Ná agtien jaar se reise en foto's neem in Afrika publiseer Koos uiteindelik ‘n pragboek. Wanneer jy deur Moments of Grace blaai, is daar tonele wat jou asem wegslaan en jy kan nie help om jou te verlustig in die prag van die ongerepte landskappe nie. Dié versamelstuk bevat sy mooiste landskappe met inspirerende aanhalings. Die omslag is van fyn linne en dit word verpak in ‘n handgemaakte leersak. Ek het ‘n middag by Koos gaan tee drink om te gesels oor sy boek, sy lewe en sy toewyding aan fotografie - sy selfopgelegde lewenstaak.

Wie is Koos van der Lende?
Ek is ‘n Suid-Afrikaner met Nederlandse ouers. Hulle het ná die oorlog na SA gekom en ons is in 1971 terug Holland toe. In die 18 jaar in SA kon my ma nie regtig aanpas nie. Ná my diensplig in Nederland het ek in 1977 vir 10 maande deur SA kom toer. Toe het ek my eerste Olympus-filmkamera gekoop. Ek het toe ook twee maande in die ou Suidwes-Afrika en Rhodesië deurgebring en dit was heerlik om foto's te maak. Ek het tóé besef dis wat ek vir die res van my lewe wil doen en is terug Holland toe om aan die fotografieskool in Den Haag te studeer, vir 3 jaar. Daarna het ek 7 maande deur Europa gereis om tots iens te sê vir die kontinent. My hart het in Afrika gelê.
In 1983 het ek in SA aangekom met net my portefeulje foto's. Ek het ‘n plekkie gekry by iemand om te woon en het vir ‘n aantal maande op koerantpapier geslaap teen die koue van die betonvloer. Ek het geweet ek kan nie weer teruggaan Europa toe nie, maar moes dit laat werk hier. . . Ek het werk by ‘n kommersiële studio gekry en elke sent wat ek verdien het op fotografie-toerusting uitgegee.

Waar kom jou passie vir Afrika vandaan?
As ‘n onbeplande kind was my moeder nie gereed vir my nie en dit het tot baie verwerping gelei. Met haar eie onsekerhede en tekortkomings het ek as klein kind my reeds geestelik afgesny en beskerm teen nog meer seerkry. Jou denkpatroon word dan: Omdat mense jou seer maak, begin jy onttrek. En toe ek 15 jaar oud was, het ons Suid-Afrika verlaat. Toe ek 7 jaar later hier kom reis het en ek daardie eerste keer stoksielalleen in die woestyn gesit het met niemand wat na my kyk nie - dit was ongelooflik en groots. Dit wat eers ‘n nadeel was - die alleenheid en dat ek myself onttrek het - het die Here omgedraai en tot my voordeel gemaak sodat ek maande lank alleen in die veld kan werk. Afrika is nie soos Holland nie. Daar is alles gekontroleerd. Hier was nog ruimte om dinge te doen. En ek was vry. Ek het geweet die Here gaan my gebruik om Sy skepping aan mense te wys. Ek soek die wilde en onherbergsame areas uit, waar die natuur nog onbesoedel en onontwikkel is.

En jou fotografiese werk?
Ek het vir 18 jaar kommersiële fotografie gedoen, gereeld op die Seychelle gewerk, vliegtuie, hotelle, op plesierjagte en so aan. En dan het ek ook baie industriële fotografie gedoen. Dit was vir my lekker, want ek kon baie kreatief werk. Maar die bos het my maar altyd getrek en as ek ‘n tydjie vry gehad het, het ek veld toe ontsnap. Die veld was waar ek my kon ''nuut'' maak. Op een so 'n trippie in Namibië het ek agtergekom die 35mm-kamera-formaat werk nie meer vir my nie. Omdat die landskap in Namibië so wyd is, het ek ‘n formaat nodig gehad wat die uitgestrektheid kon vasvang sonder om te veel lug en voorgrond in te sluit, vandaar die keuse vir die grootformaat- panoramiese kamera. In 1992 is ek toe New York toe om vir my ‘n panorama-kamera te gaan koop en daarna het ek al hoe meer tyd in die bos deurgebring. Die draaipunt vir my het gekom in 2001. Ek moes springs in Springs gaan afneem en ek het besef ek gaan dit net doen vir die geld. Ek wou nooit voel ek werk net vir geld nie. Ek het toe ‘n brief vir die Here geskryf en gesê ek wil my passie uitleef - om sy skepping af te neem en Hom daardeur te loof. Ek moes toe op Hom vertrou dat my lewe so sal uitwerk.

