Sy hare is lank en die helfte is blou gekleur, hy dra bont kostuums en sy snor krul windmakerig boontoe. Onthou dr. Hunter “Patch” Adams? Dié Amerikaner is ’n gekwalifiseerde geneesheer - al lyk hy allermins na jou gemiddelde dokter. Dr. Patch het sy stetoskoop vir ’n narrepak verruil. Dit klink dalk nie so nie, maar dis ernstige sake dié. Hy beskou lag, vreugde en kreatiwiteit as ’n integrale deel van die genesingsproses. (Die 1998-fliek Patch Adams, met Robin Williams in die hoofrol, is op Patch se lewe gegrond. Sy “snaakse” idees het vroeër waarskynlik baie wenkbroue laat lig.

Vandag? By die Columbia Presbyterian Medical Center in New York se Big Apple Circus/Clown Care Unit swiep ’n nar met ’n rooi gestolde glimlag op rolskaatse verby. “Kom ons trek (draw) jou bloed,“ sê hy vir ’n huilende kind. En tower skoon papier en kryt uit sy wit hospitaaljas.

Hier val die klem op lag: Professionele narre word ingespan om eenstryk deur grappies te maak. Dié hospitaal is boonop nie enig in sy soort nie. “Nar-dokters“ word ook in sommige ander Amerikaanse en Britse hospitale gebruik.

Ook “lagbiblioteke“ met komiese video’s is nóg ’n nuutjie in sekere Amerikaanse hospitale. En daar word voorgestel (deur sommige Amerikaners) dat sielkundiges depressiewe mense as deel van hul terapie na die plaaslike biblioteek moet verwys vir boeke wat hulle laat lag.

Medisyne wat vir ’n wonder nie bitter is nie.

Gesond gelag

Praat van lag en gesondheid, en Norman Cousins se naam duik altyd op.

Cousins, wat aan ’n terminale siekte gely het, het homself gesond gelag en ’n boek daaroor geskryf (Anatomy of an illness as perceived by the patient, 1979).

Jy lees reg ... gesond gelag. Hy het ander terapieë ook gebruik, maar niks het die verbeelding só aangegryp soos sy geskater nie. Wat destyds slegs op ’n intuïtiewe gevoel van Cousins gegrond was, is sedertdien deur navorsing bevestig. Studies wat die genesende waarde van lag ondersteun, hoop op.

Soveel dat Gale Maleskey en Mary Kittel in The hormone connection (Rodale-uitgewers, 2001) skryf: “As ons alles in ’n pil sit wat ons tans oor lag se effek op die immuun- en endokriene stelsel weet, sou ons toestemming van die (Amerikaanse) Federale Medisynebeheerraad moes kry (... om dit te kan bemark).”

Maar dis nie regtig ’n nuutjie nie. Die moderne geneeskunde het bloot die waarde van lag herontdek. Want lag is reeds deur antieke kulture soos die Egiptenare, Grieke en Chinese aangehang. Die antieke Grieke het bv. hospitale langs amfi teaters gebou, om die pasiënte te help om gouer gesond te word. Dit word selfs in die Bybel genoem: “’n Vrolike mens is ’n gesonde mens, ’n neerslagtige mens raak uitgeput.” (Spreuke 17:22).

Die verklaring daarvoor is biochemies, skryf dr. Stephen Juan in The odd body (HarperCollins, 2004). Lag verminder die liggaam se produksie van kortisol. Dis allerweë bekend dat kortisol die immuunstelsel onderdruk.

Navorsing toon wanneer ons lag, versnel ons metabolisme, spiere word gemasseer en gestimuleer, en ’n verskeidenheid biochemiese stowwe word in die bloed vrygestel. Studies toon mense wat lekker gelag het, voel nie net tydelik ontspanne nie. Hulle het hulself ook bewapen teen depressie en hartsiektes, en hul weerstand teen pyn verhoog, aldus Juan.

Is dit ’n wonder dat sogenaamde lagklubs soos paddastoele opskiet? Hasya- of lag-joga kombineer lag met joga en is in die jare negentig deur Madan Kataria, ’n mediese dokter, in Bombaai (nou Moembaai) begin. Deesdae is dit ’n groot gier onder die rykes en mooies in New York.

