As ek na die koerante se stories kyk en na Joost luister op die radio waar hy bieg oor sy baie nare ervarings van die afgelope tyd, kan ek nie anders as om te dink dis regtig 'n gepaste titel vir sy boek nie. Ja, alles is met spieëls gedoen – eers word alles verdoesel en gereflekteer om hom te pas en te probeer beskerm. Nou deel hy die waarheid, die volle waarheid – en ek moet wonder: Is dit weer net 'n beeld in 'n spieël, of is dit 'n eerlike refleksie van 'n man wat waarlik berou het?

Ek het nog nie die boek gelees nie, maar sal beslis. Onthou, ek is 'n rugby-fên, en om alles te kroon 'n groot Blou Bul-fên ook nog! Dis die twee spanne waarin Joost gespeel het. En Joost was en is steeds een van my rugbyhelde, hy en daardie Springbokspan wat met Madiba magic die Wêreldbeker vir ons gewen het. In my beskeie opinie is hy een van die beste skrummies wat al in ons land op die veld gedraf het, en daarvoor het hy my bewondering.

Vir die ander deel van sy lewe – wat kan ek sê. Bloot dat hy 'n mens is en mense maak foute, neem verkeerde besluite en moet die guts hê om dan die waarheid te vertel. Meer nog, hy moet vir die res van sy lewe met sy gewete saamleef.

My laaste woord: Sterkte Joost; ek sal jou boek lees.

Die boek is ook in Engels beskikbaar: Joost: The Man in the Mirror, David Gemmell (RHS, R189,95)
Koop jou eksemplaar op Kalahari.net