Terwyl hulle linte dra en krulkoppies het en speel-speel vir jou tee maak.

Terwyl klein dogtertjies doen waarvoor hulle gemaak is – vir pappas vra om nog net een storie, ná die vorige vyf, te vertel.

Terwyl hulle oor die hele wye wêreld, soos dit hoort, op hul pappas se skote aan die slaap raak. En veilig is. En klein. Dit gebeur terwyl jou eie dogtertjie nog een van hulle is. Jou eie klein meisietjie. Dit gebeur sonder dat jy weet.

Eendag vee jy jou oë uit en word wakker en die wêreld is anders.
Jy weet dit gaan nooit weer wees soos gister nie. Eendag sien jy dit en vra vir die mense hoekom hulle jou nie gesê het nie.

Hoekom weet almal en jy nie? Eendag kyk jy en jy weet iets het gebeur. Jy wonder waar jy was. Was jy op ’n lang reis? Maar dit kan tog nie wees nie, want jy was nog gister hier en gister was alles nog soos dit moet wees. Nou is dit vandag en vandag is dit anders. En dit lyk asof dit al lankal anders is. Sonder dat jy geweet het. Jy kyk, en jy sien. En jy weet.

Tog was daar tekens. Jy onthou hoe jy al vir ’n geruime tyd begin voel het jy is nie meer die oulikste pappa in die wêreld nie.

Jy onthou hoe haar oulike klein ogies dinge begin doen het wat dit voorheen nooit gedoen het nie. Daardie geïrriteerde opkyk en kopskud asof sy dink jy is die domste omie wat sy ken. Voorheen was jy die slimste. En die sterkste. Dalk selfs die mooiste.

Voorheen kon jy haar optel en vasdruk en ’n klapsoen kry
voor sy laggend deur die skoolhek hardloop. Wanneer het dit dan opgehou?

Verbeel jy jou of is sy al ’n hele ruk nie meer so entoesiasties oor die laaste drukkie by die skool nie? Miskien selfs skaam? Om die waarheid te sê, daardie vinnige “babaai, lekker dag” is lank reeds standaard-prosedure.

Ja, noudat jy daaraan dink, die tekens was beslis daar. Helder soos daglig. Die toe kamerdeur is nou al ’n paar maande lank opvallend. Ook die lang telefoongesprekke. En die sit en staar in die verte met ’n melancholiese verlorenheid wat jou tog moes laat besef het wat aan die gang is. Daar was die skielike aandag aan hare en klere. Selfs grimering. Jy weet nou wat dit was. En dit was vir seker nie net meisie-goeters nie.

Jy vermoed daar is ’n sameswering.
In jou eie huis. Dis asof die ma en die ouma  dinge weet. Lankal. Daar is ’n soort kyk. ’n Geheime kode. ’n Vrou-ding.

Ouma maak rokke wat nie lyk soos die fraai rokkies wat nog altyd gewerk het nie. Niemand vra regtig jou mening nie. Wat weet jy nou van sulke dinge?

En dan onthou jy jy is tog al gewaarsku. Die ma, sy wat aan jou kant behoort te wees, het al ’n paar keer geskimp hoe oulik ’n sekere outjie is. En hoe groot ons dogtertjie geword het. En hoe vinnig die lewe loop.

Sy sê sy het jou voorberei.
Sy sê jy het dan self gehoor hoe die kind liefdesliedjies op die klavier komponeer.

Sy vra of jy blind is. Eers wil jy kwaad word. Wat se nonsens is dit? Sy moet nog Oros-partytjies hou. Hoe kan die ma en ouma dit goedpraat? En selfs rokke begin maak wat in modeboeke hoort, nie in dogtertjies se klerekaste nie.

Dan sien jy hulle tweetjies. Haar senuweeagtige verliefdheid. Sy vasberadenheid om ’n goeie indruk te maak. Fliek toe. Partytjie toe. En jou oë is uiteindelik oop.

Die prediker sê daar is ’n tyd vir elke ding onder die son. ’n Tyd om speel-speel tee te drink met ’n krulkoppie en ’n tyd om haar toe te laat om ’n meisie met ’n kêrel te word.

Geloof is ’n reis deur die seisoene van die lewe.

Elke nuwe seisoen vra nuwe oorgawe en nuwe vertroue.

En in elke nuwe seisoen is ’n nuwe stuk mooi.

En ’n nuwe stuk genade.