Tyd met Tapas

Laat jou gaste vergeet van tyd met n verskeidenheid klein bakkies kos, warm en koud, en daarby heerlike, vars brood. So n peusel-ete is sakpas en gemaak vir kuier.

Lamskoftas is ’n baie bekende vleisgereg uit die Midde-Ooste, wat baie speserye bevat en geurig is.

8 – 10 porsies

• 500 g lamsmaalvleis

• 1 ui, fyngekap

• 2 knoffelhuisies, fyngekap

• 5 ml komynsaad

• 5 ml fyn koljander

• 5 ml kaneel

• 5 ml gerookte paprika

• hand vol vars koljander, gekap

• sout en varsgemaalde swartpeper

• 60 ml olyfolie

Kruisement-jogurt

• 250 ml Bulgaarse jogurt

• sap en skil van 1 suurlemoen

• hand vol kruisement, fyngekap

• sout en varsgemaalde swartpeper

Meng al die bestanddele vir die koftas, behalwe die olyfolie, saam in ’n mengbak. Geur met sout en swartpeper. Verdeel maalvleis in 10 porsies. Vorm elke porsie in ’n worsie van 5 cm om ’n hout-kebabstokkie. Druk maalvleismengsel stewig vas. Laat rus in yskas vir 1 uur. Verhit olyfolie tot warm in ’n middelslag-braaipan. Plaas kebabs in warm pan en braai sowat 3 – 5 minute per kant of tot goudbruin en gaar. Meng al die bestanddele vir die jogurtsous saam en geur goed met sout en swartpeper. Sit kebabs en sous saam voor.

Lamskoftas met kruisement-jogurt Lamskoftas met kruisement-jogurt
FOTO Lee Malan

Om te drink: Eikendal Classique 2009, n rooi versnit (Bordeaux)

Deel jou kos én jou stoel

Tapas gaan oor eet en lekker samesyn. So al geselsende skuif elkeen om die tafel van stoel tot stoel en kry kans om tyd saam met almal te bestee. Met dié Spaanse manier van eet word daar nie ’n hele maaltyd van die voorgereg tot die nagereg voorgesit nie, maar heeltyd aan iets kleins gepeusel. Niemand ly egter honger nie. In Suid-Amerika staan tapas ook as bocas bekend. En in SA sê ons sommer deelkos.

Maak gerus....

Tuisgemaakte wors sonder n masjien

Gemarineerde olywe met feta

Patat-tjips

Gemarineerde baba-calamari

Croquembouche

Slaai met gebraaide spanspek en ham

Platbrood met hoemoes

Edition SARIE Maart 2012 | Story Tydsaam met Tapas|Resep Lamskoftas met kruisement-jogurt