En behalwe hulle, wemel die strate van Johannesburg van bedelaars: Hier’s een met ’n blinde aan die arm, daar dra een ’n kleintjie tussen die rook deur met ’n “No Job” tussen stormende karre by verkeersligte. Hier tik een aan jou ruit om iets te verkoop, daar skud ’n kreupele ’n blikkie. Soms gee ek iets. Soms nie.

Dit laat my dink aan my eerste besoek doerie jare aan Nabloes in Samaria, glo die Bybelse Sigar, waar hulle jou ’n diep put wys waar Jesus met die Samaritaanse vrou sou gesels en gesê het: “God is Gees, en almal wat Hom aanbid, moet Hom in Gees en in waarheid aanbid.” Geweldige woorde wat vandag nog in ’n waas van ’n mistieke wolk gehul is.

Maar hierdie Nabloes ... naby die put het ’n paar melaatse bedelaars gesit en hul blikkies geskud. Dit was vir my ’n kultuurskok: Nommer een het ek nog nooit melaatses gesien nie en nommer twee sou ek verwag het dat hulle in ’n inrigting versorg moes word. Toe ek die gids daaroor vra, het hy sy skouers opgetrek en gesê: “Dalk wou Allah dit so gehad het.” Dalk was hy maar net soos ek deesdae by Johannesburg se verkeersligte wanneer die bedelaars op my toesak.

Nou volg ek maar my hart: As ek geroer word, iewers hier binne, deur enigiemand, gee ek. Anders ry ek verby. Ek lees immers nêrens dat Jesus vir alle armes van sy tyd geld uitgedeel het nie. Maar ek wonder wat my ma sou gesê het. Sy was ’n bobaas-kollektant, ’n kampioen met haar kollektebussies en -lyste, met haar naam altyd onder die heel boonste paar op die Paarl Post-lys van die meeste ingesamel. Dit was vir die ACVV en kerk, vir komberse vir armes, vir die sogenaamde Opelugfonds om kinders strand toe te stuur vir vakansie, vir einste melaatses, vir kospakkies met Kersfees, vir weeshuise, vir verblyf vir daklose Afrikaanse meisies wat van die platteland in die stad of groter dorpe kom werk het, vir tehuise vir bejaardes. Dit was oorlog en ná die oorlog, maer jare van rantsoenering, en talle Afrikaners was arm en (veral kinders) honger. Min mense onthou dit.

Ma se kollekteerdery was ’ n dubbele aanvalsplan: Vir elke kollekte het sy twee lyste of bussies gehad, een waarmee sy aand ná aand van huis tot huis vrou-alleen in haar wyke geloop het (kan ’ n mens dit vandag glo?), en ’n ander waarmee sy Saterdae by die poskantoor op die hoek gestaan het, wind en weer. Sy het nie agter mense aan geskree nie en geen kommissie geneem nie.

Ek het soms die indruk gekry dat die kollekteerdery ’n ander vorm van kuier is, want meesal is sy gul by huise ingenooi. Die Paarl was immers ’n plek van styl en die mense gasvry. (Veral as jy ’n “ou inwoner” was!) Maar daar was die suiniges ook, soos een ryke wat haar suur gevra het wanneer hy eendag ’n kombers van die ACVV sou kry. Sy het snydend geantwoord dat hy sy grondkombers, menende sy graf, verniet kon kry. Hy het haar ’n sikspens (5 sent) gegee. Sy moes van beter geweet het, want daardie man was as jongeling eendag saam met my pa Kaap toe en het die hele dag niks uitgegee nie. Sy pa het hom die oggend tien sjielings (R1) gegee en hom gesê as hy die aand die tien sjielings “ongebreek” terugbring, kry hy nog tien sjielings! Hy het op Pa ge- sponge.

Ek sien Ma nou nog staan met haar bussie in wind en weer. Ek sien haar loop en by die huise in- en uitgaan, trap op en trap af. Soms is vir haar ’n droë sjerrie geskink, of tee. Soms meer sjerrie as tee, sodat sy met ’n rooierige gesig en baie vrolik tuis gekom het. Ek weet sy het elke oomblik geniet. Sy het aan ’n hartkwaal gely, maar daardie hart het met liefde geklop.

Maar Ma, wat doen ek vandag met jou hedendaagse “kollegas”?