Niks is so verfrissend, vernuwend en opwindend as om met iets nuuts te begin nie. Gee vrye teuels aan jou kreatiwiteit, kry pitkos vir die siel en strek jou lyf en brein met ons doen-dit-nou-idees.

Verlede jaar het ek net een Nuwejaarsvoorneme gehad:
Om nooit weer ’n Nuwe jaarsvoorneme te maak nie. ’n Kolossale paradoks ja, maar my teorie was: geen onbereikbare doelwitte, geen teleurstelling nie. Gelukkig (ja, gelukkig) kon ek selfs nie dié voorneme volhou nie. Toe ek myself kom kry, maak ek op tweede Nuwejaar my moet-doen-lysie

Is dit nie tog deel van die mens se natuur om homself te vernuwe nie? En bied die begin van ’n splinternuwe, kraakvars jaar nie die gulde geleentheid om dit te doen nie?

“Ons het ’n instinktiewe neiging om te vernuwe,” bevestig die Kaapse kliniese sielkundige Truida Heymann.

“Dis ons verbintenis met die natuur. Soos ’n slang wat vervel en die ou vel agterlaat, wil ons die self vervel. Ons het ’n behoefte om gesnoei te word om sodoende groei toe te laat.”
Dink aan metamorfose, ontluiking...’n pragtige skoenlapper ....

Die behoefte om te vernuwe kom altyd ná ’n periode van innerlike refleksie.
Die meeste van ons gebruik die einde van die jaar, wanneer ons met vakansie is en kan rus, om hierdie “persoonlike voorraadopname” te doen.

“Die mens se lewe is soos ’n reis en die einde van ’n jaar is soos ’n oase - ’n rusplek waar jy langs die pad asem kan skep en jou lewenskaart kan raadpleeg. Dan stel jy vas: Is ek nog op die regte pad? Moet ek nie êrens balans herstel nie? Is my prioriteite nog reg?” verduidelik Truida.

Dan maak ons planne en wil nuwe dinge met hernieude entoesiasme aanpak.

As jy nuwe aktiwiteite of stokperdjies begin, voel jy vryer, sê Truida. “Jy kry geloof in jou eie buigsaamheid en jy’s meer gemotiveerd. Verandering skep lewensvitaliteit.”

En basta daardie gevoel van mislukking as jy middeweg tou opgooi, sê Margaret Barrie, ’n Kaapse sielkundige. “As jy nie met iets begin nie, sal jy nooit weet of jy daarvan hou of nie. En as jy nie gemaklik met iets voel nie, kan jy dit los. Hoekom moet jy sleg voel?”

’n Mens moet ook onthou daar is ander maniere om jouself te ontwikkel as om gym toe te gaan of om met ’n nuwe dieet te begin, sê Margaret.

“Selfontwikkeling is nie net om ’n mooi er lyf te kry nie. Maak jou brein fluks om iets te studeer, soek iets kreatiefs om te doen as jy nie by die werk aan jou kreatiwiteit uiting kan gee nie.”

Wát jy ook al besluit om te doen, sorg dat die aktiwiteit by jou persoonlikheid pas, sê Truida en Margaret.

“Jy hoef nie nuwe dinge aan te pak net omdat dit die nuutste gier is en al jou vriendinne dit doen nie. Dit moet jou eie keuse wees. Die aktiwiteit moet net nuut wees vir jou,” sê Truida.

10 DOENDINGE VIR 2005

As jy nie gereeld vernuwe nie, vertraag jy jou pas. Onnodige bagasie keer dat jy voluit lewe. So, verbreed jou wêreld en lewensuitkyk. Ontmoet nuwe mense. Kry vars inspirasie vir ’n nuwe jaar.

Hier’s 10 voorstelle vir jou.

1 Tuin-plesier

Die Britse filosoof Bertrand Russell het eenkeer opgemerk: “Elke keer wanneer ek met ’n geleerde praat, is ek seker ’n gelukkige lewe is nie meer moontlik nie. Maar elke keer wanneer ek met my tuinier praat, is ek oortuig van die teenoorgestelde.”

Waarlik, om ’n tuin uit te lê en eenvoudig ’n saadjie, bol of steggie te plant, kan jy jou kreatiwiteit uitleef. Tuinmaak is ’n eenvoudige plesier.

Ina Michau, ’n bemarkingsbestuurder, is baie lief vir tuinmaak en wil eendag voltyds met kruie boer.

“Dis die beste medisyne vir ’n stresvolle werk. Dis selfverrykend en is een van my lonendste aktiwiteite. Jy sien fisiek hoe die klein, verlepte steggie wat jy geplant het, groei tot ’n pragtige, sterk plant. Jy is heeltemal deel van hoe die plant lewe kry.”

2 Meer as net spoeg en plak

Scrapbooking is groot, met ’n hoofletter G!

