Baie booshede is al gepleeg terwyl mense oortuig was daarvan dat hulle maar net hulself was. Elke emosie van woede, verliefdheid, haat of wellus is eg. Ek kan jou beledig terwyl ek heeltemal myself is, of seermaak of verlei.

Hoeveel huwelike is nie al verwoes terwyl twee nuwe verliefdes oortuig was dat hul nuutgevonde gevoelens die bewys was van die mees edele en opregte gevoelens in die heelal nie. As “ek was net myself” ’n aanvaarbare verweer was, sou elke misdadiger in elke hof vrygespreek moes word.

Die profeet het gesê die hart van die mens is bedrieglik bo alle dinge. Wat dan nou gemaak met elke tweede liedjie wat sê jy moet maar net luister na die drome van jou hart en die toekoms sal vir jou wink vanaf die hoogste pieke van roem, romanse en sukses? Jou hart kan jou dalk net die afgrond in mislei. En so, terwyl jy heeltemal jouself is, kan jy die pad heeltemal byster raak.

Die waarheid is dat elke mens ’n potensiële Adolf Hitler en ook ’n potensiële Moeder Teresa is. Uit die hart kan die edelste lig skyn. In die hart is ook die donkerste van kamers. En juis hier is elkeen van ons se dilemma. Ons kan dit nie bekostig om sommer net onsself te wees nie. Daar is tye dat dit die laaste ding is wat ons mag wees, die gevaarlikste wat ons kan wees.

En tog mag ons nie ’n lewe van skyn en voorgee leef nie. Geen verhouding kan werk sonder deursigtigheid en egtheid nie. Begin ontken dat daar sekere emosies in jou is, en jou siekefonds begin binnekort leegloop in die geldkoffers van sielkundiges en psigiaters.

Ons staan voor die skaakmat van die spel van die hart. Ons hoor ’n Paulus van ouds uitroep van ellende, en ons vra saam met hom dat ons kan wegkom van die gesplete
persoonlikheid van ons lig-donker harte.

Maar juis hier, terwyl ons bang is om onsself te wees, begin ons om eg te wees.

Wanneer jy eers besef dis verwaand om jou eie hart te verhef tot die toppunt van edelheid, dan begin selfkennis. Om daarmee vrede te maak dat daar ’n donker kant aan
elkeen is, is die eerste oorwinning van die lig.

Die erkenning dat jy bankrot is, is die begin van groot rykdom.

Êrens het die Prediker van predikers gesê jy is salig, jy is gelukkig (benydenswaardig, sê een vertaling) as jy arm van gees is, as jy weet jy gaan dit nie maak deur net jouself te wees nie. As jy weet dat jou lig te mistig is.

’n Groter lig moet in elkeen van ons skemerharte kom skyn. Die een Lig in wie daar geen grieseltjie duisternis is nie.