Leef 100%

is ’n raadgee-rubriek spesiaal vir jou. Ons paneel kenners sluit ’n dokter, sielkundige en ’n SARIE-leser in. Hulle sal jou kwelvraag vanuit hul eie perspektief beantwoord. Daarby bekyk ’n bekende seksuoloog intieme sake.

‘Ek en my man het albei kinders uit vorige huwelike. My dogter (9) het hom maklik aanvaar. Maar sy dogters van 14 en 16 is nors en afsydig teenoor my. My man reken ek moet hulle net tyd gee. Maar ons is al 2 jaar lank getroud! Daar is voortdurend konflik en dan kies hy hulle kant. Dit voel al meer of sy kinders belangriker as ek en ons verhouding is.

James de Villiers

Voorligtingsielkundige en hipnoterapeut van Kaapstad met ’n belangstelling in emosionele volwassenheid

ANTWOORD

’n Egskeiding en tweede huwelik, veral as daar kinders is, is ’n emosioneel gelade tyd en vereis ’n aanpassingsproses. Die emosies en behoeftes van alle betrokkenes word dikwels op die spits gedryf - ook onderdrukte emosies en onvervulde behoeftes uit die verlede. Ons almal sukkel soms om ons emosies en behoeftes duidelik te verwoord. Dit kom dan in ons menings en gedrag uit. Ons vorm menings oor onsself en ander, en tree teenoor mekaar op asof daar ’n eenvoudige oorsaak en oplossing vir ’n probleem is.
Identifiseer jou emosies, frustrasies, eensaamheid, gevoelens van verontregting, asook jou behoeftes aan aanvaarding, respek en ondersteuning, en verbaliseer dit teenoor jou man. Moedig hom aan om dieselfde te doen en ook om dieselfde met sy dogters te doen. Moenie verbaas wees as jy agterkom julle het eintlik almal min of meer dieselfde gevoelens en behoeftes nie. As jy en jou man met respek en liefde teenoor mekaar optree, skep julle ’n verhouding en veilige ruimte vir jul kinders. Een waarin hulle algaande veilig kan voel om hulself te wees en julle te vertrou - en niemand nodig het om hom- of haarself te bewys, te verdedig of te vergelyk nie.


Truida Heymann

Kaapstadse sielkundige berader en skrywer van boeke oor selfkennis

ANTWOORD

’n Egskeiding laat meesal letsels op kinders. Jou stiefdogters het waarskynlik nog nie die trauma verwerk nie en projekteer hul woede op jou. Dit lyk asof jou man van die probleem probeer wegvlug en die kraaines op jou skouers laai. Hy moet oortuig word om verantwoordelikheid vir hul gedrag te aanvaar. Dis immers sy kinders en net hy het die gesag om op te tree.
Daar moet onderhandelings plaasvind. Sy dogters moet sê wat hul behoeftes is en watter soort voorregte en ruimte hulle in die huis nodig het. Jy moet jou eie verwagtinge oordra. Dan moet ’n kompromie bereik en vaste reëls bepaal word. Jou man moet sorg dat dié ooreenkoms nagekom word. Hy moet sy dogters dissiplineer as hulle destruktief teenoor jou optree.
As hy weier om verantwoordelikheid te aanvaar sal julle vir huweliksterapie moet gaan. En met die hulp van ’n fasiliteerder by ’n oplossing moet uitkom. Want as hy nie vir die probleem pa staan nie, is die huishouding tot ’n konstante slagveld gedoem. As jy selfondersoek doen en vind dat jy sukkel om sy dogters met oop arms lief te hê voel jy dalk bedreig deur jou man se gewese vrou. Die redes kan diepliggend wees, soos vorige verraad deur geliefdes of minderwaardigheid, en kan met terapie opgeklaar word.

