Leef 100%

is ’n raadgee-rubriek spesiaal vir jou. Ons paneel kenners sluit van ’n energieterapeut en sielkundige tot ’n skrywer van boeke oor selfkennis en ’n SARIE-leser in. Hulle sal jou kwelvraag vanuit hul eie perspektief beantwoord. Daarby bekyk ’n bekende seksuoloog intieme sake.

‘Ek is 24 jaar oud en het in ’n huis grootgeword waar my pa my ma geslaan, afgekraak en verkul het. Dieselfde het met my in my eerste verhouding gebeur. Die volgende man by wie ek betrokke was (die pa van my 9 maande oue baba) het my verlaat terwyl ek swanger was. Ek het nou ’n verhouding met ’n wonderlike man. Hy aanvaar my kind en ondersteun my. Maar ek het geen vertroue in mans nie. Ek het ’n swak selfbeeld, ly aan depressie en kry erge hoofpyne. My werk en kind ly daaronder. Ek wil net gelukkig wees.’

Terry de Vries Nel

Energieterapeut van Stellenbosch

ANTWOORD

  • Depressie is die siel se manier om jou aandag te trek. Dit dwing jou om op ’n innerlike reis te gaan en te kyk wat daarbinne aangaan. En om verantwoordelikheid vir jou eie lewe te aanvaar.
  • Dit beteken nie jy moet jouself, jou omstandighede, jou ouers of mans die skuld gee nie, maar dat jy die pyn van depressie moet beleef en bewus raak van die emosies wat daaragter skuil.
  • Aangesien jy ’n lae selfbeeld het en ook erge hoofpyne kry, is een van jou emosies waarskynlik woede. Slaan ’n kussing en gil en skree tot jy die woede in jou voel opstoot.
  • Skryf dan briewe aan almal vir wie jy kwaad is - en verbrand dit. (Jou woede is die probleem, nie wat ander mense aan jou gedoen het nie.) Gaan dan op jou knieë en sê dankie. Dankie vir almal wat deel gehad het in jou ervarings. Hulle is jou grootste leermeesters. Sê dankie, vergewe hulle en jouself - en beweeg aan. As jy gelukkig wil wees, moet jy kiés om gelukkig te wees. Soos Don Miguel Ruiz skryf in sy boek The Four Agreements: A Practical Guide to Personal Freedom (Amber-Allen-uitgewers, 1997): “Geluk is ’n keuse, en só is lyding. Ons het ’n keuse: Om te ly - of om lief te hê en gelukkig te wees.”

James de Villiers

Voorligtingsielkundige en hipnoterapeut van Kaapstad met ’n belangstelling in emosionele volwassenheid

ANTWOORD

  • John en Linda Friel skryf in hul boek Adult Children: The Secrets of Dysfunctional Families (Health Communications, 1988) só oor disfunksionele gesinne: “Iets het lank gelede met ons gebeur. Dit het meer as een keer gebeur. Dit het ons seergemaak. Ons het onsself beskerm op die enigste manier wat ons geken het. Ons beskerm onsself steeds. Dit werk nie meer nie.”
  • In só ’n gesin is die verskil tussen die hoogte- en laagtepunte baie groot en jy raak gewoond daaraan. Jy raak agterdogtig as dit goed gaan en vertrou nie die vrede nie, want jou ervaring sê dit gaan nie lank hou nie. Jou gesonde verstand sê jou man is “wonderlik”, maar jou onderbewussyn sê jy gaan net weer verwerp en in die steek gelaat word. En dat jy in elk geval nie goed genoeg is om lief te hê nie. Die vraag is nie of jy mans kan vertrou nie, maar of jy jouself kan vertrou en liefhê. Jy gaan dit nie sommer met ’n blote wilsbesluit en gesonde verstand regkry nie. Jy kán egter met gereelde terapie deur jou onderdrukte emosies werk. Oorweeg ’n terapie soos hipnoterapie wat holisties werk - dus met jou spiritualiteit, emosies, persepsies, fisieke simptome en gedragspatrone.

