Plat, vaal en lelik? Dis beslis nie die Vrystaat waarvan ons praat nie. Blaai deur dr Jan van der Merwe se pragboek oor die 86 dorpe van die provinsie en jy sal sien hoe mooi die Vrystaat regtig is.

In sy boek, Vrystaatse Dorpe, bekyk en beskryf hy elke dorp van dié provinsie. Oor sommige soos Bloemfontein, Koffiefontein, Brandfort, Fouriesburg en Hennenman is daar omvattende inligting rakende die geskiedenis, mense en hoe die dorp ontwikkel het. Oor ander minder bekende en kleiner dorpies is daar minder omvattende inligting, maar steeds genoeg pitkos om jou te prikkel. Soutpan, Florisbad,Van Stadensrus – dis nie plekke wat ek ken nie en nadat ek die foto’s bekyk het, weet ek my volgende agterpad-toer gaan my hierheen neem.

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

Jy gaan hierdie boek nie in een sessie deurblaai, deurlees of inneem nie. Dis ure, dae, selfs weke se leeswerk, en dit gaan beslis as ’n baie goeie bron dien vir enigiets wat jy in die toekoms weer wil lees oor ’n provinsie wat onverdiend as plat, vaal en oninteressant beskou word. Van der Merwe het uitgebreide navorsing gedoen, interessante en relevante inligting boeiend bymekaar gesit om ’n boek te skep wat ’n waardevolle bydrae lewer tot die dokumentering van ons land en sy diverse bestemmings.

Bestel Vrystaatse Dorpe (R800 + posgeld) by Jan.vanderMerwe@mangaung.co.za

Waar kom jou belangstelling in Vrystaatse dorpe vandaan?

Ek woon en werk die afgelope 15 jaar in die Vrystaat. Ek het in 1999 by die destydse Nasionale Party in dié provinsie gewerk as fondswerwer en het toe die voorreg gehad om al die Vrystaatse dorpe te besoek. Ek het gefassineerd geraak oor die dorpe en het in die argiewe begin navorsing doen oor elkeen van hierdie dorpe.

Hoe het jy die navorsing vir hierdie projek aangepak?

Aanvanklik het ek die mense op die dorpe gevra oor die ontstaan- en naamsgeskiedenis van elke dorp, maar ek het egter gou agtergekom dat mense ook maar gis en raai oor hul eie dorpe se geskiedenis. Gevolglik het ek my tot die argiewe gewend vir meer betroubare inligting.

In die Vrystaat is daar 86 dorpe wat op een of ander gegewe stadium munisipale status verwerf het. 75 van hierdie dorpe het hul ontstaan uitsluitlik te danke aan die NG Kerk, omdat daar ’n kerk opgerig is. So die meeste van my inligting het ek by die Vrystaatse argief en die NG Kerk se argiewe gekry. Die Anglo-Boereoorlog museum, die Nasionale museum en NALN (die letterkundige museum) se argiewe was ook vir my van groot hulp en waarde. Jy sal verbaas wees hoeveel lekker geskiedkundige stories ontdek ’n mens in ’n ou Huisgenoot en ’n instansie soos NALN het die volledige reeks ou Huisgenote.

Hoe lank het dit jou geneem om hierdie lywige boek saam te stel?

Die navorsing en die skryf van die boek het my 8 jaar geneem. Aanvanklik sou ek en die bekende fotograaf, Paul Alberts, die boek saam aangepak het. Ek sou die teks skryf en hy sou die foto’s neem. Maar toe verloor Paul die stryd aan kanker. Ek moes ’n alternatiewe plan maak en toe besluit ek en Prof. Philippe Burger om self die foto’s te gaan neem. Die foto’s se versameling het ons 6 maande geneem. In die proses het ons 8 000 kilometers gery en nagenoeg 40 000 foto’s geneem.

Waarom wou jy hierdie boek saamstel?

Ek is ’n antropoloog. My doktoraal het gehandel oor die Afrikaners in die nuwe Suid-Afrika. Ek het ’n besonderse liefde vir die Afrikaner en sy geskiedenis. En ek glo dat hierdie boek ’n vorm van uiting aan hierdie liefde van my is. Ek wou ook die Vrystaat aan almal opnuut weer bekendstel. Almal is geneig om die Vrystaat as lelik, plat en vaal te beskryf, terwyl dit nie so is nie. Dis hoekom die foto’s in my boek groen en kleurvol is. Verder wil ek hê dat my mede-Vrystaters opnuut weer waardering moes kry vir hulle mooi dorpies. Elke dorpie het ’n merkwaardige geskiedenis en ’n pragtige storie om te vertel. Dis vir my ’n hartseer saak om te sien hoe mense net eenvoudig kan toelaat dat hul pragtige ou dorpie tot niet kan gaan. Ons moet ons erfenis oppas, dit gee aan ons ons identiteit.

Dink jy die geskiedenis van die dorpe is steeds relevant vir vandag se jongmense wat baie stedelik georiënteer is?

