Haar ''kinders'' in München is drie dogters onderskeidelik 16, 14 en 10 jaar oud.

Omdat die kinders al ouer is, moet sy net vir hulle kos maak in die middae en dan het sy die lieflike taak van stryk vir die hele gesin!
München is vir haar 'n ongelooflike stad met interessante dinge om te sien en te ervaar. Een daarvan is die Schloss Nymphenburg, 'n kasteel met 'n pragtige park en sy woon toevallig langs die kasteel. Dan is daar ook Dachau, die konsentrasie kamp van Adolf Hitler, wat steeds deur toeriste vanoor die hele wêreld besoek word.

Ek het Karen per e-pos ‘n paar vrae gevra oor haar lewe daar.

Hoe het jy by die familie uitgekom?
Deur 'n au pair-agentskap in Pretoria.

Sien jy uit na die Oktoberfees?
Omdat ek nou eers 6 maande in München bly, kon ek die fees self nog nie bywoon nie. Die bekende fees wat elke jaar einde September plaasvind, word hierdie jaar 201 jaar oud. Dis die grootste volksfees op aarde. In 2010 was daar 6,4 miljoen mense by die fees waarvan 3 miljoen net die 1ste dag daar was, 7 miljoen liter bier is gedrink waarvan 1 liter bier 9 euro kos (1€ is R10). Daar is altesaam 14 groot tente op die terrein. Een tent kan ongeveer tussen 3 000 en 8 000 mense vat. Oktoberfees is 'n massiewe opskop waar Duitsers en besoekers die kans kry om tradisionele kleredrag aan te trek. Die mans trek hul lederhosen aan en ons dames ons dirndls. Ek sien baie uit na die geleentheid.

Mooiste plek daar en waarom?

München is 'n interessante stad met soveel mooi dinge om te sien, maar as ek nou moet kies, sal dit Marienplatz wees. Marienplatz is in die middel van baie attraksies in München geleë. Hier kan jy jou inkopies doen, die mooi Rathaus met sy Glockenspiel sien en hoor, die Viktualienmarkt, die bekende Hofbrauhaus, die Frauen en Peters kirche en die Englischer garten (waar ek gehoor het die mense lê naak in die son, maar nog nie gesien nie) besoek.
In Europa ry die meeste mense net fiets en sodra daar 'n sonstraaltjie in die lug is, klim almal op hul fietse en ry na hul gunsteling-plek in München.

Hoe is dit om te au pair? En is jy mal oor jou kinders?
In my geval is ek soos 'n oudste sussie vir my drie dogters, wat lekker kos vir hulle maak en hulle klere mooi stryk. Maar om 'n au pair te wees is 'n groot verantwoordelikheid, omdat die kinders na mens opkyk en doen wat jy doen!
Om te au pair is nie altyd so lekker soos aarbeie en room nie, maar die ondervinding en alles wat jy leer in 'n jaar kan niemand van jou wegvat nie. Jy sal verbaas wees hoe lief jy word vir 3 kinders na 6 maande. Ek word hartseer as ek aan 20 Desember dink wanneer ek terug huis toe vlieg.

Waarom het die familie net SA au pairs?
Die ouers het 10 jaar gelede besluit om 'n au pair te kry en het toe 'n Suid-Afrikaanse meisie vir 2 maande gehad as 'n proeflopie. Hulle was dadelik beïndruk met die goeie maniere en vriendelikheid van die Suid-Afrikaner. 'n Ouer wil net die beste hê vir sy kind en iemand wat 'n voorbeeld kan wees. Die Geier-familie wou ‘n paar meisies die geleentheid gee om die wêreld te verken en die beste tyd van hul lewe te kan hê. Daarom het hulle elke jaar ‘n nuwe Suid-Afrikaanse au pair.

Is jy ‘n bedrewe kok of moes jy maar leer toe jy daar aankom?

By die huis het ek altyd mooi fluks in die kombuis gehelp, maar hier het ek nie 'n keuse gehad as om 'n bedrewe kok te word nie! Ek kan al vir 'n paar jaar Duits praat, maar die Duitse resepte en bestanddele is maar vreemd, maar mens leer vinnig.

Sal jy die ondervinding vir ander meisies aanbeveel?
Beslis. Sover het ek die beste tyd van my lewe en is nie een dag spyt dat ek na München gekom het nie!