LEEF 100%

is ’n raadgee-rubriek spesiaal vir jou. Ons paneel kenners sluit ’n dokter, sielkundige en ’n SARIE-leser in. Hulle sal jou kwelvraag vanuit hul eie perspektief beantwoord. Daarby bekyk ’n bekende seksuoloog intieme sake.

‘Ek voel dikwels ’n angstigheid wat my aan die keel beetkry. ’n Vrees dat ek nie goed genoeg is nie en iemand dit een of ander tyd gaan agterkom. Vreemd, want ek is gelukkig getroud en het die toppunt van my loopbaan bereik. Daar skort niks met my selfbeeld nie. Ek het onlangs met twee (Afrikaanse) vriendinne gesels, go-getters, nes ek. En hulle voel net so. Is dit ’n vroue-ding? Sosialisering? Opvoeding? Wat?’

James de Villiers

Voorligtingsielkundige en hipnoterapeut van Kaapstad met ’n belangstelling in emosionele volwassenheid

ANTWOORD
Ek glo jou angstigheid het wél iets te doen met jou vrouwees, sosiale agtergrond, kultuur, opvoeding en die feit dat jy Afrikaans is, maar net jý weet presies hoe en wat.

Gebruik die volgende riglyne om dit te oordink: Ons almal onderdruk van ons kinderdae af sekere emosies en leer dan denk- en gedragspatrone aan om te vergoed vir seerkry en onvervulde behoeftes - en dit word dan ’n patroon. Dikwels word ons selfs daarvoor beloon, byvoorbeeld as ons goed presteer. Van sowat 35 jaar af en ouer kom dié patrone onder druk. Die onderdrukte emosies het opgehoop en die hantering daarvan is nie meer so maklik nie. Is dit dalk wat gebeur noudat jy die “toppunt” bereik het, “selfversekerd” en “gelukkig getroud”? Dat jy tevrede behoort te voel oor jou lewe, maar eerder voel asof iets jou aan die “keel beetkry” en iemand gaan dink jy is nie goed genoeg nie? Bewustelik weet jy nie waar dit vandaan kom nie, maar onbewustelik weet jy presies.

Moenie te gou dink dat jy maar net oorwerk is, of dat jy besig is om uit te brand nie. Miskien is dit tyd dat jy leer om ook te ontvang. Oorweeg ’n terapeut (of hipnoterapeut) wat jou kan help om die antwoorde en oplossings in jouself te vind.

Truida Heymann

Kaapstadse sielkundige berader en skrywer van boeke oor selfkennis


ANTWOORD
Die etiket go-getter behels ’n goeie kwota adrenalien. As dit lastig raak, kan jy dit met ontspanningsoefeninge (soos diep asemhaal of joga) troef. Die woord kan ook daarop sinspeel dat jou identiteit hoofsaaklik op jou daadkrag, deursettingsvermoë en die gevolglike prestasie en applous gegrond is. Jy kan met selfvertroue ’n doelwit stel, jou energie daarop fokus en dit bereik. Jou sogenaamde “manlike” kant is dus goed ontwikkel. As jou angstigheid te verlammend raak, skeep jy dalk jou “vroulike” kant af (die gevoelskant, wat versorgend teenoor jouself is). ’n Wanbalans veroorsaak psigiese en fisieke stres.
Jy sê jou angstigheid spruit nie uit jou huidige omstandighede nie. Mens moet dus wyer kyk. ’n Beroepsvrou bevind haarself normaalweg in ’n oorheersend manlike domein. Sensitiwiteit en weerloosheid word nie geduld nie. Die wedywering is kwaai en daar is altyd iemand op loer vir jou pos.
As jy daaronder ly, lê die redes dalk in jou kinderjare. Jy was dalk ’n sensitiewe kind en jou ouers het jou nie onvoorwaardelik liefgehad nie. Solank jy volgens hul voorskrifte en begeertes geleef het, is jy geprys. Indien nie, het hulle jou subtiel verwerp. Dalk het een van jou ouers jou erg gekritiseer en voel jy steeds nie goed genoeg nie. Jou identiteit kan ook van werkprestasie afhanklik wees en jy plaas gevolglik te veel druk op jouself.

Hantie Olivier

SARIE-leser van Roodepoort

ANTWOORD
As jy kyk na al die balle wat die moderne vrou in die lug moet hou, is dit te verstane dat jy voel jy gaan iewers “uitgevang” word. Nes jou werk klaar is, besef jy jou gesin het ’n week laas ’n gebalanseerde ete gehad. Terwyl jy soos ’n besetene ’n spyskaart beplan en kos koop, bel jou bejaarde ma en verwyt jou dat jy haar afskeep. Die hond tjank boonop omdat niemand aan hom aandag gee nie. Jy weet jy kom net nie by jou verwagtinge vir jouself uit nie. Daar is te veel om te doen en te min tyd. En in die proses gee jy nie aandag aan jou spirituele kant nie. (Ek weet - nóg iets wat jy veronderstel is om te doen!)

