die meeste mis wanneer ek weg is nie.

Ek hoop ek kan vir julle alles wees wat julle in jul pa wil hê. Ek wens dat ek julle hero kan wees en dat julle by my liefde sal voel en beskerming en vertroue en dat ons beste vriende kan word. Ek sien so baie uit na al die prettige en avontuurlustige dinge wat ons nog saam gaan aanpak en al die lewenslesse wat ons mekaar nog gaan leer. Bo alles hoop ek dat ek hard genoeg probeer om die pa vir julle te wees wat julle twee mooi en spesiale seuns verdien. Julle is my hele wêreld en ek het julle lief, meer as wat ek in enige aardse woorde kan beskryf.

My gebed vir julle is dat julle God se liefde ten volle sal ervaar en sy beskerming vir ewig sal geniet. Dat julle jul volle potensiaal sal bereik as volwaardige mans en dat julle nooit sal vergeet hoe ontsaglik lief ek vir julle is en hoe trots ek op julle elkeen is nie.

Jul trotse Pa, vir ewig in Liefde.

*Jay se seuntjie Aidan is 6 en Samuel is 3.