Waar kry jy jou natuurtonele wat jy afneem?
Ek reis baie in die Oorgrens-parke. Ek het ‘n ooreenkoms met die Peace Parks Foundation dat ek vry toegang tot hul parke het en dat hulle dan van die foto's wat ek neem vir hulle eie bemarking kan gebruik. Hulle laat my toe om te ry en te loop waar ek wil. Vir my eie reise kry ek inspirasie uit artikels oor sekere gebiede. Ek wil nooit ‘n vaste reisplan uitwerk nie, sodoende kan ek so kreatief as moontlik rondbeweeg.

Vertel my van jou werkwyse.
Ek skiet altyd kleur en ek skiet nog steeds net op film. Die nuanses in die kleur van die natuur is vir my baie belangrik en ek kan dit net vaslê met film. Ek werk met reflektors in die veld om lig terug te kaats op my onderwerp en ek verf ook soms in met lig - dis ‘n miljoen kerslig-lamp waarmee sekere areas van die onderwerp belig word tydens lang beligtingstye in die aand. As ek by my huis vertrek, byvoorbeeld op reis na Angola, dan ry ek regdeur tot by my bestemming. Daar aangekom in die park sal ek stop en dan vir kilometers stap op soek na my toneel. As ek die regte toneel kry, visualiseer ek wat ek met die foto wil doen. Ek bly dan daar tot die weersomstandighede reg is. Ek sal die reflektorborde indra met staanders en daar los, terugstap om dan die fotografie-toerusting te gaan haal. So dra ek alles wat ek nodig het die veld in na die toneel wat ek gaan fotografeer. Ek wil geen voetspoor nalaat nie, daarom ry ek ook nie in die veld in nie, maar hou stil langs die pad.

Dit klink vir my na ‘n moeilike leefwyse.
Dis ‘n baie basiese leefstyl. Ek eet die eerste gedeelte van die reis altyd vars groente totdat die yskassie leeg is of die groente vrot geword het. Wanneer dit op is, is dit neute, tuna, muesli en pakkies slaai. Ek kook nooit in die veld nie.
Ek ry al my diesel en kos saam en soveel water moontlik, maar dit is nooit genoeg vir ‘n reis nie. Waar ek ook al water kan kry, sal ek die kanne opvul. Ek gebruik so tien liter water vir ‘n hele dag, dis vir drink en was. Ek werk lang ure, want ek wil die beste maak van die vroeë oggendlig en die aandlig.

Jou gunsteling-bestemming?
Die noordweste van Namibië, Kaokoland en dan die woestyn in Angola. Dis nie die beste fotografiese plek nie, maar ek het die stilte nodig. Dit praat met my.

Was jy al teleurgesteld met ‘n bestemming?
Ja, Zambië, Malawi en Mosambiek. Hoe armer ‘n land is, hoe meer leef mense van die grond af. Dit beteken dat daar dan min plekke in daardie lande is waar daar nie mense is nie. Ek wil nie mense sien op so 'n reis nie. My beplanning werk gewoonlik so, dat sekere mense weet, as ek teen ‘n spesifieke datum nie terug is nie, dan moet hulle my begin soek. Gelukkig het ek nou ‘n satellietfoon vir noodgevalle. Ek wil net kan konsentreer op my werk.

Vertel my van jou boek, Moments of Grace.
Dis 10 jaar se skiet en 7 jaar om die boek aan mekaar te sit. Ná my jare van in die veld werk, het ek nog nie eens ‘n duisend panorama-opnames nie. My werk kom ongelooflik moeilik en met baie moeite. Daarom het ek besluit ek wil die boek nie vir ‘n uitgewer gee nie, ek wil dit self uitgee. Ek maak net 1 000 eksemplare en mense wat belangstel kan dit op die web bestel. Die eerste 125 mense wat bestel, kry elkeen ‘n oorspronklike getekende afdruk op argiefpapier ter waarde van R7 500. Die boek sal dan met die geld gedruk word. Dit is die sogenoemde pre-print order en as dankie sê vir die belegging, ontvang hulle dan die oorspronklike kunswerk. My doel met die boek is om die vrede en samesyn met die Here in my werk oor te dra - die lig en perfeksie van sy skepping. Vir my manifesteer die invisible God in die boek. Die boek is werklik ‘n visuele reis deur Suider-Afrika.

Moments of Grace

Moments of Grace kan aanlyn bestel word of kyk by info@fingerprintcollection.co.za. Die boek kos R8 000. Die eerste 125 kopers ontvang ‘n getekende kunstenaars afdruk van ‘n landskap deur Koos van der Lende ter waarde van R7 500.