Dis nie net die skoene wat sy koop en nooit dra nie (haar beskeie bydrae tot wasteful consumption). Dis anner goed ook, en êrens is daar ’n man wat sê: “Jy’t alweer onnodig geld uitgegee.”
Daardie blompot, sy kon dit nie weerstaan nie - kyk hoe mooi is die vorm. Dit beland by die ander mooi, onweerstaanbare blompotte in die kas, want waar ’n blompot in dié huis kan staan, daar staan reeds een. Saans is die hele huis vol koolsuurgas (maar die blomme lyk darem mooi).
“Het ons nie al genoeg snippermandjies nie?” vra jy.
“Dié een is nogal slim gemaak,” sê sy. “Kyk, van tarentaalvere en ystervarkpenne. Dis so ... Afrika.”
Die snippermandjie word ’n gerieflike houer vir rolle en rolle Kersgekenkpapier. (Elke Kersfees koop sy sommer vir volgende Kersfees ook, maar vanjaar sal daar weer mooier papier as verlede jaar wees.)
Daardie draad-takbok, julle het al ’n draad-takbok. Daardie houtmannetjie, julle het al ’n houtmannetjie. Daardie lampskerm, julle het al ’n lampskerm. Daardie kussing, julle het al ’n kussing.
Foto-raampies, julle hét. Plekmatjies, genoeg vir ’n kerkbasaar.
Kerse, genoeg vir ’n tienjaar-kragonderbreking en voortslepende romanse.
En elke nuwe throw vir die sitkamerbank, dit gooi jou elke keer. Sy’t lanklaas sulke mooi lap gesien ... sê nou sy sien nooit weer sulke mooi lap nie?
En laprose in ’n plat boksie tot dit uit die mode gaan. Van die boksies op sigself het sy baie. “Mens kan altyd iets daarin sit.” (Soos ’n laproos?) En al sit mens nie iets daarin nie, dit lyk mooi. Mens kan dit altyd vir iemand present gee. Party boksies pas binne-in ’n ander boksie, binne-in nog ’n boksie, mens sien in elk geval net die buitenste boksie. Dis so ... Russies.
Dit was afgemerk.
O, die aantrekkingskrag van ’n afslagkoepon van R2. Dit wink haar nader van ver. O, en daardie twee-vir-die-prys-van-een. Al het sy nie een nodig nie, nou sit sy met twee. (“Dit was so belaglik goedkoop.”) Of koop een en kry ’n naelvyltjie verniet, dit vang haar elke keer.
“’n Bargain,” meen sy.
Winskopie is die woord, sê jy. Jy oorweeg dit om te verduidelik hoe ’n winskopie werk. ’n Winskopie is net ’n winskopie, begin jy, as jy die ding in die eerste plek nodig ... aag, los dit maar.
“En dié fraai klein seepbakkie, daar’s ’n tarentaal op, dit pas by die snippermandjie.” Tarentale is uit, sê jy. Die seepbakkie gaan in elk geval by die ander fraai klein seepbakkies in die kassie ónder die wasbak beland.
By die maskara, wat droog geword het ( “ek weet nie hoekom ek dit gekoop het nie, ek dra nooit sulke donker maskara nie”) en die lipstiffie en naelpolitoer, wat sy een keer gebruik het toe’s die kleur ook nie reg nie, en die handeroom wat sy uitprobeer het, toe maak dit haar vel skurf.
In die kombuis is sy baie in haar skik met die nuwe Tupperware-bakkie (nóg een?). Want mens kry dit altyd nodig. Sy hou dit langs die kruiepotjies, ’n oormag kleur en geur in gelid. Die meeste raak nooit op nie, want sy’t dit nog nooit oopgemaak nie. Vir sommige, is jy seker, bestaan daar nie eens geregte om te geur nie.
Eenkeer moes jy keer toe sy al die kombuiskassies se handvatsels wou vervang. Sy was “moeg vir die ou knoppies”, vlekvryestaal-knoppies sou buitendien mooier lyk en beter pas by die eetgerei.
Onthou daardie babbelende TV-advertensies vir kombuis-goetertjies soos messe wat nooit stomp word nie? Bel nóú en betaal minder! (Jy’t eenkeer self gebel vir ’n aartappelskillertjie, toe sien jy net die volgende dag dieselfde aartappelskillertjie - wat ook komkommer in patroontjies kan sny - teen die helfte van die prys.)
Jy’t vir haar aangesluit by die gym vir ’n jaar. Jy’t gedink dis ’n gesonde idee. Dit het jou ’n gym-sak ook gekos, toe gaan trap sy fiets, baie entoesiasties. Vir drie weke.
Hulle het navorsing hieroor in Australië gedoen. Volgens die verslag, “Wasteful Consumption in Australia”, gee huishoudings daar elke jaar $10,5 miljard(!) uit op goed wat hulle nie gebruik nie - kos wat hulle nie eet nie, CD’s waarna hulle nie luister nie, boeke wat hulle nie lees nie, klere en skoene wat hulle nie dra nie.
“Kyk,” sê sy. “Ek het vir my ietsie ...deurskynends gekoop. In swart. Dit pas by my stiletto’s.”
Mmm, sê jy. Dit lyk nogal na ’n bargain.