As jy deur die boek blaai, sal jy sien dis spesiaal saamgestel vir mense wat in die buitelug kook. Johan Badenhorst is ’n ou hand wanneer dit by reis kom. Hy en sy Voetspore-span deurkruis Afrika en maak dokumentêre programme daaroor vir ons wat van die rusbank af saam reis. Hy het al baie lesse geleer oor wat werk in die veld, en wat nie. Natuurlik sluit dit kosmaak in. Volgens hom begin alles by goeie beplanning en daarom deel hy sy advies daaroor in Voetspore 2 (Human & Rousseau, R210). Dit sluit in watter tipe bestanddele, kookware en eetgerei moet saam moet gaan. Hy deel praktiese wenke en beplanningslyste wat jou lewe op safari makliker sal maak. Die res van die boek is gepak met resepte wat hy en sy vrou, Alma saamgestel het. Alle resepte dui voorbereidingstyd aan, maar sê ook hoe lank dit gaan neem om gaar te word.

voetspore 2Vir wie het jy hierdie kookboek saamgestel?

Dis gemik op mense wat gaan kamp en kos in die buitelug maak. Dis ’n safarikookboek met resepte wat jy op ’n vuur of op ’n gasstoof kan gaarmaak. Dis relatiewe eenvoudige resepte, want mens kan nie net elke aand braai nie. Jy moet darem ’n verskeidenheid hê van dit wat jy kan maak en dit gaan ook oor bestanddele wat beskikbaar is. Wat hierdie kookboek anders maak as die vorige een is daar is ’n hele klompie resepte in wat uit Afrika kom, resepte uit Marokko, Kenia en Uganda. As jy so lank op reis is soos ons, kan jy nie alles saamvat van die huis af nie. Belangrik is om jou spice box saam te vat, maar dan moet jy kyk watter bestanddele kry jy daar waar jy op reis is. Dis nie net lekker om Afrika te sien en te beleef nie, maar ook om dit te proe.

Ek sien jy verklap in die voorwoord dat jou vrou, Alma help met die resepte.

Alma speel ’n baie belangrike rol in die samestelling van ons safariresepte. Sy doen geweldig baie navorsing en daaruit is hierdie kookboek tot ’n groot mate saamgestel. Ek pak bestanddele in wat ek weet wat aanwendbaar is daar waar ons gaan. Ek het al vier of vyf boeke wat Alma vir my saamgestel het met resepte wat sy uitknip of van die internet gekry het. Sy sal sy vreemde resepte uit ’n land eers keur sodat dit darem nie heeltemal vreemd vir ons palet sal wees nie. Dis ’n praktiese ding wat vir ons werk. As jy in Ethiopië kom, vind jy hulle eet alles met injera wat ’n suur pannekoek is wat van tef gemaak is. Dis ’n moeilike ding om te maak. In Ethiopië is injera-huise waar dit gemaak word, want die deeg moet lank rys en dan gebak word. Dis nie iets wat ons self sal maak nie. Ons sal dit daar eet, maar ek het nie ’n injeraresep in my boek nie. Afrika se cuisine is relatief eenvoudig. Mens vind in Oos-Afrika baie Indiese invloed, baie kerries en so aan. As jy weer oorgaan na die ander kant toe, miskien in die Franssprekende gedeeltes, is daar bietjie van ’n Franse invloed met baie uie wat gebruik word.

Jou beste wenk rakende potte en panne vir mense wat meer onervare is wat op so reis wil gaan?

Hou dit so eenvoudig as moontlik. Sorg dat jy ’n gietysterpot het, maar sorg dat jy brood daarin kan bak. ’n Ronde driebeenpot is nie ideaal nie, want jy kan nie ’n brood daaruit gooi nie. Jy kan potjie in ‘n platboompot maak. Jy moet die regte, basiese goed inpak. In die boek maak ons melding van jou beplanning en watter tipe goed jy moet regkry voordat jy op reis gaan. Jy kan natuurlik die hele kombuis inpak as jy wil. Ons het dit self vroeër jare gedoen. Ons het sleepwaens saamgesleep met ’n spul onnodige goeters. Ons raak al hoe meer eenvoudig met dit wat ons saamneem. Jy het net drie of vier potte nodig. ’n Pot met ’n lang steel is handig as jy op ’n vuur wil kosmaak. Dan vat ons sweishandskoene (wat jy by enige hardewarewinkel koop) saam, sodat jy die ysterpot van die vuur af kan haal. Dis vuurbestand.

Julle het selfs ’n afdeling met soetgoedjies en nagereg in die boek. Gewoonlik moet mens vreeslik akkuraat afmeet en weeg wanneer daar soetgoed ter sprake is. Hoe lyk hierdie resepte in jou boek?

Ons het goed soos perske flambé. Dit lyk fantasties, maar dis relatief eenvoudig. Hier gaan dit nie oor fyn kookwerk nie. Dis basiese en smaaklike kookwerk. Neem Francois se legendariese kaaskoek. Dis so eenvoudig, maar heerlik. Mense maak dit nou al by die huis. Hulle sê as die klokkie by die voordeur lui en jy verwelkom die gaste wat jy nie verwag het nie, dan spring jou vrou in die kombuis in en voor jy almal klaar gegroet het, is die kaaskoek klaar gemaak. Dis een van die lekkerste kaaskoeke wat daar is, basiese eenvoudige bestanddele en maklik om te maak.

Wat is vir jou die lekkerste tyd van die dag om te eet?

Aandete. Wanneer die son begin sak, is daar lekker baie tyd om bietjie te eksperimenteer met ’n paar goed. Nie net braai nie, dalk met ’n potjie wat drie of vier ure lank prut. Jy kan groente in ’n foeliepakkie maak en ietsie meer interessant daarmee maak. As jy vir ’n tydlank op ’n plek staan, dan is dit lekker om ’n behoorlike brunch te maak so by tienuur, elfuur soggens. Kook is amper net so deel van safari as wat wildkyk is of om ’n kar uit die modder te sleep. Ons is nie sjefs nie, ons is net kokke. Ons maak kos gaar, maar juis daarom maak die bietjie innovering saak.

Houtvuur of gas?

Eerste prys is altyd hout, maar ons vat altyd houtskool saam. Partykeer kom jy in die woestyn en dan is daar nie hout nie. As ons nie hout kan maak langs die pad nie, dan gebruik ons houtskool. Ons koop ook houtskool in Afrika. Ons hou van dié houtskool, want dis substansieel. Jy braai daarop en as jy klaar is gooi jy dit nat en more gebruik jy dit weer, want dit word van harde hout gemaak. Gas is ’n goeie alternatief as dit reën. Eintlik braai jy net op gas as jy op die vierde verdieping van ’n woonstelblok woon.

Gunsteling gereg in die boek?

’n Hele klompie. Ek hou baie van wildsvleis en die koedoe fillet resep is ’n gunsteling. Die suurroom boerewors is ook vir my lekker. Ek hou van Spaanse rys as bykos. Dan is Nasi Goreng een van my absolute gunstelinge. In hierdie gereg bring ’n klein bietjie hoender jou baie ver. Dis baie geurig en as jy dit eers een keer gemaak het, sal jy dit weer en weer maak.