’n Ry modelle staan senuagtig reg vir die loopplank, nog ’n groep word soos blits deur ’n span stileerders omtower en aan die verste ent trek ’n groep verwoed tussen relings klere aan. Mense met kop-mikrofone gee aaneen opdragte - hulle hou letterlik die show on the road. Tussendeur trippel ontwerpers gespanne, want dis húl handewerk wat in die kollig is.

Almal van ons wat ons op die gebied van kreatiewe dinge begewe, moet ons kop laat lees.

Want dit maak jou op, klaar, gedaan! Probleem is, as jy ’n skeppende geen in jou lyf het, is dit nie net vir nee sê nie. Wanneer ’n kreatiewe idee jou beetkry, los hy jou nie sommer nie. Dit dryf jou tot by die onmoontlike. Spoor jou aan tot op die rand van waansin.

By SARIE ken skeppendheid g’n kortpad nie. In net die laaste weke het ons ’n perd aangery, in ’n vliegtuig foto’s geneem, sirkus toe gegaan en selfs ons eie paparazzi “opgelei”!

As SARIE-skoonheidsredakteur het ek op ’n keer op die Maledive geskiet. Daar sien ek die mooiste dryfhout - perfek vir ’n foto. Die probleem was net: Die stuk hout was in die hotel-eetkamer en só groot dat dit beswaarlik beweeg kon word. Maar daardie kreatiewe ding dryf my en ek vra die hoteleienaar hoe nou? Ek sien die blink in sy oë en besef hy’s reg vir die uitdaging. En so sleep ons, stadig-stadig en tot gaste se verstomming, die boom met ’n trekker uit die eetkamer en 1 km strand-af. Vir die foto was dit die moeite werd - ’n silwerskoon strand en die model wat teen die sonsondergang voor ’n verwronge stuk hout staan.

Toe ons fotograaf Phyllis Green ’n ruk gelede die swemmer Roland Schoeman moes afneem, het idees met ons weggehardloop. Wat van Roland ín die swembad mét ’n pak klere aan? Hoofstileerder Fanie Cronjé soek ’n pak wat nie krimp nie, en Phyllis skiet tussen ’n Hoëveldse donderstorm deur met Roland gepak en gedas in die water. So verstom was sy ma deur dié kreatiewe konsep dat sy die pak vir Roland gekoop het - net daar en druppend nat. Beter nog, Phyllis wen toe ’n Media24-fotografieprys met dié foto.

Christi Panagio van 7de Laan se uitdagende sirkus-fotosessie (SARIE, Februarie 2008) het ’n volle 2 dae geneem. Sy’s opgetof, opgetel, opgehys, en ’n olifant, perd, vuurblaser, akrobaat, nar en sterkman is as haar ekstras ingebring. En toe begin dit reën . . . Maar die foto’s is geneem - tussen modderpoele en met ’n kragopwekker vir lig in die tent!

’n Perd in Bishopscourt? Dis wat ons nodig gehad het vir ons winter-modebylae. Toe moderedakteur Amaria Carstens besluit die militêre voorkoms kort ’n perd, het Olympic tot haar redding gekom. By die groot, ou huis het hy professioneel vir ons foto’s geposeer. En net toe die huiseienaar oor die skok van ’n perd op haar voorstoep kom, lewer Chrysler sy PT Cruiser met die retro-voorkoms af vir die foto wat sê: Maak jou reg vir modes uit die 40’s en 50’s!

Oor die aktrise en die vliegtuig wil ek nie nou veel verklap nie, behalwe dat ons vliegtuig toe heel agter in die vliegtuigloods gestaan het en ’n swetterjoel ander vliegtuie eers geskuif moes word, voordat ons uiteindelik ons vliegtuig kon uitsleep. Maar die plan het gewerk - die rooi tapyt, die goue rok, ons paparazzi. En ons aktrise? Sy was 'n million dollar baby.

Soos ek sê, as kreatiwiteit jou eers beet het . . .

Michélle van Breda

SARIE  April 2008