Ja, ek dink so. Ek het probeer om die geskiedenis en veral die narratiewe so interessant as moontlik aan te bied. Jongmense het gedurig die behoefte om nuwe plekke te ontdek en hierdie boek vertel hul van ongelooflike plekke in die Vrystaat, wat jy met ’n beperkte begroting maklik kan ontdek. In hierdie klein dorpies kan mens die belewenis van ’n leeftyd ervaar. Ek dink dis ook die boodskap wat al Dana Snyman se stories vir jou vertel, naamlik dat jy ’n ongelooflike ervaring plaaslik kan ervaar, al wat jy moet doen is om dit in hierdie klein plattelandse dorpies uit te snuffel. Hier kan jy nog ’n hartlike gesprek met ’n wildvreemde persoon op straat aanknoop. Daar lê pragtige verhale in elke dorp, selfs in die ou tradisionele swart woonbuurtes.

Wat was die mees verrassende ding wat jy oor ’n dorp uitgevind het?

Die verhaal van Frederik Opperman van Oppermansgronde is die een dorpsverhaal wat ’n blywende indruk op my gemaak het. Dit handel oor ’n slaaf wat weggeloop het en hom hier in die Vrystaat kom vestig het. En hier het hy in ’n kort tydperk ontpop in ’n baie welaf boer en sakeman. President Hoffman beskryf hom as een van die rykste mense in die Vrystaat. Daardie storie is ’n lees werd.

Het jy ’n gunstelingdorp en waarom?

Die heel mooiste plekkie in die Vrystaat is Verkykerskop, knus versteek in die koppe in die Oos-Vrystaat, tussen Memel en Warden. Dis sprokies mooi, maar jy kan die plek net met ’n grondpad bereik.

As jy van geskiedenis hou, is plekke soos Philippolis en Bethulie beslis ’n kuier werd. Dis pragtige plattelandse dorpe met ’n tipiese Vrystaatse rustigheid. Die ou Karoo huise gaan beslis jou hart steel.

Het jy iets uitgevind oor ’n dorp wat jou geskok het?

Die een aspek wat my geskok het, was die ongelooflike hoë aantal buitelandse immigrante vanaf Bangladesh, Pakistan, China en Nigerië in al die Vrystaatse dorpe.

Die dorp wat die ergste vervalling beleef is Wepener, maar dan kry jy ook dorpe soos Paul Roux, Clarens en Fauresmith wat eenvoudig uitstyg bo die ander. Daar vind jy mense wat hul dorp met passie oppas en restoureer.

Jy dra die boek op aan die Afrikaanse susterkerke. Waarom?

Omdat hulle die hoofrolspelers was wat gesorg het vir die ontstaan van 77 van die 86 dorpe in die Vrystaat. Die NG Kerk het ’n reuse-aandeel gehad in die ontstaan van 75 dorpe en die Dopperkerk in 2 dorpe. En vandag nog vind ons dat die hart van die meeste dorpe ’n pragtige sandsteen kerk is, wat eindeloos oor die Vrystaatse vlaktes uittoring. Hierdie kerke skep die aard en karakter van die meeste dorpe. Mense is geneig om vandag baie krities te wees jeens die Afrikaanse driesusterskerke, terwyl daardie kerke ’n reuse aandeel gehad het in die bou van die Afrikaner se vroeëre welstand. Sonder hulle sou ons vandag ’n arm gemeenskap gewees het.

Het jy interessante mense ontmoet in hierdie reis deur die Vrystaat?

Ja, daar is interessante karakters op feitlik elke dorp. Daar is kunstenaars, skrywers, verlooptes, malles en mense wat net gatvol geword het vir die stad en sy ellendes. So het ek op Smithfield die hoofkantoor van die “UFO-mense” in Suid-Afrika ontmoet. Ek het op Smithfield ook die persoon wat die eerste pornofliek in Afrikaans gemaak het, ontmoet. Op Hertzogville was die profeet wat “dooies uit die dood uit laat opstaan”, en so kan ek die een rare karakter na die ander opnoem.

Ek neem ’n foto van Abraham Cloete naby Luckhoff, maar hy sê : “Die mense roep my sommer Dampies “ Ek neem ’n foto van Abraham Cloete naby Luckhoff, maar hy sê : “Die mense roep my sommer Dampies “

Waarmee is jy nou besig?

As alles volgens plan verloop stel ek volgende jaar by die Woordfees in Stellenbosch my Noord-Kaapse Dorpe boek bekend. Ek het sedert Vrystaatse Dorpe my volle aandag geskenk aan ’n soortgelyke boek vir die Noord-Kaap. Al moet ek dit nou self sê, hierdie boek gaan ’n wenner wees. Die Noord-Kaap se stories is gelaai met intriges van wie gelieg het en wie belieg is, van ontdekkingsreisigers, sendelinge, delwers, smokkelaars en dood gewone moeilikheidmakers. Die projek was enorm, want dit sluit plekke in soos die Karoo, Namakwaland, Richtersveld, Kalahari, Ghaaps plato, Griekwaland, ens. In Vrystaatse Dorpe het ek 95 dorpe en plekke bespreek, in die Noord-Kaapse Dorpe boek bespreek ek 230 dorpe en plekke. Daar gaan jy die rare verhale lees van plekke soos Lekkersing, Kotzeshoop, Lepelfontein, Platbakkies, Putsonderwater en vele ander plekke.