Ons het gaan loer na die komende somer se mode-kleurpalet en dis duidelik dat kleur nie 'n inkennige tiener is dié somer nie.

Bekende ontwerpers, onder wie Prada, DKNY, Haider Ackermann en Fendi, se nuutste reekse is kleurryke meesterwerke. Die gewildste kleure is skakerings van helderbloue en -oranjes. Die ontwerper Jil Sander het ook gewys dat swart en helder kleure mekaar goed komplementeer.

Wees dus slim en hou kleur in gedagte wanneer jy nog 'n laaste paar winter-inkopies doen. Dalk is dit 'n koel genoeg item of bykomstigheid wat vir die somer 'n belegging kan wees!