My groot studenteliefde het my skielik ná 20 jaar gekontak. Hy is onlangs geskei en sê hy dink baie aan my. Ek is so opgewonde. Is ek ontrou aanmyman as ek hom vir koffie ontmoet? Of is ek maar net verveeld en moeg vir die roetine en effense sleur van ons huwelik en kinders grootmaak? Ons is al vyftien jaar getroud. Ek het ’n goeie man, maar hy laat nie my hart so vinnig klop soos my groot liefde destyds nie. Sê nou iets ontwikkel hieruit? Moet ek die kans waag?

Tania Adams, lewensafrigter van Johannesburg se raad:

Hoe opwindend dat iemand jou opsoek wat jou hart vinniger laat klop het toe jy jonk, vol selfvertroue en sorgeloos was – dinge wat jy nie op die oomblik voel nie. Dit roep heerlike herinneringe op, maar bekyk ook die werklikheid.Watter aspek van jou huwelik verveel jou? Wat sal jou weer inspireer? Wil jy ’n minnaar buite jou huwelik hê, of wil jy eerder weer so lewendig voel in jou huidige lewe?

Herinneringe het dié risiko: Dis soms skeefgetrek, afhangend uit watter hoek jy dit bekyk. Hoe was jul verhouding werklik? Hy het jou lewendig laat voel en wat nog? Vra ook ’n vertroueling wat julle albei geken het, wat sy kan onthou van jul verhouding.

Soms gebeur sulke dinge nie om ons te versoek nie,maar om ons te herinner aan ’n aspek van ons waarvan ons al vergeet het, daardie deel wat jy eenkant toe geskuif het. Maar die passievolle vrou
wat daar was vóór verpligtinge, ma- en eggenoot-wees is net so ’n noodsaaklike deel van jou. Sy moet uiting kry.Watter klein veranderinge kan jy elke dag maak om haar weer te laat ontluik? Doen dit en sê tot siens aan voorspelbaarheid.

Truida Heymann sielkundige berader van Kaapstad se raad:

Baie huwelike voel effens saai ná jare van swoeg om die nes gebou en kos op die tafel te kry. Die meeste mense en huwelike het nou ’n “inspuiting” nodig. As dit nie gebeur nie, begin albei dalk droom van die passie van hul eerste liefde, en kort voor lank is daar internetkontak en geheime ontmoetings.

Daar’s niks so opwindends en potensieel passievol as “verbode vrugte”nie. Maar eintlik is dié versoeking ’n kans om jouself en jul huwelik te verryk.

Dink terug: Watter aspekte van jou eks maak jou opgewonde? Waaraan dink jy met warmte terug?

Dikwels fassineer iemand se eienskappe jou omdat jy dit graag self wil ontwikkel. Was dit sy inisiatief en daadkrag? Of lyk dit so aanloklik omdat jy van jou pligte kan wegbreek? Dalk moet jy nuwe, opwindende projekte aanpak. Onthou jy dalk die eerste passievolle weke, of dat hy jou eers so spesiaal laat voel het? Sou jou man dit kon regkry as jy hom vra?

Kan hy jou weer spesiaal laat voel? Ruim tyd in vir dieper gesels. Vertel jou man watter liefdestaal vir jou werk. Vra wat jy kan doen om sy hart aan te raak. Is dit woorde en komplimente?

Is dit aanraking en liefkosing? Is dit geskenkies, tyd saam? Of praktiese hulp? ’n Huwelik kan nuwe lewe kry as jy een keer per dag jou maat “bederf ”.

Albei moet natuurlik saamspeel. ’n Verlepte huwelik vind baat daarby as julle albei bly groei (oorweeg ’n paar terapie-sessies), as julle self steeds intellektueel ontwikkel, mekaar ruimte gee om dinge apart aan te pak, maar ook saam opwindende avonture beplan. Dis belangrik dat elke terloopse aanraking intimiteit en begeerlikheid bevorder.

Daar is ’n klein kans (sowat 5%) dat jul huwelik onherstelbaar verlep het, maar my ervaring as berader het my geleer mense idealiseer hul eks. Sowat 90% van die tyd sal dieselfde konflik of irritasies van destyds weer opduik.

Mense beweeg aan en ontgroei mekaar. Dis baie selde – hoewel seker nooit heeltemal uitgesluit nie – dat so ’n terugreik na ’n vergete verhouding lei tot langdurige geluk. Maar gebruik die ervaring om te groei – of jy gaan koffie drink of nie.Die meeste van die tyd gaan jy in elk geval ontnugter tuiskom.