Bloot sy keuses van die voorste skeppende mense is vreemd: nege uit die Engelse wêreld, vier Franse (hy skeur die arme Victor Hugo aan flarde), twee Duitsers, een Spanjaard, ens. Geen Italianer (Dante, Boccaccio, Michelangelo, Bernini, Petrarca, Rafael, Da Vinci) nie. Geen Goethe, Schiller, Mozart, Beethoven, ens. nie. Hy gee sulke wieliewalie-redetjies hoekom hy mense soos Dante nie insluit as creator nie, maar wel die Engelse landskapskilder J.M.W. Turner.

Jammer, maar gee my slegs een Rembrandt of een Rubens (ja, of ’n El Greco of Manet, of Frans Hals óf, óf ...) en Turner kan maar bly. Turner was ’n uitstekende Engelse skilder en het meestal in waterverf gewerk, met fyn spel van lig en kleur, maar hy is beslis nie onder die meeste mense se top-tien nie.

Tog het Johnson se essay oor Turner se waterverwe my laat dink aan jare gelede toe ek en my vriend Daantjie Saayman een oggend by die skilder Erik Laubscher gaan kuier het. Daantjie was een van daardie sonderlinge mense wat almal se vriend was, én daarmee weggekom het. Ek sien toe twee klein waterverf-landskappe aan Erik se muur en vra of hy dit nie aan my wil verkoop nie. Hy wou nie. Toe haal Daantjie die twee skilderytjies van Erik se muur af, gee dit vir my, kyk dit so en sê: “Izak, gee hom R120 hiervoor en klaar.” Ek haal toe R120 uit en arme Erik het seker maar geld nodig gehad. Dit hang nou in my sitkamer en ek veg teen verbleiking.

Ek het so een of twee keer by Jan Rabie en Marjorie Wallace op Onrus gekom, en my aan dié twee mense verkyk. Hulle het eenvoudig, selfs primitief geleef en Jan het seekos uitgeduik, maar uiteindelik ’n boedel van miljoene nagelaat. Toe sien ek nou een aand ’n triptiek van Marjorie Wallace (met die Bo-Kaap as tema) in ’n vriendin se woonstel in Seepunt hang. En ek kon myself skop dat ek nooit ’n skildery van Wallace aangeskaf het nie. Dit terwyl ek by pragtiges in haar tuiste verbygeloop het.

Dieselfde met Maggie Laubser. Op ’n dag was ek by haar huis in die Strand. Op daardie tydstip was haar werk nie meer in die super-meesterklas nie, maar ek sou nogtans een wou besit.

Ek het gesê ek sou weer kom. En dit nooit gedoen nie. Die eenvoud van haar huisie en haar totale onopgesmuktheid sal ek nooit vergeet nie.

Kunstenaars het maar almal hul geite. Dit bly vir my ’n raaisel dat Van Gogh in sy lewe net een enkele skildery kon verkoop. Het mense dan by die vlammende sipresse verbygeloop en gekyk en soos ek nie gesien nie? Maar die groot vraag is: As ekself op ’n aand in 1888 daar by hom verbygeloop het terwyl hy die Café Terras in die Nag op die Place du Forum in Arles geskilder het - sou ek dit wou koop? Of moes iemand my eers op die grootsheid daarvan wys? Paul Johnson, lyk my, verkies nog altyd Turner!

Daar is ’n stertjie aan die Erik Laubscher-storie: Op ’n dag het hy ’n tentoonstelling gehou en daar hang tien waterverfies van landskappe. Pragtig. Erik staan toe by die skilderye en verduidelik aan gaste: “Hierdie reeks het eintlik uit twaalf bestaan, maar twee het ek ongelukkig verkoop.”

Net mooi toe stap Rina daar verby, wuif vir Erik en sê kliphard: “Ek weet tog waar daardie twee hang!” Die kunstenaar het maar net meewarig geglimlag. Eintlik was ek met Daantjie se hulp effe skandalig, maar daardie keer het ek darem iets besonders herken en dit nie laat verbygaan nie. Ek droom soms ek hét by Van Gogh of Pissarro of Renoir verbygeloop - en gesien en erken en my geld uitgehaal.

Tog vreemd: Ons loop elke dag op die aarde. Ons sien die son. Ons sien berge. Ons sien lig en donker en sterre. Ons sien wondere. En ons dink nie eintlik aan die Groot Kunstenaar nie. Geseënd is ons as ons die lewe sien vir wat dit is: Bergspitse en laagtes, wonderbaar, uit die hand van THE CREATOR.