‘Ek het ’n nuwe kollega wat van my werk moet goedkeur. Ek is baie eerlik en reguit oor hoe ek voel; hý, daarenteen, glo aan ompaadjies. Vooraf is hy katvriendelik, maar agteraf kraak hy my werk af om homself goed te laat lyk. Ek is nie die enigste een oor wie hy lelike dinge kwytraak nie. Die stemming tussen ons is baie troebel. Die probleem is: Die baas dink hy is wonderlik. Ek wil nie kla en dit laat lyk asof ek nie kritiek kan hanteer nie. Dis nie die probleem nie. Wat my pla, is sy motivering en dat hy my agteraf kritiseer.’

Leef 100%

is ’n raadgee-rubriek spesiaal vir jou. Ons paneel kenners sluit ’n sielkundige, holistiese terapeut en SARIE-leser in. Hulle sal jou kwelvraag vanuit hul eie perspektief beantwoord. Daarby bekyk ’n bekende seksuoloog intieme sake.


Marleen de Villiers

Holistiese terapeut en sielkundige van Johannesburg

ANTWOORD

  • Dis moeilik om ’n kollega te hê wat die atmosfeer in die werkplek met verskuilde agendas en kop-speletjies vertroebel. Jy kan dalk die situasie ontlont deur reguit met hom te praat as daar weer ’n onaangename voorval is. Neem verantwoordelikheid vir jou eie ervaring, eerder as om hom die skuld te gee. Sê byvoorbeeld: “As dit (wat die situasie is) gebeur, voel/dink/ervaar ek . . .” Sou jy sê: “Jy laat my voel asof . . .,” word dit persoonlik en hanteer jy nie die probleem nie. Sy gedrag is waarskynlik nie teen jou persoonlik gemik nie; hy doen dit ook met van jou ander kollegas. Dis moontlik dat hy onseker en selfs sonder selfvertroue is. En derhalwe sy posisie misbruik om die skyn van selfvertroue, belangrikheid en mag te skep. Dit kan dalk selfs professionele afguns wees. Dit laat jou weerloos voel en die werkplek is die laaste plek waar jy só wil voel. Jy moet egter introspeksie doen oor hoekom dit jou van stryk bring. Die baas hoef nie hierby betrek te word nie - tensy dit op ’n natuurlike manier onder sy/haar aandag kom.
  • Maak soggens voor werk tyd vir persoonlike stilte: meditasie, skryf in jou joernaal, gaan stap ’n ent, of doen strek- of asemhalingsoefeninge. Dit laat ’n mens meer gesentreer en met jou voete op die grond voel. Eet ’n gesonde ontbyt. Dit sal jou bloedsuiker (en dus energievlakke) balanseer en jou help om minder angstig en gespanne te voel.

Truida Heymann

Kaapstadse sielkundige berader en skrywer van boeke oor selfkennis

ANTWOORD

  • Jy moet jou ingesteldheid en gedrag verander - sodat hy jou minder beïnvloed. Jy moet byvoorbeeld ophou hoop dat hy gaan verander, maar daarop fokus om weerstand teen hom op te bou. Dis moontlik dat die lewe só ’n vyandige mens op jou pad geplaas het om jou oefenkans te gee: Sodat jy nuwe vaardighede in jouself kan ontwikkel.
  • Dit lyk of hy ’n bang mens is wat minderwaardig voel. Mense wat nie in kontak met hul innerlike krag is nie, probeer ander domineer. Hulle weet hulle straal nie spontaan gesag uit nie. Doen jou werk goed en stel jou grense. Maar jy voel dalk later jy kan nie meer stilbly nie. Neem dan die wind uit sy seile en maak ’n afspraak met hom. Wees goed voorbereid en sê op ’n kalm en ferm manier hoe jy voel. Moenie hom beskuldig nie, maar wys hom bloot hoe destruktief sy leuens en negatiewe gesindheid is. Maak notas (en skryf datums daarby) van sy mees blatante optredes. Só ’n mens moet met duidelike feite gekonfronteer word - en nie vae insinuasies nie. Mense wat minderwaardig voel, het ’n wen-of-verloor-ingesteldheid.
  • Hy gaan nooit ’n goeie spieël van jou werkprestasie wees nie. Moet dus nie positiewe terugvoer verwag nie. Hy probeer sy minderwaardigheid op jou/ julle projekteer. Jy het ’n keuse: Jy kan dié projeksie “ontvang” of terugkaats. Wat jou baas se goedgelowigheid betref: Vertrou die lewe; die waarheid seëvier altyd.