Truida Heymann

Kaapstadse sielkundige berader en skrywer van boeke oor selfkennis

ANTWOORD

  • Jy dra swaar aan emosionele bagasie. Maar dis jou redding dat jy besef jy is in ’n patroon van verwonding of gebrokenheid vasgevang. Vroue wat ’n negatiewe ervaring met hul pa gehad het, het soms ’n sadistiese opvatting van mans. Jy voel dus onbewustelik tuis by mans wat jou nie respekteer nie. En jy trek sulke mans na jou toe aan. Jy het ’n plofbare en onveilige gesinsopset beleef waar verraad gepleeg is. Jy gaan beslis nie die lewe of ander mense vertrou nie, vandaar jou angstigheid.
  • Ek hoor egter ook ’n vasberadenheid om uit dié slagoffer-rol los te kom. Maar jy moet nou daad by die woord voeg. Raak bewus van twee botsende kragte in jou psige: Die een wat jou onwillekeurig terugtrek na die bekende patroon van ongelukkigheid, minderwaardigheid en depressie. En die ander een wat beur na vryheid, geluk, lewenslus en hoop op herstel en selfvervulling. Jy kan nie die bloudruk van ’n destruktiewe man net met wilskrag verander nie. Besoek ’n terapeut by wie jy veilig voel, sodat hy/sy saam met jou ’n pad deur jou traumatiese kinderjare kan stap. En ’n getuie kan wees van die menige ontstellende ervarings waaraan jy blootgestel was. Dis vir die meeste mense pynlik om oor dié ervarings te praat en weer aan die rou emosies blootgestel te word. Maar as dit in jou onderbewussyn onderdruk word, steel dit ál meer van die energie wat jy vir jou werk of gesin nodig het.

Marieke Brand

SARIE-leser van Kaapstad

ANTWOORD

  • Jy is ’n intelligente vrou wat verstaan dat ’n vernietigende verhouding sleg vir jou en jou kind is. Wat wéét dat jy ’n beter lewe begeer. Jy is selfs sterk genoeg om dit ’n werklikheid te maak - wat ’n groot prestasie is. Maar jou ma was haar lewe lank jou pa se slagoffer. Hoewel jy bewustelik sien en verstaan hoe verkeerd dit was, het jy waarskynlik onbewustelik aanvaar dis maar soos dit werk: Mans is wreed en verraderlik, en vroue word vertrap. Baie mishandelde vroue glo, bewustelik of onbewustelik, hulle verdien om mishandel te word. Hulle voel ongemaklik in ’n gesonde verhouding en soek eerder weer na die “bekende” - ’n verhouding waarin hulle fisiek en emosioneel verniel word.
  • Jy het soveel vermag deur uit die patroon van mishandeling en verraad te breek. Maar die pyn van jou verlede, die impak wat dit op jou psige gehad het, kan nie met wilskrag reggemaak word nie. Ook nie met ’n paar paragrawe in ’n tydskrif nie. Moenie moed verloor nie. Kry professionele hulp en begin werk aan die letsels wat dreig om jou geluk te verongeluk. Dis ’n lang pad, maar die moeite werd. Jy verdien om ’n heel, gelukkige mens te wees.

Ons praat seks

VRAAG

Elke keer wanneer ek seks het, veral in sekere posisies, klink dit asof ek ’n wind laat. Dis so ’n verleentheid. Gebeur dit met ander vroue ook en is daar enige manier om dit te keer?

Dr. Elna McIntosh

Seksuoloog en radio- en TV-persoonlikheid van Johannesburg

ANTWOORD
Ja, dit gebeur met ander vroue en ja, dis ’n verleentheid! Dit gebeur as daar lug in jou vagina kom tydens penetrasie, as jy opgewek word en selfs met oefening. As jy gedurende seks geprikkel word, verleng die vagina en die baarmoeder beweeg, wat meer ruimte vir lug skep. As die vagina en baarmoeder na hul oorspronklike posisie terugkeer, word die lug uitgepers - tot jou verleentheid. Ekstra smeermiddels kan dalk ’n verskil maak. Jy kan ook ’n rukkie wegbly van sekere posisies. Sê iets soos: “Daar is ’n trek in die kamer“ om jul aandag af te lei. Of sê net: “Verskoon my!“