LEEF 100%

is ’n raadgee-rubriek spesiaal vir jou. Ons paneel kenners sluit van ’n dokter en sielkundige tot ’n SARIE-leser en energie-terapeut in. Hulle sal jou kwelvraag vanuit hul eie perspektief beantwoord. Daarby bekyk ’n bekende seksuoloog intieme sake.

‘Ek en my man woon op ’n afgeleë plaas. Ons huwelik is gemaklik en rustig, maar passieloos. Hy is onbetrokke en meestal op die plaas doenig. Ons het nie juis ’n sosiale lewe nie - ons paar vriende woon ver en ons kinders in die stad. Ons lewe is afgesonderd en vervelig.
Ek is ’n diep spirituele mens, maar dit voel of ek iets mis. Ek skryf graag, werk in die tuin en mediteer daagliks. Wat beteken my lewe? Moet ek vrede met my leefstyl maak? Dalk my droom volg en sendingwerk in Indië gaan doen?’

Terry de Vries Nel

Energie-terapeut en labirint-kenner van Stellenbosch

ANTWOORD

Die gras is altyd groener aan die ander kant van die draad, net omdat daar meer koeimis is! Die wêreld wat ons rondom ons sien, is bloot ’n weerspieëling van wat binne ons aangaan. Dis ’n moeilike tameletjie om te kou, maar soos die boek A Course in Miracles (deur die Foundation for Inner Peace) verduidelik: Projeksie maak persepsie. Om dit eenvoudiger te stel: Is jou innerlike lewe passieloos, vervelig, onvervuld, eensaam en vrugteloos? Jy sê jy is ’n diep spirituele mens wat elke dag mediteer. Mediteer dan dubbel soveel en sê dankie . . . dankie . . . dankie. Dankie vir jou gevoelens, emosies en ervarings. Want slegs as jy dít omhels, kan jy daardeur breek. Die enigste manier hoe jy die wêreld kan verander, is as jy jouself verander. Solvitur ambulando, het St. Augustine gesê: “Dit word opgelos as jy stap. “ Bou ’n labirint. Daar is genoeg ruimte op die plaas en jy kan jou liefde vir tuinmaak uitleef. Dan kan jy elke dag die pad na innerlike vrede, verbeelding en passie stap. Skryf dan ’n boek! Lees Walking the Healing Labyrinth deur Helen Raphael Sands (Gaia Books, 2005), en besoek die webblad van die labirintbouer Robert Ferré, www.labyrinthproject.com.

Truida Heymann

Kaapstadse sielkundige berader en skrywer van boeke oor selfkennis

ANTWOORD

Dit klink of jy op die drumpel van ’n innerlike reis staan - en dus ryp en oorgehaal vir die ontginning van nuwe aspekte in jouself en van die lewe is. Die lewe plaas jou soms in omstandighede waar uiterlike paaie geblokkeer is. En jy gedwing word om die paaie na binne te volg. Maar dit kan ’n alleenpad wees en jy het hulpmiddels nodig. Daar is boeke wat jou kan motiveer en ’n blik kan gee op die verloop van innerlike reise, wat van mens tot mens verskil. Daar is ook medereisigers en waarheidsoekers met wie jy kontak kan maak. Die boek Paaie, onder redaksie van Annelie Ferreira (Griffel-uitgewers, 2006), kan jou dalk aan sulke reisigers en netwerke (telefoonnommers ingesluit) blootstel.
Jy moet aandag gee en op gedagtes reageer wat passie genereer. Jy weet nie waar dié passie jou gaan uitspoel nie: Jy kan dalk ’n boek skryf, of regtig in Indië beland. Maar tydens jou reis gaan jy weer jou selfwaarde en jou vertroue in die goedheid van die lewe terugkry. Ek het persoonlik ’n mentor nodig gehad vir veral die eerste en latere, moeiliker dele van my reis. Weens logistieke redes is dit nie vir jou moontlik om weekliks vir terapie te gaan nie. Maar selfs al besoek jy ’n terapeut net een maal per maand of selfs tweemaandeliks vir ’n paar sessies, kan dit lig op jou pad werp. Lees The Heroine’s Journey deur Maureen Murdock (Shambhala,1990), Die pad na heelheid (2002) en Die ring (2004) deur Truida Heymann (Hemel en See), en The Road Less Traveled deur M. Scott Peck (Arrow, 1990).