James de Villiers

Voorligtingsielkundige en hipnoterapeut van Kaapstad met ’n belangstelling in emosionele volwassenheid

ANTWOORD
Hier is twee dinge ter sprake. Eerstens jou werk en die pratery agteraf. En tweedens jul verhouding. Wat die eerste betref, skryf neer presies wat jou pla. Vra spesifieke riglyne oor hoe hy jou werk evalueer. Jy is geregtig om dit te weet. As jy bewyse het dat hy jou agteraf bespreek, sê dat jy daarvan weet. Wat die tweede saak betref, sê jy besef nie alle mense hou ewe veel van mekaar nie, maar jy wil wedersydse respek in jul optrede teenoor mekaar hê. Gee die brief aan hom en bespreek dit dan. As jy nie ’n bevredigende reaksie in verband met die eerste saak kry nie, volg dieselfde pad as met jou kollega: Skryf ’n brief aan jou baas en reël ’n afspraak. As jy steeds ontevrede is, klop by die hoof van die afdeling vir menslike hulpbronne aan. Dis normaal om bang en onseker oor die uitwerking van sulke gesprekke te wees. Maar jy móét die saak verder voer, anders word jy ’n slagoffer en verloor jy jou selfrespek. As jy sukkel, veral met die tweede saak, maak ’n afspraak by ’n berader of ’n sielkundige.

Hantie Olivier

SARIE-leser van Roodepoort

ANTWOORD

  • Dié kollega is besig om sy eie ondergang te bewerkstellig. Om ander agteraf af te kraak om jouself beter te laat lyk, is ’n resep vir ’n ramp. Veral by die werk. Maar jy sal ook jou hand diep in eie boesem moet steek. Baie selfondersoek is nodig. Hoekom het dit met jou gebeur?
  • Wat is die donker kol in jouself wat vra om na die lig gebring te word? Skinder jy dalk saam met jou kollegas oor dié mens se swak kant? Wat moet jy hieruit leer en wat in jou moet verander?
  • Dis ook belangrik dat jy werk aan die sterk emosies wat jy ervaar. Jou ondersteuningsnetwerk kan as klankbord dien: Jy kan uitpak en objektiewe terugvoer kry. (Let wel, by jou man en vriendinne, nie ander kollegas nie.) Só sal jy beter insig in die probleem kry. Moenie die saak probeer oplos terwyl jy nog so emosioneel daaroor voel nie. Maar wat as jou kant skoon is en die probleem gaan nie weg nie?
  • Jy sal dan jou kollega moet konfronteer oor hoe hy jou werk hanteer. Betrek jou baas by die gesprek. Moenie vae beskuldigings maak nie. (“Iemand sê jy sê ek het . . .”) Stel duidelik en direk wat in sy gedrag onaanvaarbaar is, hoe dit jou laat voel en hoe dit moet verander. Praat met jou kop en nie jou hart nie.

Ons praat seks

VRAAG

Ek het geen behoefte aan seks nie. Dit stoot my eintlik af. My dokter sê my hormoontelling is baie laag. Tog dink ek soms aan romantiese dinge. Maar ek soek verskonings om nie met my man liefde te maak nie. Ons stry aanmekaar oor seks (of die gebrek daaraan). Ons is al amper 23 jaar lank getroud. Hy is goed vir ons en werk hard. Al wat hy van my wil hê, is ’n bietjie liefde. Hy sê “praat met my, sê waarvan jy nie hou nie”. Ek het nie ’n antwoord nie. Ek voel baie seer binne. Ek kan die een ding wat my man wil hê, nie doen nie. Ek is bang ek verloor hom.

Dr. Elna McIntosh

seksuoloog en radio- en TV-persoonlikheid van Johannesburg

ANTWOORD
Baie mense sê hul sekslewe verbeter met die ouderdom. Joune kan ook.

  • Vergroot jou definisie van seks. Dis meer as vaginale penetrasie. Soos wat jy ouer word, kan ander keuses dalk meer gemaklik en bevredigend wees. Aanraking kan ’n alternatief vir omgang wees. Dit kan eenvoudig beteken julle hou mekaar vas. Of dit kan sensuele massering, masturbasie of orale seks wees.
  • Gesels met jou maat, dit sal julle nader aan mekaar bring. Bespreek wat hy kan doen om jou met seks tegemoet te kom. Miskien sal ’n ander posisie dinge vir jou makliker maak. Vra hom oor sý behoeftes en hoe jy hom tegemoet kan kom.
  • Verander jou roetine, dit kan al klaar jou sekslewe nuwe skop gee. Maak liefde die tyd van die dag wanneer jy die meeste energie het. Dit neem dalk nou langer om geprikkel te word. Laat dit dus met ’n romantiese ete gepaard gaan. Of probeer ’n nuwe posisie.
  • Beheer jou verwagtinge. As jy nie baie seks gehad het toe jy jonger was nie, moenie nou iets anders verwag nie. Miskien het julle toe intimiteit op ’n ander manier uitgedruk.
  • Laastens: Vra jou dokter om jou DHEA-vlakke (dehidroëpiandrosteroon) te laat toets. Die liggaam het dit nodig vir onder meer die vervaardiging van die geslagshormone, veral testosteroon. Vlakke word laer met die jare, maar jy kan (onder dokterstoesig) aanvullings daarvoor neem.