Ons het in Februarie 2011 hier aangeland. Mirco werk in die mynwese as chemiese ingenieur, terwyl ek die geleentheid het om verder te studeer.

Hierdie Oos-Europese land is dalk minder bekend as sy bure, Griekeland en Turkye, maar is 'n skatkis van eeue-oue tradisies en geskiedenis – en bied baie meer as net jogurt.

Skilderagtige landskappe, wat seisoenaal verander, is oral te sien. Bergreekse verskaf in die somer gewilde staproetes, wat in die winter in ski-oorde verander. In die ooste word Bulgarye begrens deur die Swartsee met verskeie vakansieoorde en lieflike strande. Ou tradisies word in die platteland gevolg, terwyl die hoofstad, Sofia, meer gesofistikeerd is.

Die sentrale deel van Sofia het baie geskiedkundige geboue, wat getuig van al die diverse kulture wat 'n bydrae tot die hedendaagse Bulgarye gelewer het. Een só 'n gebou is die indrukwekkende Alexander Newski-katedraal, wat opgedra is aan Rusland vir dié land se militêre bydrae tot die Vryheidsoorlog teen die Ottomaanse Ryk.

Bulgarye het 'n goeie openbare vervoerstelsel bestaande uit busse, ondergrondse treine en trems. Dit is maklik om in die stad rond te beweeg en daar is altyd taxi’s teen billike tariewe beskikbaar. Hoewel Sofia 'n verskeidenheid restaurante het om van te kies en te keur, is daar slegs 'n handjie vol winkelsentrums te vinde, aangesien dit tot onlangs nog 'n vreemde verskynsel was. Hier is nog steeds straatmarkte en klein winkels waar plaaslike produkte volop is. Een van die dinge wat my die meeste in Bulgarye verbaas het, is die verskeidenheid vars vrugte en groente wat daagliks teen goeie pryse beskikbaar is.

Die Bulgaarse kookkuns (en musiek) dra kenmerke van veral Griekse en Turkse invloede. Sjopska is 'n tradisionele slaai wat bestaan uit tamaties, komkommer, rooi soetrissies, uie en gerasperde kaas. Dit word feitlik met elke maaltyd voorgesit. Ontbyt bestaan gewoonlik uit tamaties, komkommer, olywe, kaas en 'n verskeidenheid koue vleise. (Nou nie juis die ontbyt waaraan ons gewoond was nie.) Koffie is ook baie gewild hier – hoe kleiner en sterker, hoe beter.

'n Wye verskeidenheid suiwelprodukte is beskikbaar, en ander geliefkoosde geregte sluit in koue komkommer-sop (tarator) en pasteie gevul met kaas (banitsa). Ajrjan is 'n gewilde drankie wat gemaak word van jogurt gemeng met water.

Bulgarye is bekend vir hul inheemse wyne (veral rooiwyn) en spog met 'n aantal wynstreke wat elkeen unieke kenmerke het. Nog gewilde alkoholiese dranke sluit bier en plaaslike brandewyn (rakia) in.

Bulgaars is die amptelike taal en word in Cirilliese skrif geskryf. Ons het die alfabet geleer en omdat dit 'n fonetiese taal is, kan ons meeste woorde uitspreek (al verstaan ons dit nie!). Daar is darem 'n paar woorde wat nie te volksvreemd vir ons is nie, soos byvoorbeeld apteka (apteek) en televisor (televisie).

Alhoewel kommunikasie soms moeilik is, is die Bulgare oor die algemeen vriendelik en behulpsaam. Familie is vir hulle belangrik en hulle verkeer graag sosiaal.

Die land is baie sentraal geleë en dit maak dit die ideale basis om van te toer. Wes- en Oos-Europa is slegs 'n paar uur per motor van ons af, terwyl lande soos Turkye en Rusland ook maklik binne ons bereik is. Ons is baie lief vir reis en geniet al die lande en kulture wat ons in hierdie deel van die wêreld kan verken.

'n Laaste brokkie inligting oor Bulgarye: 70% van die wêreld se roosolie wat in die parfuumbedryf gebruik word, word hier geproduseer.

Op daardie geurige noot groet ek julle uit 'n koue Sofia!