Geen wonder nie dat sommige mense hulle wend tot die winkels vir ’n bietjie terapie wanneer die druk te veel raak of wanneer dinge net te vaal en trietsig begin lyk. En as jy nog boonop ’n versamelaarstreep het, soos wat ek dit het, is die winkels se uitnodiging ’n winkende lafenis wanneer ’n maand sy kleur begin verloor.

Knipmesse, visstokke, drafskoene, tange, hamers, bore, boeke ... Elke pandjieswinkel word ’n apteek, elke skoenwinkel ’n spreekkamer.

Maar dan kom daar weer dae dat geen nuwe broek of hemp hoegenaamd enige bekoring inhou nie. Trouens, ’n nuwe ding kan meestal nie vir my beteken wat ’n jare lange, getroue gunsteling kan nie. Daar is klere wat ek al so deurgedra het dat sekere mense in die huis dit skelm weggegooi het sonder dat ek die geleentheid gehad het om afskeid te neem. Ek weet nie of die vroulike spesie verstaan hoe ’n ou hemp of ’n paar visvangskoene deel van ’n man se karakter kan word nie.

En ’n mens se karakter gooi jy nie sommer weg nie.

Ek dink dis een van daardie nederige seëninge van ons aardse bestaan dat iets wat tasbaar is soms ’n lafenis kan wees in die ontasbare wêreld van die siel. ’n Ou warm baadjie of die klein luukse om ’n stukkie sjokolade op ’n onweersdag te kan koop is ’n gawe van bo. Natuurlik lê die hebsugtigheid vir ons almal en loer, en kan ’n kopery en versamelry om die gemoed te dokter verkeerd begin loop. Gelukkig is die mens wat weet watter klein dingetjies sy dag of week nodig het om oor die vaalheidsdrempel te kan kom.

En dan is daar die antieke wysheid van die profeet Jesaja, wat eeue gelede reeds geweet het dat mense soos ons nodig het om te koop. Die klerekas van die hart het iets nuuts nodig, en tog ook iets baie ouds.

Kom koop. Koop die dinge wat regtig die siel kan lawe. Koop sonder geld. Koop vrede. Koop vergifnis. Koop liefde. Want daar is ’n honger in die siel waarvoor geen winkel in hierdie wêreld die regte dinge kan verkoop nie. Kom koop dit by die groot uitverkoping van genade.

Die winkel is oop.