Vir Marlize de Klerk, wat twee jaar gelede die eerste scrapbooking-winkel in die land geopen het, is foto-plakboeke nie net ’n manier om jou foto’s te bewaar nie. Jy beoefen jou kreatiwiteit, ontspan op ’n skeppende manier en jy kan ’n kosbare besitting aan jou kinders oordra, sê sy.

“Baie mense sit hul ou foto’s in ’n boks. Ná ’n paar jaar kan jy nie meer onthou wie die mense op die foto’s is en waar dit geneem is nie. Scrapbooking is ’n manier om jou foto’s te bewaar, maar omdat jy nie net die foto’s plak nie, maar ook teks byvoeg (journaling), kan jy baie meer oordra. As jy byvoorbeeld ’n plakboek oor jou kinders vir jouself maak, kan jy op verskillende kreatiewe maniere uitbeeld hoe lief jy vir hulle is, hoe jy gevoel het met hul geboorte, wat hulle vir jou beteken, ens. Dinge wat jy byvoorbeeld nie meer sal kan oordra as jy nie meer die dag daar is nie.”

Jy kan scrapbooking alleen doen of in ’n groep. As jy dit alleen doen, kan dit baie terapeuties wees. Jy word stil en fokus net op die scrapbooking-proses. En omdat jy basies met herinnerings werk, huil en lag jy en verwerk jy opgekropte emosies, sê Marelize.

Baie vroue stig ook scrapbooking-klubs waar hulle tegnieke uitruil en nuwe vriende maak. “Vroue het soveel verpligtinge as ma, werknemer en eggenote. Dis moeilik om soms tyd vir jouself in te ruim. Ons het ’n BBP-klub wat een keer ‘n maand bymekaarkom en tot middernag scrapbook.”

Scrapbooking het ’n heel ander taal en kan baie ingewikkeld raak met spesiale papier, gom, skêre, kraletjies, lintjies en ander tierlantyntjies. Marelize stel voor dat jy ’n beginnersklas bywoon as dié gier vir jou heeltemal vreemd is. Slypskole word gereeld deur The Scrapbook Company aangebied. Navrae: 012 807 6468 of www.scrapbookcompany.co.za
In Scrapping & Kie, Suid-Afrika se eerste scrapbook-tydskrif, wat beskikbaar is in boekwinkels, kan jy ook meer lees oor scrapping-kursusse en -tegnieke.

3 Pardon my French

’n Paar maande gelede was ek só trots om dat ek met my vakansie in Parys ’n hamburger en skyfies by Mc Donald’s in Frans kon bestel. Nou nie juis haute cuisine nie, maar volgens die gesondheidswebtuiste Health24 versterk jy jou brein deur ’n nuwe taal te leer. “As jy ’n taal aanleer, verander dit jou grysstof, op dieselfde manier as wat oefening jou spiere bou,” berig die webtuiste.

Dis ook ’n manier om mense van ander kulture beter te verstaan.
Mieke van der Vyver, ’n student aan die Universiteit Stellenbosch, kan 5 tale (Afrikaans, Engels, Frans, Duits en Mandaryns) vlot praat. Volgens haar raak jy soveel ryker as mens, en jou horisonne en denkwyse verbreed en verskuif as jy ’n taal aanleer.

“Ek wil ’n dieper begrip van ander kulture kry en jy kan dit slegs doen as jy iemand se taal kan praat.”

Sy is besig met verdere studies in Mandaryns. “Dis die moeilikste taal wat ek nóg geleer het. Maar dit is baie interessant en jy kry nogal ’n kultuurskok.”

’n Ander taal verhoog ook jou beroepsmoontlikhede en is beslis ’n bate op jou CV. “Ek het twee jaar by die Franse ambassade gewerk en dit was wonderlik. Ek het ook baie goeie Franse vriende gemaak,” sê sy.

4 Maak ’n lys

Begin ’n dagboek waarin jy ’n lys van jou doelwitte en drome vir die toekoms maak.

Volgens die webtuiste goals2005.com is die grootste verskil tussen mense wat in die jaar sukses bereik en diegene wat net nóg ’n jaar sal oorleef - ’n goed deurdagte plan. Moenie jou drome sensureer nie en skryf jou drome in detail neer. Die eerste stap om ’n droom te realiseer is om dit neer te skryf. Selfs al bewaarheid jy slegs ’n paar van jou drome in jou leeftyd, sal jy verder wees as diegene wat nooit probeer nie.

5 Spaar

Hoe eet jy ’n olifant? Hap vir hap. Jy kan groot drome bewaarheid as jy dit stap vir stap benader. Open ’n spaarrekening. As jy bv. ‘n seiljagvaart om die wêreld beoog en droom van eilandvakansies langs die pad, moet jy elke week of maand ’n bietjie geld wegsit. Soos die balans groei, sal die kanse om jou droom te be waar heid ook groei en so ook jou hoop vir ander uitdagings. Bron: www.betterbudgeting.com

6 Doen iets vir jouself en ander

As jy sterk voel oor ’n saak, raak betrokke. Jy sal ook waarskynlik baie meer ontvang as wat jy gee.

