Ons bly in Kalgoorlie, Wes-Australië, 600 km noord-oos van Perth in die Outback. Ons is maar behoorlik afgeleë. Dis ‘n tipiese myndorp en die meeste mense werk in die myne. 

Die dorpies in die omgewing het name soos Coolgardie, Kambalda, Menzies en Leonora en is van 35 km tot 300 km van Kalgoorlie. Die inwoners ry gewoonlik hierheen om inkopies te doen. Aangesien alles om die mynbedryf wentel, is plase maar skaars. Daar is wel 'n paar 'Stations', maar dis te droog om mielies of koring te plant. Daar is skape en natuurlik 'n bietjie wild, soos kangaroes, wilde kamele en ook wilde bokke. Dié lyk op 'n druppel water nes 'n gewone boerbok, net baie wilder!

Hier is nie baie water nie, omdat ons byna in die woestyn bly. Dis baie droog en warm in die somer met temperature tot 46°C. In die winter is dit bitter koud en dan bibber ons behoorlik. Dit word dan vroeg donker en teen halfses saans is dit nag.  

Kalgoorlie is 'n geskiedkundige dorp en die mense is baie erfenisbewus. Die dorp is baie bekend vir sy kroeë, bordele (alles natuurlik histories!) en die waterpyplyn. Ongeveer 65 km buite Kalgoorlie is ‘n paar ruwwe pub’s in die middel van nêrens, genaamd Ora Banda en Broad Arrow. Ons gaan eet die heerlikste hamburgers by Ora Banda. Tydens die eeufeesvieringe van die dorp was ek die sg. Minutes-Officer by die stadsraad en is my naam ook nou opgeteken in die dorp se geskiedenisboeke! Ons het spesiaal vir die okkasie uitrustings uit die ou dae gedra om by te dra tot die feestelikheid. 

Ons water word kom al die pad van Perth met ‘n pyplyn wat in die 1800's deur die ingenieur CY O’Connor ontwerp is. CY O’Connor was baie bang die pyplyn sou ‘n flop wees, maar die pyp en pompstasies is na ‘n groot gesukkel uiteindelik klaar gebou, die krane oopgedraai. Toe moes daar gewag word vir die water om 600 km op te kom Kalgoorlie toe. Dis toe dat CY O’Connor gedink het dit werk nie en hy het selfmoord gepleeg van pure teleurstelling. Ironies genoeg het die water net daarna deurgekom!  Daardie einste pyplyn is steeds ons lewensaar.   

My man, Jan, en ek werk vir die stadsraad. Ons geniet die rustigheid van die platteland baie. Alles is 10 minute van ons af - die kerk, werk, skool en sport. Ons raak eintlik heel beangs en verbouereerd wanneer ons Perth toe gaan. Vat dit nou maar van gesoute Pretorianers, 'n mens vergeet daai geroesemoes en bedrywigheid van die stad in 'n oogwink.

Ons dogter, Lezanne, is in Jaar 8 in die Baptist College en daar is vreeslik baie Suid-Afrikaners in daardie skool, van onderwysers tot kinders. Stian, ons seun, is in Jaar 5 in North Kalgoorlie Primary School. Ongelooflik om te glo, maar daar is 3 onderwysers van Suid-Afrika. Hier is twee ander hoërskole en nog sewe ander laerskole in die dorp. My ma, Emmie Ferreira, bly by ons. Sy geniet haar gate uit. Sy ry die kinders rond en kuier te lekker by haar vriendinne.

Wintertyd is dit netbal en rugby. Netbal is baie gewild en baie kinders, jongmense en selfs grootmense speel dit. Rugby is nie so groot hier nie. Dis 'n ander kultuur en ons geniet die samesyn Saterdagmiddae. Het hoeka nou begin om Saterdae pannekoeke te bak en hierdie Kiwi's eet hulle vingers af! Hulle maak 'fried bread' of "Maori-bread" - eintlik is dit gewone vetkoek met botter en stroop.  

Ons het 'n kerk hier help stig, die Kalgoorlie Christian Reformed Church, 'n kombinasie van die drie susterskerke soos wat ons dit ken in Suid-Afrika. Ons het ‘n volbloed Aussie as Pastor en die dienste is in Engels. Die kerk gaan van krag tot krag. Ons Moedergemeente wat vir ons instaan in Perth is die Grace Christian Reformed Church met ds. Joe Vermeulen (‘n Suid-Afrikaner) aan die stuur.    

Die kangaroes kuier heerlik in die strate en sommer op ons voorste grasperk. Omdat erwe nie omhein is nie het hulle almal se sappige gras tot hul beskikking. So word ons gras boonop verniet bemes.  

Ons naaste strand is ongeveer 400 km ver by Esperance, 'n pragtige klein kusdorpie. Ons probeer gereeld vir 'n naweek wegbreek soontoe, al is dit so ver.