Ons is nie ’n liggaam met ’n siel nie, maar ’n siel met ’n liggaam - en die siel kry nie genoeg kos nie. Maar dit moet ook nie net nog ’n plig word nie. Maak plek vir stilte in jou dag. Al maak jy jou gedagtes net twintig minute lank stil en luister binnetoe. Weet jy hoekom jy op aarde is? Ons almal het ’n unieke, geestelike roeping wat ons moet vervul. As jy nie aandag daaraan gee nie, gaan die engele uit hul pad om jou ongemaklik en onvervuld te laat voel. As jy maar net kan besef: Jy is goed genoeg. Moenie so hard probeer om dinge beter te doen nie. Maar leer om die mens wat jy is, te waardeer en lief te hê.

Terry de Vries Nel

Energie-terapeut van Stellenbosch

ANTWOORD

’n Vrees is alleenlik so sterk soos jou vermyding daarvan. Hoe groter jou onwilligheid om dit te aanvaar en te omhels, hoe meer krag gee jy dit. Die angstigheid is jou lyf se manier om jou te vertel iets is nie reg nie. Verloën jy dalk jouself? Die keel verteenwoordig die vyfde energiepunt (chakra) en gaan oor kommunikasie. Praat jy jou eie diepe waarheid? Ja, jy is suksesvol en ’n go-getter, maar maak jy genoeg tyd om by jou sélf uit te kom? Gee jy genoeg tyd aan jouself op ’n fisieke, emosionele en spirituele vlak? Sit stil en haal diep asem. Kyk wat agter die angstigheid sluimer. Kyk watter emosies steek kop uit.

As jy die moed bymekaarskraap om werklik jou gevoelens te ervaar, sal jy besef die monster is net ’n muis. Soos jy jou ware gevoelens - hetsy goed of sleg, intens of subtiel - aanvaar, vergroot jy jou vermoë om geluk, onvoorwaardelike liefde, sensualiteit, dankbaarheid en vergifnis jou eie te maak. Luister na jou hart. Leef jou droom. Eis jou sélf, jou lewe, jou lig en jou waarheid op. Dan sal innerlike vrede joune wees. En jy sal saans met ’n gelukkige hart gaan slaap.

Ons praat seks

VRAAG
Ek en my man is 16 jaar getroud. Hy het ’n baie hoë seksdrang en deur die jare het hy verskeie one night stands gehad. Ek het dit sowat 2 jaar gelede uitgevind en hy het belowe om daarmee op te hou. Intussen het hy egter verskeie minnaresse vir allerhande “speletjies” besoek. Hy het my verseker hulle het nie seksuele omgang gehad nie. Hy beskou dit as normaal en voel glad nie skuldig daaroor nie. Moet ek ons huwelik probeer red, of hom los?


Dr. Elna McIntosh

Seksuoloog en radio- en TV-persoonlikheid van Johannesburg

ANTWOORD

Die samelewing is simpatiek teenoor mans wat buite-egtelike verhoudings het. Selfs jy maak vir hom verskoning: “Hy het ’n hoë seksdrang.” Ons het dubbele standaarde as dit by ontrouheid kom. ’n Vrou wat egbreuk pleeg, is ’n goedkoop slet. Maar onder ontroue mans is daar prinse (Charles) en presidente (Clinton). Mans vergewe amper nooit ’n vrou wat ontrou was nie, maar vroue sal gewoonlik by hul ontroue mans staan.

Ontrouheid is vir enigeen ’n nagmerrie. Hoe jy daarop reageer, hang van baie faktore af. Is jy geldelik afhanklik van hom? Het julle kinders? Sal jou lewensgehalte verbeter as jy skei? Vra jouself die volgende: Wat is die beste ding wat kan gebeur as ek sou bly? En die ergste? Wat is die beste ding wat kan gebeur as ek sou loop? En die ergste? As daar 3 mense in jou huwelik is, hoef jy nie deel van die groep te word nie. Jou lewe is te kort en te waardevol om op só ’n huwelik te mors. Dalk is jy bang vir die onbekende. Maar in die proses skep jy jou eie hel.

Jou gesondheid is ook belangrik. Ek praat nie net van seksueel oordraagbare siektes nie, maar jou geestelike gesondheid word ook geknou. Depressie en ’n lae selfbeeld is maar twee dinge waarmee jy moet saamleef. As jy sou besluit om te bly moet julle huweliksberading oorweeg. Vir ’n verwysing, kontak Famsa by 011 975 7106, of LifeLine by 0861 322 322.