Onthou, dit het haar lank geneem om te besluit tussen ’n langbroek of rok, bloes of T-hemp, die bloue of die rooie. Die minste wat jy kan doen, is om dit raak te sien.

“Daardie T-hemp pas jou uitstékend!” (Versigtig nou, kyk haar in die oë as jy dit sê.) “Dit beklemtoon jou mooi oë.”

Dis net dat min vroue weet hoe om ’n kompliment met grasie - en ’n eenvoudige dankie - te aanvaar. “Hou jy rêrig daarvan om aan my boude te vat?” Of: “Ag, dié romp is stokoud.”

Wat heeltemal waar kan wees, want is ál die klere in haar kas dan nie altyd stokoud nie? Dit kan ook wees dat sy gewig verloor het en nou weer in daardie romp of langbroek pas.

“Ek sien jy’t gewig verloor.” Voeg dan by: “En jy lyk fantasties!”

Ag, sal sy sê asof dit niks is, maar binne-in sal sy borrel en bruis, sy’s sommer lus en bederf haarself met ’n melkskommel. “En ek’t nie eens geweet jy’s op ’n dieet nie. Hoe het jy dit reggekry?”

Sy’t bloot die geheim ontdek van gewig verloor: Moet nooit vir iemand sê jy’s op ’n dieet nie. Dan het almal iets te sê en raad te gee en simpatie, en hoe meer simpatie en raad, hoe meer sukkel sy. Dra die las (ekstra gewig?) liewer alleen in jou binnekamer. Tot almal op ’n dag agterkom die helfte van jou is weg - en jy kry volpunte omdat jy dit ook raakgesien het.

“Jy’s glad nie so onoplettend soos ek gedink het nie.” (Dis nie ’n kompliment vir jou nie, dis net ’n opmerking.)

“Ek hou van intelligente vroue soos jy.”

Moet net nie sê sy het ’n mooi persoonlikheid nie. Sy sal dadelik dink: Wat’s dan verkeerd met my lyf?

“Mmm, jy laat my dink aan ’n pizza.”

Hû? sal sy dink, omdat ek so plat of so rond is? Nee. “Omdat jy so oulik is, ek wil jou sommer opeet! En jy maak die beste hoenderpastei in die Weste. Jou frikkadelle smaak lekkerder as jou ma s’n.” Die volgende oggend kry jy ontbyt in die bed.

Moet net nie oordryf nie (soos dat sy kwansuis beter sou kook as Jamie Oliver). Sy sal dink jy sê dit net omdat jy iets van haar wil hê. Oordrywing is uit, maar om pleinweg te jok is blykbaar in orde: Navorsing deur ’n vrouetydskrif (She) het gewys mans is veronderstel om te jok, trouens, dit word van jou verwag.

Veral oor twee goed. 1. Op die vraag: “Dink jy ek is vet?” (Nooit! Dis dan so lekker om aan jou te vat.) En 2. “Lyk my boude groot in dié rok?” (Nooit gesien nie! Ek wil net nóg vat.) Om die waarheid te sê, vroue (98% van hulle) jok vir hulsélf ook oor twee goed: 1. Oor hul gewig en 2. Hoeveel hulle eet: “Het jy daardie hele bak roomys opgeëet?” (Nee, daar was net ’n bietjie in.)

Onafhanklike navorsing by SARIE het getoon die volgende diverse komplimente werk goed vir enige vrou (beperk dit net tot jou eie vrou):

• “Jy laat my lag.”
• “Jy ruik so lekker, kom ons gaan koop vir jou nog van daai parfuum.”
• “Jou vel voel so sag.”
• “Nooit! Jy lyk niks ouer as 30 nie.”
• “Jy’s nie rêrig so vol nonsens soos jou vorige kêrel gesê het nie.”

Maar die grootste kompliment vir enige vrou lê in net drie woorde: “JY IS MOOI.” Onthou net, voeg by: “En báie sexy.” (“Sexy” is die kersie op die koek. As ’t ware.)

Vir ’n man is daar net een kompliment, mans is mos maar basies. Dit is: “Jy’t sulke sterk arms.” Dan kom daar ’n swakte oor jou soos klei, as sy byvoeg: “O, hou my vas!”

Jy sê nee, jy kan nie nou nie, jy gaan eers gou blomme koop.