Leef 100%

is ’n raadgee-rubriek spesiaal vir jou. Ons paneel kenners sluit ’n sielkundige, holistiese terapeut en SARIE-leser in. Hulle sal jou kwelvraag vanuit hul eie perspektief beantwoord. Daarby bekyk ’n bekende seksuoloog intieme sake.

James de Villiers

Voorligtingsielkundige en hipnoterapeut van Kaapstad met ’n belangstelling in emosionele volwassenheid

ANTWOORD

  • Ek hoor geluide van ’n disfunksionele huwelik en ’n gekompliseerde egskeiding tussen jou man en sy eks-vrou. Sy sukkel om haar hartseer en ongelukkigheid sonder hom te hanteer. Sy het hom nodig, al beteken dit dat sy met julle moet baklei. Jy kan nie verhinder dat sy jou verhouding met jou man en sy kinders versuur nie. Erken dat dit onaangenaam en moeilik is. En besluit dan hoe jy jóú ongelukkigheid gaan hanteer. Moenie op haar optrede reageer nie, anders gaan jy al meer magteloos, verontreg en kwaad voel.
  • Fokus op jou man, jul drome en die belangstellings wat julle bind. Wat sy kinders betref: Wees die mens wat jý wil wees. Hulle voel reeds verskeurd tussen hul ouers. Wees versigtig om nie jou gevoelens vir hul ma op hulle uit te haal nie. Jy het nie nodig om hul guns te wen óf met hulle te baklei nie. Hanteer hulle altyd met respek, maar wees eerlik en ferm as hulle jou nie ook só behandel nie. Luister meer as wat jy wil voorskryf of verander, want dis wat hulle nou die nodigste het. As die situasie vererger, soek hulp by ’n sielkundige.

Truida Heymann

Kaapstadse sielkundige berader en skrywer van boeke oor selfkennis

ANTWOORD
Dit klink asof jy magteloos teen die wraak-tirades van jou man se eerste vrou voel. Hoekom steur jy jou so erg aan haar? En waarom kies sy jou as teiken?

  1. Hoe lyk jou selfwaarde? Is jy in kontak met jou eie innerlike wysheid en outoriteit? Kan jy jouself oortuig dat jy met integriteit opgetree het - en dat jy jou daarom nie aan haar skinderveldtog hoef te steur nie? Fokus op die positiewe dinge in jou lewe. En dié donker wolke sal later verdwyn.
  2. Doen selfondersoek. Is jy dalk vasgevang in die rol van ’n sondebok? Gesinne sonder dikwels onbewustelik een of meer lede uit om op te pik. Hul eie, onaanvaarbare eienskappe word dan op dié mens geprojekteer. Só iemand lok altyd mense uit om herhaaldelik hul wrewel en woede op hom/haar af te laai.
  3. Die regte perspektief sal jou help om jou minder aan haar tantrums te steur. Iemand wat baie seerkry, maar nie die pyn of verlies verwerk nie, steek dikwels by woede en bitterheid vas - en vind verligting deur ander seer te maak.
  4. Dit lyk nie of jou man sterk genoeg optree om jou en die kinders te beskerm nie. Hy behoort haar te verbied om met jou kontak te hê. Hy moet ook aan haar verduidelik watter vernietigende uitwerking haar optrede op haar kinders kan hê.

