Stel jy dikwels items op jou om-te-doen-lysie uit, soos om ’n werkverslag op die nippertjie in te gee of jou rekeninge nét betyds te betaal? Dié vorm van uitstel kan ook oorloop in die lewensbesluite wat jy moet maak ...

Gail Saltz, ’n mediese dokter, skryf op Huffington Post dat jy dikwels iets wat jy regtig graag wil doen, uitstel - ondanks die feit dat jy weet jy kan nie baat vind by die uitstel nie. Lees die hele artikel hier.

Sy beskryf dit as life procrastination. Met ander woorde, jy stel jou lewe uit.

Ons sien uitstel, oftewel procrastination, dikwels as konkrete goed wat gedoen moet word, soos om rekeninge te betaal of werkverslae te skryf. Tog doen ons dit ook wanneer ons besluite oor die lewe moet neem. Dié besluite kan belangrike vrae wees óf minder belangrike keuses, soos om jou baas vir ’n verhoging te vra of om te besluit om by die gim aan te sluit.

Dit klink klein, maar wanneer dit by groter besluite kom, kan dié probleem veroorsaak dat jy geleenthede misloop en sodoende jou loopbaan en verhoudings beskadig. Uiteindelik voel jou lewe of dit nêrens heen gaan nie en jy besef dis jou eie skuld.

Navorsing dui daarop dat 20% van volwassenes permanent uitstel. Maar daar is baie meer van ons wat selfs net tot môre uitstel voordat ons ’n belangrike taak - wat jy vandag al wou afhandel - aanpak. Dié gewoonte veroorsaak dat mense wat uitstel dikwels meer gespanne is en selfs meer gereeld siek word.

Gail het ’n lys gemaak van vier moontlike redes waarom jy dikwels take en besluite uitstel. Sy gee ook ’n oplossing vir elke rede, sodat jy kan leer om dinge nóú te doen eerder as om uit te stel. Want van uitstel, kom afstel ...

"Ek wil nie misluk nie"

Partykeer is jy so bang dat jy net gemiddeld of sleg gaan wees met iets dat jy dit eerder glad nie doen nie. Dis omdat jy perfeksionisties is. In sommige gevalle voel mense selfs dat niemand jou sal liefhê as jy nie buitengewoon is nie.

Hanteer dit só: Onthou, klaar gedoen is beter as perfek - mense sal nie besef dat die werk nie op dieselfde standaard as gewoonlik is nie. Al wat belangrik is, is dat dit klaar is.

"Ek is bang om suksesvol te wees"

Die gedagte dat jy dieselfde standaard moet volhou as jy suksesvol is, kan vreesaanjaend wees. Of die idee van hoe sukses jou lewe sal verander, maak jou angstig.

Hanteer dit só: Aanvaar die onsekerheid - jy kan nooit weet presies hoe die situasie gaan uitdraai nie. As jy jouself betrap dat jy die moontlike negatiewe gevolge van jou besluite indink, vertel jouself dat als op die ou einde oukei sal wees. As jy bang is dat ’n nuwe werk jou tyd saam met jou geliefdes sal steel, onthou dat jy van die begin af grense mag stel.

Lees hier wat Gail sê oor ...

Nóg wenke

Ander mense voel weer dat hulle perfeksionistiese aard in die pad staan om hul werk vinnig te voltooi. Sielkundige Karin Büter het meer oor perfeksionisme met SARIE gedeel (lees die volledige artikel hier.)

’n Perfeksionis . . .

  • het baie hoë standaarde wat nie altyd haalbaar
  • is baie mededingend 
  • is erg teleurgesteld en omgekrap as sy nie sukses behaal nie
  • glo iets is óf 100% reg óf heeltemal verkeerd *
  • is dikwels baie bang vir mislukking, tob oor haar foute en dis vir haar ’n bewys dat sy waardeloos is
  • vra moeilik hulp
  • sien (soms) ander se foute raak en wil hulle teregwys
  • is dadelik op die verdediging as sy gekritiseer word.

Hier is raad

  • Moeilik om raak te sien dat jy jouself saboteer? Jou verskonings vir jou gedrag sal dikwels vaag wees: “Ek dink nie dis vir my nie; ek was nie lus nie . . .”
  • Erken jou patroon. En in watter aspekte van jou lewe jy jouself saboteer. Doen jouself die grootste guns: Leer ken jouself. En leer jouself dan aanvaar, foute en al. Van selfaanvaarding kom selfliefde. En selfvertroue.
  • Niks sal oornag verander nie. Dit verg harde werk. Belê ook in goeie literatuur oor persoonlike groei en selfkennis.
  • ’n Goeie vriendin is die ideale klankbord en kan jou baie ondersteun. As jy in dieselfde patroon bly verval, raadpleeg ’n professionele persoon

Bron: Huffington Post en SARIE