Leef 100%

is ’n raadgee-rubriek spesiaal vir jou. Ons paneel kenners sluit van ’n dokter en sielkundige tot ’n SARIE-leser in. Hulle sal jou kwelvraag vanuit hul eie perspektief beantwoord. Daarby bekyk ’n bekende seksuoloog intieme sake.

‘Ek is besig om my huwelik te vernietig met woede-uitbarstings wat my oorval. Ek het tot onlangs geglo ek kan my humeur beteuel, maar ná die laaste episode moet ek erken dat ek beheer verloor het. Ek drink nie, my huwelik is gelukkig en ons het ’n pragtige dogtertjie. Dit begin gewoonlik met een of twee klagtes of kritiek, maar ruk dan handuit. Dan bestook ek my man met die wreedste en onregverdigste beledigings. Hy sê dit lyk asof ek besete raak. Ná die tyd is ek doodmoeg en gaan slaap.’

Terry de Vries Nel

Energie-terapeut van Stellenbosch

ANTWOORD

Be the change you wish to see in this world. Dié woorde van Gandhi laat ’n mens opnuut besef jy kan niemand verander nie. (Veral nie ’n man nie!) Jy kan net jouself en die manier waarop jy reageer, verander. ’n Mens is ook nooit ontsteld en kwaad oor die rede wat jy dink nie. Sit stil, doen introspeksie en vra jouself af wat werklik die probleem is. Is daar miskien ’n ervaring in jou kinderjare wat jou óf woedend óf geweldig hartseer maak? Is die punte van kritiek teen jou man iets binne jouself wat jy op hom projekteer? Of is daar dalk net eenvoudig ’n wanbalans in jou hormone? Dit help nie om van jou probleme af weg te hardloop en te gaan slaap nie.

Net jý kan by die kernrede van jou uitbarstings uitkom. Net jý kan jouself weer gelukkig maak. Lees The dance of anger deur Harriet Goldhor Lerner (HarperCollins, 1992), besoek ’n dokter, begin met ’n dagboek, sit in die natuur, leer mediteer, sing, doen joga. Doen iets kreatiefs soos tuinmaak, mosaïek of begin met ’n knipselboek (scrapbooking), leer saam met jou man om die tango te dans, speel met jou kind. Dóén net iets.

Truida Heymann

Kaapstadse sielkundige berader en skrywer van boeke oor selfkennis

ANTWOORD

Woede kan ’n aanduiding wees dat jou basiese, primitiewe behoeftes aan deernisvolle koestering, versorging en onvoorwaardelike liefde nie vervul is nie. So ook jou behoeftes aan veiligheid, konsekwente ondersteuning en aanmoediging. Dié gevoelens van verlies kan lewenslank bly uitbars as die lewe jou weer teleurstel. En selfs die mees perfekte huweliksmaat kan nie daardie leemte vul nie. Sulke intense woede kan ’n aanduiding van die een of ander vorm van mishandeling as kind wees.

Dalk onthou jy dit nie, omdat kinders traumatiese gebeure diep wegbêre. Jy is as kind dalk nie toegelaat om jou negatiewe emosies uit te druk nie en moes vroeg leer om veral aggressie en hartseer te onderdruk. Emosies wat onderdruk word, is soos diere in ’n hok: Hoe langer die inperking duur, hoe wilder en meer besete raak hulle. Noudat jy jouself in ’n veilige huwelik bevind waar jou maat na jou behoeftes luister, bars dié diere onbeheersd uit. Die woede kan ook ’n aanduiding wees dat jy nie jou eie sielspad volg nie. Jy ervaar dalk werkfrustrasie omdat jy destyds nie jou eie passie gevolg het nie, maar jou ouers of voorligter se idee van wat reg vir jou is. Besoek ’n terapeut by wie jy aanklank vind om jou te help om die kwaai dier in jouself mak te maak - en sy kreatiewe energie los te laat. Die hartseer wat onder die woede weggesluit is, sal egter eerste aandag moet kry.

