Dis amper die begin van ‘n nuwe jaar en ongelooflik hoe vinnig die tyd aangestap het.

Ook hier in Thailand is dit ‘n geskarrel, alhoewel hul kalender 543 jaar ouer is as die Westerse kalender. In die Westerse wêreld sien almal uit na 1 Januarie, terwyl Thailand se Nuwe Jaar eintlik van 13 tot 15 April gevier word en bekend staan as Songkran. Dit word regoor die land gevier, selfs in die suide wat meer die Moslem-kalender volg. Die bekendste feesvieringe word egter in Chiang Mai gehou waar daar vir ses dae, of selfs langer fees gevier word. Mense staan die strate vol met emmers water om mekaar, en selfs verbygangers, nat te gooi.

Gedurende dié tyd gaan die meeste mense ook na die tempels om te bid en kos aan die monnikke gee. Die Boedha-beelde wat in hul huishoudings is, sal dan gedurende die tyd met water wat blomgeur- of ander Thai-olies bevat, saggies skoongewas word. Dit word gedoen sodat die nuwe jaar vir elkeen geluk en voorspoed sal bring en om alle ongeluk weg te was. Dis ook die tyd vir nuwejaarsvoorneme en die huise word deeglik skoongemaak. 

Die gooi van water was eintlik bedoel om respek aan ander te betoon deur die water wat oor die Boedhabeelde gegooi is, weer op te vang en dit dan liggies op familielede se skouers te gooi, aangesien hulle glo dit 'heilige' water is. Maar die jonger geslag wat nie so tradisievas is nie gebruik water om mense nat te gooi om hulle af te koel aangesien die fees gedurende Thailand se warmste maand gevier word met temperature van oor die 40 grade Celcius.

5 Desember was ons Koning Bhumibol Adulyadej se 84ste verjaardagherdenking en dit is dan ook ‘n openbare vakansiedag. Sy naam beteken ‘krag van die land’ en hy is Thailand se langsregerende monarg, ook ter wêreld. Die Thai’s respekteer hom baie en waardeer wat hy vir sy land en volk gedoen het. 

Ek was bevoorreg om die feesvieringe hier in Kui Buri te kon bywoon. Reeds in November is begin om liggies en honderde landsvlaggies en ook vlaggies van die Koning in die dorp op te hang, wat kleurryk in die wind wapper. Blou, wit en rooi, die kleure van die Thai-vlag, en geel, die kleur van die Koning se vlag.

Elke dag van die week het ‘n ander kleur en mense trek ook baie keer volgens daardie dag se kleur aan. Dit staan bekend as ‘Die Koning se Kleure’.  Omdat die Koning op ‘n Maandag gebore is, is sy vlag dus geel. Elke ander lid van die Koningshuis het ‘n ander kleur vlag afhangende van die dag waarop hy/sy gebore is. So is Sondag rooi, Maandag geel (gelukkig nie blou nie!), Dinsdag pienk, Woensdag groen, Donderdag oranje, Vrydag blou en Saterdag pers.

In die Ooste word pienk klere vir babaseuntjies aangetrek en blou vir dogtertjies, net die teenoorgestelde as in Suid-Afrika en elders.

Ek groet met 'n kleurryke groet. Mag 2012 ook vir elkeen van julle geluk en voorspoed bring.