Lag en jou liggaam lag saam

  • Hartsiektes: Dit klink na harde werk om jou risiko vir hartsiektes te verlaag: oefening, die regte dieet, die vermindering van stres. Nou is daar ’n makliker manier.
  • Het jy gehoor van die dokter wat dertig minute per dag se humor aan hartpasiënte voorgeskryf het? Want lag is die nuutste wapen in die oorlog teen hartsiektes. Dis nou sedert navorsers aan die Universiteit van Maryland aangekondig het mense met gesonde harte is meer geneig om “hartlik” te lag as mense met hartkwale. Hulle is ook meer geneig om humor te gebruik wanneer hulle met moeilike situasies gekonfronteer word.

    Mense met hartkwale, daarenteen, was 40% minder geneig om in sulke gevalle te lag


  • Dit kan dalk ook pasiënte help wat reeds ’n hartaanval gehad het. Mense wat ná ’n hartaanval as deel van hul terapie daagliks 30 minute lank na ’n snaakse video moes kyk se hartspoed was meer normaal, hul bloeddruk was laer en hulle het minder hartmedikasie nodig gehad. Hulle was boonop minder geneig om weer ’n hartaanval te kry (teenoor die kontrolegroep wat net die gewone terapie gekry het).

    Presies hoe lag tot hartgesondheid bydra, is nie duidelik nie. Maar dit wil voorkom asof die effek van ’n giggel, sagte gerunnik of bulderlag streshormone verminder wat die immuunstelsel beïnvloed, bloedvloei na die hart strem en bloeddruk verhoog.

    Daar is verskeie oorsake vir hartkwale: jou gene, as jy oorgewig is, rook en te veel versadigde vette inneem. Stres is egter een van die belangrikste faktore. As jy lag, versnel die hartklop en bloeddruk styg. Daarna verstadig die hartklop en val die bloeddruk - tot laer as wat dit eers was, volgens die webblad www.webmd.com


  • Gee jou lyf ’n aërobiese skop: ’n Studie aan die Stanford-universiteit in Amerika toon as jy ’n minuut lank maaglekker lag, is dit gelyk aan tien minute op die roeimasjien. Dit stimuleer die sirkulasie van bloed nes enige standaard aërobiese oefening. Dis glo moontlik dat al 600 spiere in die liggaam beweeg as jy lag

  • Oefening vir interne organe: Dis al vergelyk met wondervingers wat tot diep binne-in die maag reik en jou organe masseer. Lag verhoog die bloedtoevoer na die organe en laat hulle dus ook beter werk. (Bron: www.latterklub.dk)

  • Verloor gewig: Lag hartlik vir ’n volle uur en jy kan tot 500 kalorieë verbrand. Dis gelykstaande aan ’n uur se vinnige draf, sonder dat jy na asem hyg. Op die webblad www.whyweight.co.za vertel ’n vrou hoe sy en ’n vriendin onderskeidelik 1 kg en 2 kg verloor het nadat hulle ’n week lank na snaakse video’s gekyk het. Raad teen die oorgewigepidemie wat Suid-Afrika teister? Om nie te praat van wat dit aan ons kollektiewe psige sal doen nie!
  • Versterk jou immuniteit: Die immuunstelsel speel ’n belangrike rol om infeksies, allergieë en selfs kanker te voorkom. Dis reeds deur psigo-neuro-immunoloë bewys dat negatiewe emosies soos angs, depressie en woede jou immuniteit - en dus die liggaam se vermoë om siektes te beveg - verlaag.

    Lag doen net mooi die teenoorgestelde. Navorsers het gevind dit vermeerder die teenliggame in die mukus van die neus en asemhalingskanale. (Wat jou beskerm teen sommige virusse, bakterieë en ander mikro-organismes.) Mense wat gereeld lagklubs besoek, sê hulle kry minder verkoues, seer keel en keelinfeksies, word op die webblad www.latterklub.dk berig. Die filosoof Friedrich Nietzsche het aan die idee van vreugde en immuniteit geraak: “Vergenoegdheid beskerm jou selfs teen ’n verkoue. Het ’n vrou wat dink sy is mooi aangetrek al ooit ’n verkoue opgedoen? Nee, selfs al het sy net toiings aan haar lyf.