Marleen de Villiers

Holistiese terapeut en sielkundige van Johannesburg

ANTWOORD

  • Jy en jou man moet openlik hieroor gesels. Verduidelik dis vir jou moeilik dat sy eks-vrou jou lewe so negatief beïnvloed. Dis belangrik om grense te stel. Moet bv. nie in ellelange gesprekke met hom oor sy vorige vrou en hul huwelik betrokke raak nie. Sê hoe ver jy bereid is om hom by te staan en waarvoor jy nie kans sien nie. Moenie dreigemente rondslinger nie. Jou fokus is op die hede - wat beteken dat jy op jou eie huwelik en verhouding met die kinders fokus. Vermy ten alle koste dat julle oor haar baklei. Moenie met die kinders in gesprekke oor hul ma betrokke raak nie: Dit skep net ’n gevoel van vyandigheid.
  • Wees lief vir jou man en onthou hoekom julle met mekaar getrou het. Sorg ook dat hy op jou verlief bly - verteenwoordig eerder die mooi dinge in verhoudings. Moet veral nie jaloers wees nie, hy is immers nou met jóú getroud. Moenie op haar oproepe en boodskappe reageer nie. Probeer ook om haar gedrag te verstaan. Sy is waarskynlik baie ongelukkig en voel bedreig deur haar eksman se nuutgevonde geluk en emosionele sekuriteit. Probeer die spreekwoordelike myl in haar skoene loop. Dit sal jou help om nie haar optrede persoonlik op te neem nie.

Hantie Olivier

SARIE-leser van Roodepoort

ANTWOORD

  • As daar kinders betrokke is, is ’n eks-vrou in dieselfde kategorie as ’n skoonma: Jy het haar gekry nes sy is en moet haar só aanvaar. Maar jy hoef nie die negatiewe energie te verduur wat sy in jou rigting stuur nie. Jy hoef nie die haat-speletjies saam met haar te speel nie. Jy hoef nie jou kant van die storie te vertel en saam te skinder nie. Jy kan niks aan haar gedrag doen nie. Maar hoe jy daarop reageer, is beslis in jou hande. Natuurlik is daar grense en jy kan dit baie duidelik stel.
  • Dié vrou is nie toevallig in jou lewe nie: Sy is daar dat jy iets oor jouself kan leer. Haal die fokus van haar af en vra God om jou te wys wat dit is. En sodra jy dit geleer het en neutraal teenoor haar staan, sal sy uit jou lewe verdwyn. Dis onmoontlik om iemand te haat wat neutraal bly. Hanteer haar negatiwiteit telkens met lig en liefde - en dit sal geen skade aan jou kan doen nie. Vir vrede in jou lewe, moenie wag dat sy verander nie. Besluit om vrede te hê - ten spyte daarvan.

ONS PRAAT SEKS

VRAAG

Hoe weet ek dat ek aan seks verslaaf is? Wat is die tekens waarna ’n mens moet oplet? Ek het ’n baie sterk libido en my man reken dis abnormaal. Hy sê hy kan eenvoudig nie byhou nie.

Dr. Elna McIntosh

seksuoloog en radio- en TV-persoonlikheid van Johannesburg


ANTWOORD

  • Vir my is daar nie iets soos seks-verslawing nie: Dis ’n fisiologiese funksie. Maar as jy voel jy is daaraan verslaaf (jy dink aanmekaar daaraan en masturbeer onophoudelik), besoek ’n psigiater. Dit gesê - die TV-reeks Sex and the City het vroue toestemming gegee om seks te vra, en dit plaas mans soms onder druk. Glo dit of nie, mans word wel soms gedwing om seks te hê. Ten spyte van die geloof dat hulle te “sterk” en “in beheer” is, of “te veel van seks hou”. Dis egter moeilik om te bepaal hoe dikwels dit gebeur, want daar is min navorsing daaroor en mans is boonop onwillig om dit te erken.
  • As jou man se gebrek aan ’n libido ’n nuwe ding is, moet hy ’n dokter besoek. Dis dalk ’n fisiologiese probleem. As sekere hormone laag is - veral testosteroon, die sg. libido-hormoon - kan dit onder meer sy seksdrang beïnvloed. Hy sal dan ook geïrriteerd en depressief wees en belangstelling verloor in dinge waarvan hy altyd gehou het. Maar dalk was sy seksdrang nog altyd laag, en het jy maar net ’n groter een as hy. As jy voel jy raak gek, masturbeer om van jou seksuele frustrasies ontslae te raak.