Maar hier onder is daar dinge soos bure en verkeer en af en toe moet jy jouself red met ’n geordende klank of twee.

Só druk ek onlangs ’n knop in my motor, hopende om die twintig eerstejaars in die Golf langs my te verdoof. Dis ’n program oor besigheid en syfers en die omroeper gesels met die direkteur of opperhoof van een of ander massiewe maatskappy. Hulle gesels oor wêreldmarkte, aandele en nog ’n paar sieldodende onderwerpe. Ek probeer dink hoe dié twee sou lyk. Die omroeper lyk tien teen een soos ’n omroeper en die korporatiewe koning het heel moontlik grys slape en is geklee in ’n strepiesdas en een van sy peperduur identiese snyerspakke. Ek voel ’n hoofpyn nader kruip en wil net die knop draai, toe vra die omroeper hoe oud sy gas is.

Agt-en-dertig, sê die opperhoof.

Ek ry twee keer die sypaadjie raak en sluk na suurstof. Agt-en-dertig? Dis dan jonger as ek! Hoe kan hy ’n pak dra en oor wêreldmarkte gesels, dis mos vir ou mans met woedende oë en los nekvelle? Word hy nie gespanne nie? Sê nou die mark stort in duie of die aandeelhouers word kwaad? Is hy nie bang nie? Hy’s dan net agt-en-dertig!

Skielik hang my hele prentjie skeef. Woon ek in ’n wêreld waar die groot magte en besluitnemers nog bloedjonk is? Word ons dan nie regeer en beheer deur horingou wyse wesens wat iewers in geheime vertrekke diep gedagtes kry en dinge optower wat ons gewone lot nie eens durf aan dink nie? Waar kry al die jong rammetjies die dapperheid om koning te speel en ryk te word en suksesvol te wees? Gebeur dit nie net in die sportwêreld nie?

Of is daar fout met my? Dít wonder ek elke aand wanneer ek in my kleedkamer sit en probeer om my hand stil genoeg te hou om ’n oogpotlood raak te vat. Ná sestien jaar op die verhoog sou ’n mens dink dat jy dinge begin gewoond raak, dat jy sal ontspan, dat jy die gevare van jou loopbaan sou ken en misloop. Hoekom dan, word ek nog steeds lam van vrees as die verhoogbestuur kom sê dis tyd? Hoekom wil ek elke liewe aand weghardloop as die orkes die eerste note loslaat? Hoekom word ek nog steeds mal van spanning wanneer ek weet die koerante is op straat en my lot word al weer beklink?

Daar is baie redes. Vrees is alomteenwoordig in hierdie wêreld. Ons word kleintyd bang gemaak met stories en spoke en skaduwees. Ons is bang vir die groot kinders verder af in die straat. Ons bewe van vrees as Pa by die huis kom en ons weet ons het skeefgetrap. Ons is doodbang in die klaskamer. Ons is bang op kantoor. Ons is bang in verhoudings. Ons is bang vir verwerping, ’n skewe woord, ’n vuil kyk.

Ek moet eerlik wonder hoeveel van my sogenaamde suksesse of mylpale is behaal uit vreugde of oorgawe of ’n werklike behoefte om te presteer. Hoeveel projekte is bloot gedryf deur vrees vir ’n onderwyser, familie, ’n dosent, ’n regisseur, ’n werkgewer of ’n joernalis. En waarvoor is ek eintlik bang? Om ’n fout te maak? Ek doen dit dan heeldag en ek is nog steeds hier.

Maar ek bly bang om soos ’n gek te lyk, want ek verstaan nou nog nie hoe werk ’n kitsbank, of my selfoon of banksake op die Internet nie. Ek verstaan nie winkelsentrums se parkeerterreine nie en ek soek elke keer natgesweet na die uitgang, doodbang die blonde vrou in die 4x4 loop lê op haar toeter.

En die sakeman oor die radio, is hy vreesloos of is die snyerspak net so ’n goeie skans dat ons nooit die benoude man raaksien nie? Dalk sluk hy ook skelm ’n pilletjie vir die kol op sy maag en bid hy word nie ook een van die statistieke tussen al die vroeë hartaanvalle en hartomleidings nie.

Hulle sê liefde laat die wêreld draai. Of geld. Ek dink dis vrees. As iemand ons net kleintyd wou vertel dis so onnodig, sou ons dit dalk nou al geglo het.