James de Villiers

Voorligtingsielkundige en hipnoterapeut van Kaapstad met ’n belangstelling in emosionele volwassenheid

ANTWOORD

Daar is nie ’n eenvoudige oorsaak van jou probleem nie. Ons almal onderdruk sekere emosies en leer verdedigingsmeganismes aan. Dis die beste wat ons op daardie tydstip kan doen, maar later vorm dit ’n patroon. Op ’n dag kan ons dit nie meer volhou nie en oorreageer dan. Die onbenulligste dingetjie, alledaagse druk, ’n stresvolle situasie of gebeurtenis kan die sneller-aksie wees. Gaan sit op jou eentjie en word stil. Besoek in jou verbeelding ’n plek waar jy rustig en veilig voel. Keer in jou gedagtes terug na die laaste keer dat jy ’n woede-uitbarsting gehad het. Identifiseer die gevoel wat jy net voor die uitbarsting ervaar het. Moenie by kwaad of woede vassteek nie, want daar is ander emosies wat jy selfs vóór die woede ervaar, soos vrees, hartseer, vernedering, alleenheid, verwerping, skaamheid, magteloosheid of verontregting. Vra jouself af waar jy voorheen in jou lewe só gevoel het en soek die verband met jou woede.
Praat met ’n vertroueling oor dié emosies. Identifiseer veral jou onvervulde behoeftes en bring veranderings in jou leefstyl en gedrag aan om dit te bevredig. Betrek jou man by die proses. Besoek ’n sielkundige en dokter as dinge nie beter gaan nie.

Hantie Olivier

SARIE-leser


ANTWOORD
Jou gedrag is ’n rooi lig. Gelukkig besef jy dit en is jy bereid om hulp te soek. Begin by jou gesondheid. Wanneer laas het jy vir ’n ginekologiese ondersoek gegaan? Vertel die ginekoloog van jou woedebuie en laat hy/sy die nodige toetse doen. Miskien het jy ’n hormonale probleem. Dis een moontlikheid.
Dan: Woede is dikwels ’n teken van magteloosheid. Jy voel iets in jou lewe is te groot om te hanteer en dat daar nie ’n oplossing is nie. Daarom is jy baie kwaad. Dis soos om ’n pil te drink vir ’n hoofpyn, sonder om die oorsaak daarvan te probeer vasstel. Jy sal na die kern van die probleem móét gaan. Wat in jou lewe laat jou só magteloos voel? Hoe goed kyk jy na jouself? Gee jy aandag aan jou emosionele en spirituele behoeftes? Of is jy so oorlaai dat jy nie ook nog eie behoeftes kan hê nie? Hoe is jou verhouding met jou gesin in die algemeen? Voel jy dalk misbruik en dat niemand jou behoeftes in ag neem nie? As jy nie self ’n antwoord kan kry nie, raadpleeg ’n sielkundige.

Ons praat seks

VRAAG

Ek is ’n 40-jarige man en al 6 jaar lank getroud. Ons liefdeslewe is morsdood. Ek vermoed dis my skuld weens die manier hoe ek na die liefdesdaad kyk. Seks is seks, ek maak nie liefde nie. En dis harde werk, hoekom jou energie mors?

Dr. Elna McIntosh

Seksuoloog en radio- en TV-persoonlikheid van Johannesburg

ANTWOORD

Seks met een persoon kan ná ‘n tyd eentonig raak: Dit word ‘n ritueel, bv. altyd Vrydagaande ná die nuus, in die sendelingposisie en met die ligte af. En hoe hou jy dit nuut en opwindend as jy jouself nie onlangs (of dalk nog nooit) die kans gegee het om die teuels te laat los nie? Om ‘n liefdevolle verhouding op lang termyn te laat slaag en vonk te gee is oop, eerlike kommunikasie nodig. As julle mekaar vertrou en intieme dinge kan bespreek, is dit makliker om te praat oor wat jou stimuleer.

Baie dinge in die lewe is harde werk. Maar ons doen dit: Omdat dit ons, of ons maat, plesier gee. Ek is nie seker waarvoor jy jou energie spaar nie, maar as dit nie vir jou vrou is nie, klink dit of jy dit inderdaad mors! Ek wil ook voorstel dat jy ’n dokter besoek. ’n Lae libido by mans bo 40 kan ’n teken wees dat daar iets ernstigs verkeerd is, soos hartsiekte of diabetes. Maar jy dink: “O, ek raak oud” of “Ek is nie meer lief vir my vrou nie.” Sekere hormone speel ’n rol by seksuele drange. Veral testosteroon, wat die “libido-hormoon“ genoem word, is belangrik. Dis normaal dat testosteroon se vlakke afneem met ouderdom. Stres speel ook ’n rol: Dit daal soos wat kortisol, die sogenaamde stres-hormoon, toeneem.

Daar is nuwe produkte om jou testosteroonvlak aan te vul. Soos testosteroon-inspuitings wat direk in die bloedstroom beland. Ook ’n testosteroon-liggaamsproei, wat deur die vel opgeneem word en dan die bloedsomloop binnedring.