  • Verminder pyn: Norman Cousins het gevind lag is doeltreffender as pynstillers. Daar was ’n stadium toe geen pynpil meer vir hom wou help nie. Maar lag het. Verskeie studies het daarna bevind lag vermeerder die vlakke van endorfien, ’n natuurlike pynstiller in die liggaam.
  • Verlig brongitis en asma: Lag is een van die beste oefeninge vir mense met asma of brongitis, sê Madan Kataria. Lag verbeter longkapasiteit en verhoog die suurstofvlak in die bloed, wat help om kongestie op te klaar. Borsfisioterapie help om slym uit die asemhalingskanale te verwyder. Een van die algemene oefeninge wat fisioterapeute aan asmalyers gee, is om ballonne op te blaas, of hard op ’n musiekinstrument te blaas. Lag het dieselfde resultate - en dis net soveel makliker. (Bron: www.latterklub.dk)
  • Normaliseer bloedsuiker: Mense met tipe 2-diabetes se liggaam kan dalk die suiker in hul kos beter verwerk as hulle lag, berig die Amerikaanse tydskrif Diabetes Care. Navorsing toon diabete wat na ’n komedie kyk terwyl hulle eet se bloedsuikervlakke styg minder as dié wat na ’n droë lesing luister. Dis bekend dat stres die risiko verhoog dat jou bloedsuikervlakke styg
  • Dit laat jou jonger lyk: Desireé Fletcher, ’n jogainstrukteur van Johannesburg met ervaring van lag-joga, sê dis goeie oefening vir jou gesigspiere. Daar vloei meer suurstof, bloed en voedingstowwe na die vel en laat dit gloei. En as jy gelukkig genoeg is om te lag tot jy huil, is daar ’n ekstra glinster in jou oë! En as jy nou regtig die dag nie in die bui is om te lag nie? Toemaar, jy kan dieselfde resultate kry deur te maak of jy lag. Maak bloot dié geluid: “Ha...ha...ha...” “ho...ho... ho...” of “he...he....he...” Die letter “h“ rol oor jou maag en jy begin om die emosie van lag te ervaar. En siedaar ... jou liggaam vervaardig dieselfde helende stowwe as wanneer jy lekker lag. Jou lyf vervaardig dus nog steeds baie kragtige medisyne, al maak jy net lag se geluid na, sê Desireé. Vergeet dus van ’n appel per dag. Huur ’n video - en kies ’n komiese een. Besoek ook www.laughteryoga.org en www.patchadams.org.

Léér om te lag

  • Plaas ’n foto van ’n familiebyeenkoms of ’n spotprent wat jou laat giggel waar jy dit gereeld raaksien.
  • Besef dat humor subjektief is. Jy dink dalk Seinfeld is snaaks, maar jou man verkies Leon Schuster. Besluit wat jou laat lag en stel jouself gereeld daaraan bloot.
  • Doen gereeld iets saam met ’n groep vriende waarin nie een juis uitblink nie. Ysskaats, speel tennis, roei. As almal ewe swak vaar, gaan jy gou vir jouself lag.
  • Hou kinders en diere dop. Hulle doen gereeld dinge wat jou laat lag. (Bron: www.webmd.com)

Het jy geweet?

  • Kinders lag sowat 400 keer per dag. Volwassenes gemiddeld net 25 keer.
  • Lag is aansteeklik. Hoekom dink jy het sitkoms klankbane met mense wat manies lag? Dié een gehoor? In die vroeë jare sestig het ’n paar skoolmeisies in Tanzanië onbeheers begin lag. Dit het vinnig na mense in nabygeleë gemeenskappe versprei. Skole is gesluit om te voorkom dat die “lagvirus“ versprei. Die “epidemie“ het eers ná ses maande bedaar.
  • Mense lag klaarblyklik die meeste as hulle mekaar groet en totsiens sê.
  • Lag klink dieselfde in alle kulture en sommige navorsers glo dit het ons voorvaders gehelp om met mekaar te bind. Die geluid van lag is só bekend, mense herken dit al word dit agteruit op ’n band gespeel. (Bron: www.prponline.net).