Dis karakter wat maak dat ons plekke waardeer en onthou. Dink aan huise. Almal doen min of meer dieselfde ding, maar sommige kruip vinniger in ons hart omdat hulle eenvoudig meer húís is. Hulle praat net ’n taal wat ’n emosionele konneksie maak. So is dit ook met stede. Party is groot, grys beton-metropolisse, ander die plekke waaroor digters liries raak. Parys, New York, Londen, Chicago, Rome, Barcelona is al meermale in sulke liedjies verewig. Die inspirasie kan enigiets wees – van ’n plek se romantiek en landelikheid tot die opwinding en polsende energie. Daar’s net ’n magic wat werk. Besoekers wat met die Wêreldbeker-sokker in Kaapstad kom kuier het, sê die stad se mense en hemelse natuurskoon is die eintlike betowering.

Oor die jare het ook ’n klompie van ons dorpe ons met hul uniekheid verlei. Plekkies soos Graaff-Reinet, Cullinan, Clarence, Dullstroom, Riebeek-Wes, Riebeek-Kasteel, Paternoster en Swellendam. Byna soos ongeslypte diamante wat lê en wag het om herontdek te word. Greyton en Stanford het ek vir jare geken – die een in die skadu van die Riviersonderend-berge, die ander net ’n asem weg van die see. Maar toe ek hulle weer ervaar, kon ek skaars my oë glo.

Suid-Afrika, wat ‘n juweel!

- Michélle van Breda, SARIE-redakteur

SARIE WOON - nou beskikbaar op die rakke!