Is dit nie die verskriklikste ding nie? Wil jy nie net gek word elke keer as dit gebeur nie? Jy is in die middel van die dansvloer. Om en om sweef jy in die arms van jou prins, sy groot hand vou om jou dun middeltjie, sy pikswart kuif hang gevaarlik oor sy voorkop. Jy is duiselig van al die sjampanje en opwinding, jy kyk in sy donker oë, jy rus jou kop teen sy skouer, dan sien jy die twee vingers teen die muur, dis amper middernag.

Jy groet nie, jy ruk los uit sy arms, met bonsende lokke storm jy deur die lang glasdeure, deur die marmersaal, oor die terras, af met die trap. Jy verloor jou skoen maar daar is nie tyd vir omdraai nie. In die laning wag jou koets, glinsterend in die maanlig. Dis nog net ’n paar tree, jy’s amper daar, en dan, poef! Dis net jy, een plat skoen en ’n pampoen. Dis ’n groot pampoen, ’n helderkleurige, spekvet, ryp, vlesige, ronde ding met diep, eweredige kepe en ’n stewige stingel, maar dit bly ’n pampoen.

Iewers in die verlede, in die begin van alle geskiedenis, toe feëverhale eers uitgedink moes word voor dit oorvertel kon word, tóé reeds is daar besluit dat die lelikste, hartseerste, armoedigste, teleurstellendste ding op aarde net ’n pampoen kon wees. En dis waar ek en Aspoestertjie in wese verskil, want ek kies enige dag ’n welgeskape pampoen bo ’n koets.

Waar het dit alles begin? Hoekom is die wêreld so lelik met sy pampoene? Selfs tydens ’n poging tot moord kies Sneeuwitjie se stiefma ’n appel. ’n Pampoen sou baie meer gif kon vat. Wanneer ons iemand wil slegsê, skree ons “Jou pampoen!” As ons wil grootpraat, sê ons “Wie skrik vir koue pampoen?” As iemand ’n skrikwekkende lantern wil uitkerf, word ’n pampoen gebruik! Heelwat internasionale kookboeke praat van pampoen as “hierdie ongewilde groentesoort”, ander omvattende kosboeke raak nie eens aan hierdie stomme bestanddeel nie. In sekere ontwikkelde lande word pampoen eers sedert die tagtigerjare (dis 20 jaar gelede!) kommersieël gekweek.

Sover dit veelsydigheid aangaan, het pampoen geen gelyke nie. Dit word gebruik vir die maak van sop, sous, soufflé, pasta, gnocchi, risotto, bredie, roerbraai, pureé, slaai, brood, koek, plaatkoekies, kaaskoek, pastei, tert, warm en koue poeding, konfyt en blatjang. Feitlik elke deel van die pampoenplant is eetbaar. In sekere lande word die blare met ’n sterk mengsel speserye en kruie voorberei as ’n bredie.

Die blomme word in deeg gedoop en in olie gebraai, en in sekere kulture word die blomme eers gevul met ’n mengsel kase. Reg voorberei is die skil van heelparty pampoensoorte ook eetbaar. Wêreldwyd word die voedingswaarde en gesondheidsvoordele van die pitte besing. Buiten die heerlike smaak van gedroogde en gebraaide pampoenpitte is hulle ’n bron van magnesium, yster, sink en proteïene. Die gesonde vesel, vette en minerale dra by tot die beheer van cholesterol, die anti-inflammatoriese kwaliteite versag die simptome van artritis, terwyl pampoenpit-olie aanbeveel word vir die gesondheid van bene en die prostaat by ouer mans.

Vir my gaan dit uiteindelik oor die smaak. Gebak, gekook, gestoom, gerooster, gebraai, soet, sout of sonder inmenging bly dit een van my gunsteling-smake. Die reuk van my ouma se pampoenkoekies bly een van my eerste en aangenaamste herinneringe aan hierdie planeet, my vriendin se bose skepping van oondgebraaide pampoen met botter, room, heuning en kaneel sal ek nie weier tydens die strengste dieet nie en ’n vuurwarm bakplaat vol repe swartgebraaide pampoen met growwe seesout en rooirissiekonfyt verskyn gereeld voor my gaste. Verdere saligheid: ’n heel pampoen, gevul met bruinrys, neute en knoffel, vir ure gebak in die oond, of fyn pampoen met knoffel, gekaramelliseerde uie, gebraaide dennepitte, parmesaan-kaas en baie swartpeper.

Gaan soek asseblief ’n pampoen, nie ’n supermarksakkie vol blokkies gekerf deur ’n vreemdeling nie, ’n vetgat, sexy, spoegblink knewel met ’n oranje pens vol pitte. Sit hom op die dak, voor die deur, in die spens, langs die bed, op die tafel. Hê hom lief en voer hom vir jou mense.