Dr. Linda Friedland

Johannesburgse geneesheer met ’n holistiese perspektief, openbare spreker en skrywer van die boek Self - die essensiële gesondheids- en lewenstylgids vir vandag se vrou (Tafelberg)

ANTWOORD

Jou situasie is moeilik, maar jy kan dit omskep in een wat werk. Dis nooit maklik om ’n stiefouer te wees nie. In die eerste plek moet jy besef dat jy en jou stiefdogters
dalk nooit ’n warm en liefdevolle verhouding sal hê nie. Maar dit kan wel ’n beleefde en vriendelike verhouding met respek wees. Jy moet verstaan dat daar ’n groot verskil is tussen ’n 9-jarige meisiekind (soos jou dogter), en tieners (soos jou stiefdogters).
Adolessensie is selfs vir ’n biologiese ma ’n moeilike tyd. Hul nors en afsydige gedrag kan dalk deels dááraan toegeskryf word. Dis dus nie noodwendig op jou gerig nie. Maar jy moet steeds dringend iets daaraan doen. Dit lyk of jy en jou man baie vir mekaar omgee. Ek stel voor dat julle professionele hulp en leiding soek om seker te maak jul huwelik werk. Dit sal die moeite werd wees om die hele gesin te betrek. Met die hulp van ’n ervare gesinsterapeut kan julle leer om in groter harmonie saam te leef. Maar jy moet bereid wees om moeite te doen en realistiese verwagtinge koester.

Marieke Brand

SARIE-leser

ANTWOORD

Kinders kan geweldige probleme in tweede huwelike veroorsaak - en dit selfs laat sink. Jou man wil lojaal teenoor jou wees, maar besef sy kinders se lewe is ontwrig. Hy voel dalk skuldig teenoor hulle - en hulle buit dit uit. Tieners is dikwels krities teenoor hul ouers. Maar dis veiliger om hul hartseer en woede op die “indringer” te rig. Dalk voel hulle, bewustelik of onbewustelik, hulle is lojaal teenoor hul ouers as hulle die tweede huwelik saboteer.
Dit gaan dalk nooit makliker word nie. Jou stiefkinders het ’n patroon gevestig waarin jy die vyand is - en hulle kry boonop simpatie van Pa. Dit vervreem hom van jou en laat hulle magtig voel. Julle sal saam ferm grense moet stel. Daarvoor sou ek ’n neutrale kenner inroep. Dis belangrik dat julle ’n span vorm, minstens op die oog af. Die kinders hoef nie te weet as julle nie saamstem nie.
En maak goeie maniere en bedagsaamheid ononderhandelbaar. Hou jou kant skoon. Wees prakties en emosioneel ’n goeie ma vir hulle. Maar moenie toelaat dat hulle jou misbruik nie. Moenie na hul liefde vry nie; verdien eerder hul respek. En onthou, daar kom ’n tyd in ’n huwelik wanneer die kinders huis uit is. Byt vas en baklei vir die toekoms van jou huwelik.

Ons praat seks

VRAAG
Ek het agtergekom my kêrel besoek pornografiese webblaaie. Dit maak baie onsekerhede in my wakker. Wat my veral ontstel, is dat dit gay-pornografie is. Ons sekslewe was die eerste jaar bevredigend, hoewel hy altyd bietjie skaam was. Maar deesdae is ek gelukkig as dit een keer per week gebeur en dan moet ek die aanvoorwerk doen. Kan dit wees dat hy biseksueel is, of is die gay-blaaie net prikkelend vir hom? Hoe moet ek die saak aanpak?

Dr. Elna McIntosh

Seksuoloog en radio- en TV-persoonlikheid van Johannesburg

ANTWOORD

Die mens is van nature nuuskierig, party meer as ander. Pornografie is nog altyd deur die samelewing as verbode en pervers bestempel. Nou het jou kêrel skielik toegang tot 'n private "biblioteek" waar hy dié verbode plekke kan besoek. Dis nie te sê as hy na homoseksuele pornografie kyk, hy sulke neigings het nie. Vroue kyk na beeldskone meisies, bewonder hul pragtige bene, hare, vel en borste, en wens hulle kan ook só lyk. En glo my, mans doen dieselfde. Hulle word daagliks blootgestel aan mans met gespierde lywe wat sport beoefen, en moenie dink hulle beny hulle nie. Dus, hy is dalk meer nuuskierig oor wat homoseksuele mans doen as om tot die daad oor te gaan.

Tog is dit baie belangrik dat julle op 'n gepaste manier die "probleem" bespreek:

  • Moenie jou kêrel aanrand of die rekenaar by die venster uitgooi nie.
  • Maak beurte om na mekaar te luister. Moenie mekaar in die rede val, beskuldig, of skreeu nie.
  • Besluit wanneer in die dag en hoe lank gaan julle praat (of baklei).
  • Gebruik "ek"-sinne: "Ek voel woedend/seergemaak/ontsteld." Nie: "Jy maak my mal" nie.
  • Ruil rolle om en probeer die saak vanuit die ander een se gesigspunt sien.