Onlangs het ek ’n kuier van die eersgenoemde soort beleef. Tot middernag toe het ek, ’n predikant en dié se wederhelfte met goeie wyn, beesstert en stories oor die paaie waarlangs ons lewens gereis het, verander van kennisse na vriende.

Soos dit die vervaardigers van ’n kuier van formaat betaam, het ons nie ’n tekort gehad aan stories wat ’n mens laat voel die lewe is een lang, snaakse komedie nie. ’n Mens het die medisyne van lag tog so nodig.

Maar ’n kuier wat met te veel snaaksighede aanmekaargesit word, kan begin leegloop en verdwaal totdat dit ’n blote grapperige interessantheid is. Êrens wil ’n aand ’n ander rigting inslaan. Deernis toe. Êrens moet daar oopgemaak word. Die hart wil geken word en leer ken. ’n Kuier wat te veel lig en te min skadu’s het, word te lig bevind in die weegskaal van saamwees.

Maar soos ou hande in die kuierkuns het ek en my twee genote ons stories diep en ver gaan haal sonder om toe te laat dat saamlag meer as ’n byspeler in die drama word. En so, terwyl ons dapper genoeg was om ook die donkerder skakerings van ons prentjies te skets, het ons met nuwe verwondering besef hoe die lewe ’n domme mens kan leer om te verstaan waaroor dinge regtig gaan.

In een aand is ons deur ons kinderjare tot by hoe ons as jong predikers die kansel en die lewe bestyg het en nou met ’n spoed deur die middeljare reis. In die oggendure het ek nog gelê en dink oor die pad waarlangs ons as pastoriebewoners gekom het. In die alleenheid van die gastehuis was ek net dankbaar dat dele van daardie pad verby is.

Ná gesamentlik meer as 50 jaar in die bediening was ons almal dit eens – ons moes nooit toegelaat het dat eng idees oor hoe die lewe werk ons beroof het van die
vryheid van menswees nie. Met skaamte en spyt kyk ons vandag terug na hoe ons met afkeer gefrons het vir die vonkel in die sjampanje van die lewe en die ritme in die dans. En dít in die naam van toewyding en heiligheid.

Gelukkig het ons ontsnap uit die wêreld waar geloof gedefinieer word in terme van taboes. ’n Goeie kuier het my en my nuwe vriende weer laat besef: Jy het
net een lewe, lééf dit.