‘Dit is ’n verligting dat hulle altyd op die strand wag’ - Tanika Hoffman (20), branderry-kampioen

Tanika 3“My ma, Mercia, ’n tuisbly-ma, en pa, Mark, ’n maatskappydirekteur en president van Branderry Suid-Afrika, is my grootste ondersteuners. Ek het op 10 begin branderry en op 11 het ek my eerste branderplank gekry. My ouers het selfs ’n huis in Kommetjie langs die see gekoop sodat ek daagliks kon oefen. My sport is nie goedkoop nie – planke, duikpakke, lesse en reise na onder meer KwaZulu-Natal en oorsese kompetisies is duur…

Dikwels het my ma in triestige weer gesit en kyk hoe ek oefen en my ouers het soms naweke in ‘mini-vakansies’ vir my en my broer, Sven (13), omskep. As lid van die junior en nasionale Suid-Afrikaanse branderryspan het ek aan die International Surfing Association (ISA) World Surfing Games in onder meer Ecuador (2009), Nieu-Seeland (2010) en Panama (2011) deelgeneem.

Soms is kompetisies geborg, soms moes my ouers opdok. Dit is ’n verligting dat hulle altyd op die strand wag daarna. Hul liefde is onvoorwaardelik, maak nie saak hoe ek vaar nie. My ma gee my graag motiveringsboeke oor suksesvolle sportlui. My ouers het my ook na sportsielkundiges gestuur, wat ongelooflik waardevol was. Hulle het grootgeword in die apartheidsjare, maar het nooit hul drome laat vaar nie. Twee puik rolmodelle!’’

Pa Mark oor Tanika

“Mercia en ek kon sien sy is talentvol en geniet dit. Sy wou van jongs af met die beste meeding. Jy kan haar dit mos nie ontsê nie. Ons beskou dit nooit as opoffering nie. Ons het dikwels oor naweke vir haar sport gereis, maar dit het ons die kans gegee om wonderlike dele van die land te ontdek. Ook pragtige lande soos Peru en Ecuador. Dit was lekker om te sien dat sy haar geleenthede aangegryp en die beste daarvan gemaak het.”

‘Pa sê altyd: Seun, jy kán dit doen’ - Roman de Beer (19), Grand Prix Formule 3-renjaer

ROMAN  Petra, Roman, Shane“As kleuter het ek al met ’n stuurwiel in my hand gespeel en op vyf het ek 50cc-knortjorre begin ry. My pa, Shane, was my werktuigkundige. Ek kry my liefde vir resieskarre van hom en oupa, Allan, wat reeds oorlede is. Hulle het albei aan hotrod-renne deelgeneem. In 2009 was ek die wenner van die Junior Knortjor-wêreldkampioenskap vir 125cc in Milaan. Ek is raakgesien in Italië en uitgenooi om aan Junior Formule 3-wedrenne oorsee deel te neem. Dit was die begin van my lang pad tot, hopelik, Formule 1-motorsport.

My ma, Petra, het my van 2010 tot 2012 na verskeie junior motorwedrenne in Italië, onder meer in Milaan, Gubbio en Nepi, vergesel, soms tot vier maande op ’n keer. Dit was vir haar ’n vuurdoop, want sy kom van die Kalahari en het nog nooit voorheen oorsee gereis nie.Met geen ondervinding nie, het ek verbasend goed gevaar. So tussendeur die trane van verlange na ons geliefdes het ons die Italianers geniet. Sy het my daagliks gemotiveer om te oefen, ons het saam Bybelstudie gedoen en lekker in die pragtige dorpies en stede gestap. Sy het ook gesorg dat my dokumentasie en uitrustings gereed is vir wedrenne. Dikwels was ons sonder vervoer en het ons maar saam-saam die busroetes ontsyfer. In party hotelle het sy wasgoed getrap in die stort. My ma het my ’n ruk lank tuis onderrig.

Die tye in Suid-Afrika was ek in die Hoërskool Dinamika in Alberton. Ek skryf vanjaar matriek deur Technicol SA, ’n kollege vir volwasse-onderrig, en sal volgende jaar terug op die renbaan wees. My pa werk dag en nag om my droom te bewaarheid. Dit beloop jaarliks miljoene, veral met die swak wisselkoers. Borgskappe is skaars. Maar Pa sê altyd: ‘Seun, jy kán dit doen!’ Dit is ongelooflik dat my ouers ter wille van mý bereid is om sulke lang periodes uit mekaar te wees.”

Ma Petra oor Roman

“As ’n kind op vyftien ’n wêreldkampioen is, wéét jy hy kan. Kleintyd was dit net karretjies speel en ure se motorwedren-video’s. Die geldelike druk is groot en dit is erg om lank weg te wees van my man en ander kinders, Mitch [’n sakeman], Jady [’n professionele gholfjoggie] en sy vrou, Natania. Ten spyte van kritiek sal ons dit wéér net so doen. GP Formule 3-wedrenne is soos die ‘voor’-wedrenne vir F1. Roman is twee stappe van Formule 1 af!’’

Klik by www.romandebeerracing.com

Help jou kind só!

  • Stel saam kort- en langtermyn-doelwitte op. As jou kind byvoorbeeld ’n professionele tennisspeler wil word, is stap een om te leer tennis speel.
  • Skryf jou kind se drome neer. Dit help haar fokus.
  • Ontwikkel saam ’n aksieplan. Vra haar hoe sy beplan om haar drome te bereik. Moet sy ekstra vaardighede aanleer?
  • Moedig haar aan om ’n droom-dagboek te hou waarin sy weekliks ’n lys maak van al die take wat sy moet voltooi om haar drome (al is dit klein dingetjies) te bereik.
  • Moedig vasbyt aan. Vertel haar jy slaag dikwels nie die eerste keer nie, dan moet jy volgende keer harder probeer.
  • Prys jou kind as sy iets regkry.
  • Moedig harde werk en oefening aan. Sê: “As jy gereeld hard oefen, sal jy oor ’n paar weke al hoe beter vaar en selfvertroue kry om dit beter te doen.”
  • Doen navorsing oor jou kind se droom. Hoe meer inligting julle het, hoe makliker kan jy planne maak.
  • Maak doodseker dit is jou kind se droom wat jul saam najaag, nie jou eie verydelde drome nie.
  • Ouers moet ook hul eie drome volg wanneer hulle kinders kry, al ondersteun hulle dié van hul spruite. Dit ís ’n uitdaging, maar jy wil tog nie voel jy het dinge misgeloop as jou kinders eendag die huis verlaat nie … Jou drome sal jou boonop vervul en ’n beter ouer maak.

INLIGTING Melanie Oelofsen, opvoedkundige sielkundige van Pretoria,

e-pos: melanieoelofsen@hotmail.com

Lees nóg verhale hier in DEEL 1 van dié artikel