Ek kon hom gewaarsku het (maar hy sou tog nie luister nie, die liefde het dik geloop) dat Wilma die moederlike tipe is en dat hy in sy laat veertigsweer gaan pa word.

Hy het sy lot met blydskap aanvaar en Lucca is ’n jaar of wat later gebore. Ons almal was beangs omdat daar komplikasies tydens die swangerskap was en dit daarom ’n premature geboorte was. Ek onthou die skok toe ek die een-kilogram-bondeltjie broosheid die eerste keer deur die waakeenheid se venster aanskou het. Maar Lucca het vasgebyt en met sy vriendelike gesiggie baie gou seker gemaak dat almal meen hy is die belangrikste persoon op planeet aarde.

’n Jaar later neem ons die langpad Stellenbosch toe vir sy eerste verjaardag. Daar aangekom, wonder ek of ons nie vir die verkeerde geleentheid opgedaag het nie. Tussen die twee sussies en skoonma word daar projekbeplanning gedoen asof Barack Obama die Saterdag gaan opdaag. Gastelyse. Geregte. Koeke en terte, sop en pasteie, broodjies en vleise, koeldranke en wyne, 20 geregte om 20 ander disse vooraf te gaan en 20 ander op te volg. Versierings by die hek, teen die plafon, op die tafel, teen die mure, op die TV, teen die ruite. Ek voel asof ek nog nooit in my lewe by ’n kinderpartytjie was nie en oorweeg dit om die Guinness-mense te bel oor die rekord wat ek besig is om te aanskou.

En dan begin die gaste opdaag. Ek wonder nou nog of Stellenbosch se ekonomie al herstel het, want daar kon sweerlik nie ’n siel op die dorp oorgebly het nie. Almal was by die partytjie. Later verskoon ek my vir ’n wyle – die skares raak oorweldigend en ek gaan soek stilte in die verlate strate van die dorp. Net om ná ’n paar uur terug te kom en uit te vind dat ek verkeerd was, dit was net die helfte van die dorp, die ander helfte het intussen opgedaag.

En so, terwyl kindertjies onderhandel oor suigstokkies en roomyse, dink ek aan die krag van ’n mamma se liefde. Wie in die heelal sal hierdie klein eenjarige van sy ma kan wegneem? En ek herinner my aan Jesaja wat gesê het: “Kan ’n vrou haar suigeling vergeet, dat sy haar nie ontferm oor die seun van haar skoot nie? Ofskoon hulle sou vergeet, notans sal Ék jou nie vergeet nie!"