Nie dat daar ooit op Oukersaand ’n vuur in daardie kaggel sou knetter nie. Dit was te verdomp warm vir vure.

Behalwe natuurlik vleisbraaivure. Dáárvoor was dit nooit te warm nie - of te koud of te nat of te wat ook al nie. Die ooms in die familie het graag ’n vuurtjie buite aangesteek terwyl hulle besluit wie se beurt dit vanjaar is om vir die kleintjies Kersvader te speel. ’n Erg ongesogte rol, want die swaar rooi kostuum en die vals baard en die plastiek-mombakkies kan ondraaglik warm word op ’n hoogsomernag.

Ek onthou dat Kersvader een jaar sandale gedra het - en aan sy sonbruin tone en sy skurwe hakskene kon enige slim kleuter sien hy kom beslis nie van die Noordpool af nie. Dit was vir my net nóg ’n bewys dat ons hier aan die onderkant van Afrika met ’n nagemaakte Kersfees te doen het. ’n Bedrogspul, het ek gedog. ’n Kamtige Krismis.

Sneeuvlokkies en sleeklokkies, dís wat Kersfees vir my beteken het. Soos die karakters in die oorsese storieboeke wat ek verslind het, só wou ek Kersfees vier. Toegewikkel in ’n lang jas wou ek saam met ander toegewikkeldes-in-lang-jasse aan vreemde mense se voordeure klop om vir hulle Kersliedere te sing. Daarna sou die dankbare vreemde mense vir ons stomende sjokoladedrankies en tuisgebakte koekies aanbied. Dis hoe dit in storieboeke en rolprente gedoen word, nie waar nie?

In werklikheid was elke Kersfees in my kinderjare te warm vir lang jasse of stomende sjokoladedrankies of selfs net vir ’n bord warm kos. Nogtans het ons jaar ná jaar skottels vol gebraaide kalkoene en gebakte poedings en ander wintergeregte verorber, terwyl ons sweet in ons borde drup en ons verspotte papierhoedjies verlep in die hitte en Jim Reeves iewers op die agtergrond aanhou sanik oor ’n white Christmas. Ná die oordadige ete het ons op ’n strand met sneeuwit sand gelê - die naaste wat ons ooit aan sneeu op Kersfees sou kom - en gekyk hoe die jonger kinders wedywer om die presente wat die beswete Kersvader gebring het te verwoes voordat die dag om is.

Nóg ’n kamma-Krismis in Afrika, het ek elke jaar daar op die strand gedink. Eendag is eendag, dan gaan ek ’n “regte” Kersfees hê. ’n Koue Europese Kerskaartjie-Kersfees.

As hierdie ’n outydse rolprent was, plaas van ’n rubriek in SARIE, sou die strandtoneel nou wasig geword het, terwyl tientalle kalenderbladsye oor die skerm fladder (om aan te dui dat baie jare verloop het, oukei?) voordat die volgende toneel begin. Kersdag, ’n paar dekades later, in Europa.

Laas Kersfees, tydens ’n sewegang-feesmaal saam met my rumoerige Franse skoonfamilie, het ek op ’n kol by die huis uitgesluip om net ’n rukkie weg te kom van al die kos en al die stemme. Toegewikkel in ’n lang jas het ek deur die verlate strate van ’n grafstil dorpie gedwaal. Almal was besig om agter toe luike te eet - of te rus omdat hulle te veel geëet het. G’n teken van lewe onder die lae, grys lug nie.

En meteens word ek oorweldig deur ’n verskriklike verlange na die sweterige “kamma-Kersfeeste” van my kinderdae. Na die swem en die speel op strande met sneeuwit sand, na die vleisbraaivure en die waatlemoenskywe en die stronkmielies van daardie vergange somers, na die kerkdienste wat op Kersoggende sommer so in die buitelug gehou is. Na kaalvoet-dominees en Kersvaders in sandale. Na die hitte. Wie sou dít nou kon dink? Die bedompige, bloedige, verdomde warmte van Kersfees in Afrika.

’n Somerse Kersfees mag miskien anders lyk en klink en ruik en proe as Kersfees in oorsese storieboeke en rolprente, maar dis die soort Kersfees waarmee ek grootgeword het. Dis wat ek mis, deesdae, ná ’n dekade van koue Europese kamma-Kersfeeste.

Mag Kersfees vir jou en jou geliefdes vanjaar warm wees. Indien nie letterlik sweterig Afrika-warm nie, dan ten minste emosioneel warm. Gloeiend van liefde en welbehae.

’n “Regte” Kersfees, dis wat ek jou toewens, waar jy jou ook al bevind.