James de Villiers

Voorligtingsielkundige en hipnoterapeut van Kaapstad met ’n belangstelling in emosionele volwassenheid

ANTWOORD

Jy is duidelik in ’n nuwe lewensfase en moet iets aan jou onvervulde behoeftes doen. Ek kry die idee dat jou identiteit grootliks gevorm is deur kinders grootmaak, jou man se versorging en nou dalk sendingwerk. Maar ’n ander kant begin in jou wakker word, wat soek na passie, intimiteit, ekstase en sin en betekenis in jou lewe. Spiritualiteit sonder intimiteit is ondenkbaar. Intimiteit is egter nié te vind in die angstige doen van goeie dade teenoor ander (familie óf vreemdelinge) om só ’n eensame onvervuldheid te vul nie. Dis die gevolg van iemand wat haar verlustig in God se onvoorwaardelike liefde. En wat die lewe saam met haar man kan geniet en dit ook met ander kan deel.

Begin om jou intimiteit rondom jou huidige belangstellings te bou. Maak kontak met mense wat graag lees, tuinmaak, of begin ’n gemeenskapsprojek wat werknemers op omringende plase betrek. Gesels met jou man oor jou behoeftes. Soek iets wat albei van julle geniet en doen dit gereeld saam. As mense iets saam geniet, kom hulle spontaan nader aan mekaar. Skep soms ’n (romantiese) wegbreeknaweek. Besoek jou kinders en kleinkinders, al is dit sonder jou man.

Hantie Olivier

SARIE-leser van Roodepoort

ANTWOORD

Dink jou man dis elke vrou se droom om in afsondering te leef en van verveling te sterf? ’n Lewe sonder uitdagings is maar saai. Maar dis ook nie sy plig om jou gelukkig en vervuld te laat voel nie. Een mens kan nie alles in ’n ander een se lewe wees nie. Verskillende mense vul verskillende leemtes in jou lewe. Hoe is dit dat jy nie een goeie vriendin het nie? Daar moet tog iémand in jou omgewing wees wat belangstellings met jou deel? ’n Leeskring? As jy mediteer, vra antwoorde wat net vir jou bedoel is. Vra hoe jy dié leemtes kan vul. Dat daar deure oopgaan en mense na jou toe gestuur word sodat jy jou leë bestaan kan vul. Waar in jou omgewing kan jy vir ander iets beteken? Kyk weg van jouself af en jy sal mense om jou sien in wie se lewe jy ’n verskil kan maak. Gee liefde en jou lewe sal met liefde gevul word. Die Here gaan jou nie Indië toe stuur as jy nog nie eers jou buurvrou probeer bereik het nie. Of jou huiswerker nie. Moenie vrede met ’n doellose bestaan maak nie. Jou engel probeer só hard om jou ongemaklik te laat voel - omdat daar mense is wat jóú nodig het. En wat jý nodig het.

Ons praat seks

VRAAG

Ek het 3 dogters (8, 6 en 3 jaar oud) en weet dis tyd om met hulle oor seks te praat. Maar my ma het nooit sulke dinge met my bespreek nie en ek weet nie waar om te begin nie. Ek is as kind gemolesteer en wil nie dat dieselfde met hulle gebeur nie. My dogters moet die vrymoedigheid hê om oor enigiets met my te praat. Maar ek is skaam en sekere dinge, soos seks, maak my verleë. Hoe begin ek ’n gesprek oor seks met hulle?

Dr. Elna McIntosh

Seksuoloog en radio- en TV-persoonlikheid van Johannesburg

ANTWOORD

Ouers moet reeds kleintyd met hul kinders oor seks begin praat. Daar word dan reeds vroeg ’n klimaat van openheid en vertroue geskep. Wees verseker dat jy reeds met die moeilike taak begin het en seksuele inligting met jou liefdevolle versorging en aanraking oordra. As hulle bad, was jy seker hul privaatdele, of help hulle daarmee.Jy leer hulle waarskynlik wat die funksie daarvan is. Dié respek wat jy vir hulle as mens toon, leer hulle hoe om ander te behandel en is ’n vorm van seksopvoeding.

Watter boodskappe wil jy aan hulle oordra? Jy vertel hulle waarskynlik dat jy lief vir hulle is. En altyd daar sal wees om hulle te ondersteun en te help. Jy praat uiteraard anders met jou 3-jarige as met die ouer kinders, maar die boodskap bly dieselfde. Benader seksverwante onderwerpe dieselfde. Met jou jongste kan jy begin deur die regte name vir die onderskeie liggaamsdele te gebruik. Leer hulle van “goeie“ en “verkeerde“ aanraking en dat hul liggame aan hulle behoort. Boeke, pamflette, webblaaie en flieks kan ook gesprekke aanmoedig.

Lees Debra W. Haffner se boeke From Diapers to Dating (1999) en Beyond the Big Talk (2001), albei deur Newmarket-uitgewers. Dis nie duidelik of jý al vrede met jou kindertydse ervaring gemaak het nie. Daar is sielkundiges en maatskaplike werkers wat jou kan help. Lees Ellen Bass en Laura Davis se The Courage to Heal: A Guide to Women Survivors of Child Sexual Abuse (HarperCollins, 2005).