Wie is julle en wat doen julle?
Ek is in 2004 in Kaapstad getroud met Rob, ‘n Ier, wat my voete onder my uitgeslaan het. Kort ná ons troue is Rob verplaas Engeland toe. Vir agt jaar was die Hampshire-platteland ons tuiste. Ons twee kosbare seuns, Conor Jack en Rynard, is daar gebore. Rob werk nou vir Hewlett-Packard en ek is voltyds ‘n moeder en tuisteskepper en deeltyds ‘n student in sielkunde.

Waar woon julle?
In Julie 2011 het ons ons vlerke gesprei na Singapoer. Ons bly aan die ooskus langs die Marina Barrage-reservaat, met maklike toegang na die gewilde Ooskus-park met sy buitelug-aktiwiteite. Ons verkies kondominium-verblyf, want dis gesinsvriendelik met geriewe soos swembaddens, tennisbane, 'n gimnasium, klimrame, tafeltennis, ‘n skoonheidsalon en mini-mark.

Moeilikste om aan gewoond te raak daar?
Ongetwyfeld die humiditeit. Verbeel jou: Durban op steroïede! Dis net gedurende die sogenaamde “Monsoon”-seisoen dat hier 'n bietjie lafenis is. Om kroeserige hare te tem en koel te bly is ‘n daaglikse uitdaging.

Die kos?
Ons is bederf met die verskeidenheid restaurante hier. Die plaaslike mense verkies die tradisionele kosmarkte (“Hawker Centres”) wat ontwikkel het gedurende die 1950-60’s. Dis mettertyd omskep in meer moderne kosmarkte. Hierdie “Oos-ontmoet-Wes”-voedselmarkte is volop in van luukse winkelsentrums tot op straathoeke. ‘n Driegang-ete, binne minute berei met vars bestanddele in ‘n higiëniese omgewing, kos gemiddeld S$10. Smake waaraan ons gewoond moes raak: brandrissie, sojasous, kokosmelk, rys en nog meer rys. Geregte waaraan ons nou smul, sluit in “Laksa”, “Chicken Rice”, “Nasi Goreng” en die groot gunsteling: “Dim Sum”.

Interessante ervarings?
Te veel om te noem, buiten die ooglopende inkopie-hemel! Ek lys my top-3.
Ons volg Formule 1, maar is glad nie fanatiese ondersteuners nie en was effens skepties toe ons onsself verlede jaar by die Singapoer F1 bevind het. Wat ‘n verrassing! Die enigste nag-wedren in die reeks sorg vir ‘n onvergeetlike belewenis: ‘n elektriese atmosfeer, polsende adrenalien, passievolle aanhangers en natuurlik die vernuf waarmee die meester-renjaers die kragtige enjins beheer.

Sentosa-eiland is suid van Singapoer geleë en is maklik bereikbaar per voet, motor of trein. Die eiland is ‘n bron van vermaak en genot vir jonk en oud met strande, watersport en temaparke, kabelkarretjie-ritte, akwariums, vlinder- en insek-parke, Universal Studios, restaurante, klubs en vele meer.

Singapoer is ‘n kulturele smeltkroes met geleenthede vir talryke feeste. Die grootste hiervan is die Chinese Nuwe Jaar en word jaarliks gevier met die koms van die eerste volmaan. Huise, strate, winkelsentrums en besienswaardighede word omskep in rooi en pienk. Tradisionele leeudansers, vermaaklikheidskonserte en vuurwerk is als deel van dié tradisie.

Ander noemenswaardige kulturele feeste sluit in: Diwali (Hindoe), Hari Raya (Moslem), Vesak (Boeddhisties) en ook Goeie Vrydag en Kersfees.

Was dit maklik om in te pas en vriende te maak?
In vergelyking met Engeland was Singapoer ‘n droom. Dis grotendeels te danke aan ‘n reeds bestaande expat-gemeenskap. Op so 'n klein eiland is ons almal deel van die groter geheel, genaamd: “buitelanders”. Ek het maklik vriende gemaak by ons kondominium, die seuns se skool, sportklubs en deur Rob se kollegas.

Die meerderheid inwoners voel angstig en bedreig deur die toenemende persentasie buitelanders in hul land. Ek was egter doelgerig en het begin deur Mandaryns te leer om die kommunikasiegaping te oorbrug. Dit het ook gehelp met my vrywillige werk by die plaaslike gemeenskapsentrum waar ek oefenklasse aanbied vir bejaardes. In die begin was almal skepties, maar nou oefen ons elke Woensdagoggend en almal deel in die internasionale taal van GENOT!

Lekkerste daar?
‘n Politieke stelsel, hoewel omstrede, wat streef na ‘n beter leefstyl vir sy gemeenskap in die vorm van persoonlike veiligheid, sosiale welstand en ekonomiese stabiliteit. Die Maleise invloed en aksent wat 'n mens hoor op die plaaslike radiostasies. Dis asof ek in die Bo-Kaap sit en smul aan bobotie. Die rondreis, want Singapoer se sentrale ligging in Asië maak dit ideaal. En die BESTE van hier wees . . . 'n bekostigbare huishulp! Ná 7 jaar in Engeland sonder dié luukse is ek onbeskryflik dankbaar vir ons inwonende helper van Sri Lanka.

Wat mis jy?
Familie en vriende wat weet wat ‘n “Dom Pedro” is. Oop spasies en ongerepte natuur. Vriendelike gesigte. Ons reis baie, maar Suid-Afrika is uniek as dit kom by die geaardhede van sy mense. Groot, tegemoetkomende glimlagte en mense wat nog steeds tyd kan maak vir ‘n koffie en geselsie – DIS spesiaal.