Vuyelwa Booi, wat ons almal as Alyce in 7de laan geken het, sê haar siel kan nie rus as sy nie vrywillige werk doen nie.
Voor haar rol in die sepie het sy ’n jaar lank by Cotlands gewerk waar sy vigswesies gehelp het. “Dis vir my soos ’n roeping. Ek is mal daaroor om met klein kinders te werk. Die kinders smag na liefde. Hulle weet nie wat met hulle gebeur nie, waarom hulle so siek is nie. Al wat hulle weet, is dat hulle nie liefde kry nie. Vrywillige werk kan hartverskeurend wees, maar as jy sien hoe die kinders se gesiggies straal wanneer ’n mens die kamer binnestap, besef jy dis waaroor die lewe gaan - om te help, warmte te gee en ’n verskil te maak.”

Medemenslikheid hoef jou niks te kos nie. As jy een of twee uur per week iemand kan leer lees, of werklose mense ’n vaardigheid kan leer sodat hulle op hul voete kan staan en hul selfvertroue ’n hupstoot gee, is jou lewe ook soveel ryker. Dan voel jy ook asof jy iets doen wat die moeite werd is.

7 Wikkel daai lyf!

Maak oefening pret en plesier eerder as ’n martelsessie deur buikdans te leer. Dié Arabiese dans is waarskynlik deur vroue ontwerp en aan hul dogters geleer om hul maagspiere te versterk om makliker te kraam. Astrid Lewis, ’n buikdans-instruktrise, sê buikdans gee jou mooi rondings, ’n ferm lyf én selfvertroue. Vroue van enige ouderdom of liggaamsbou kan buikdans doen. So ’n plesierige gewikkel leer jou ook om jou sensuele self te ontdek, en jou eksotiese kostuum en swaaiende heupe kan ook plesier vir jou maat verskaf ...

Vir inligting oor buikdanslesse in Johannesburg en Pretoria, skakel Astrid Lewis, 083 335 8877 of besoek www.dancedirectory.co.za om uit te vind waar buikdansklasse naby jou aangebied word.

8 Probeer Japannese of Chinese skilderkuns

As jy jouself regtig wil uitdaag, is Japannese en Chinese skilderkuns net vir jou. Dié Oosterse kuns is heeltemal anders as die Westerse style. Kwashale en kwas tegniek is die belangrikste elemente.

Melody Cokayne, ’n grimeerkunstenaar, leer tans Japannese skilderkuns by ’n private instruktrise.

“Jy gebruik net een verfkwas. Dae en weke lank leer jy om net een kwashaal te maak voordat jy enigsins sal begin om ’n prentjie te skilder. Dit verg baie dissipline.
Dis soos om ballet te leer. Voordat jy kan dans, moet jy elke passie oor en oor oefen totdat dit perfek is.

“Maar omdat jy die heeltyd net op een kwashaal konsentreer, is dit ook baie ontspannend. Ek was ’n baie angstige mens. En dis vir my soos ’n vorm van meditasie, want dis so ontspannend.”

In Januarie 2005 bied die Universiteit van Kaapstad ’n somerskool aan waar jy Chinese skilderkuns kan leer.
Navrae: 021 650 2888 of www.ems.uct.ac.za. As jy meer oor die Japannese skilderkuns wil lees en by die huis wil probeer, skaf Myochi O’Hara se Zen by the Brush: A Japanese Painting and Meditation Set (Tabori, & Chang Stewart, by kalahari.net) aan.
The Complete Chinese Brush Painting Course deur Wang Jia Nan (A & C Black) is ’n maklike gids om Chinese kwastegnieke te leer.

9 Sê dit in ’n brief

“Geen e-pos het die krag, verrassingselement of duursaamheid van ’n geskrewe brief nie,” skryf die Britse joernalis Lesley Garner in haar boek Everything I’ve ever done that worked (Hay House, by Exclusive Books).

Sy meen ook een van die beste maniere om jouself op te beur is om al die goeie briewe, e-posse, notatjies en bedankings wat jy al gekry het in ’n lêer te hou.

“Dit gaan nie oor selfverheerliking nie. Dis ’n manier om jou aan te moedig en jouself te herinner dat jy êrens iets reg gedoen het en as jy dit voorheen kon doen, kan jy dit weer doen.”

10 Reik uit

Kwaaivriende met iemand? Het iemand jou seergemaak?
Desember is die tyd vir vrede, liefde en welbehae.

Wanneer jy in hierdie tyd nadink oor jouself, is daar ’n stukkende verhouding wat jy graag wil herstel?

“Eers wanneer daar afstand tussen jou en die rusie en konflik is, besef jy: “Ek het dalk ook ’n fout gemaak,” sê Truida.

Opregte versoening is ongelooflik bevrydend.

Dit maak jou ligter en sonder dié bagasie kan jy ander dinge met ’n oop gemoed aanpak.