Dis een van daai woorde wat jong lesers nie noodwendig meer dikwels gebruik nie. Woorde raak mos uit die mode, veral as jy nie ’n persoonlike assosiasie daarmee gevorm het nie. Ek onthou die woord uit my jonger dae, toe inry-teaters en inry-kafees nog plekke was waarheen ons dikwels gegaan het. En by daardie einste inry-kafee was ’n allegaartjie op die spyskaart! Die verklarende woordeboek sê ’n allegaartjie is ’n "mengsel van verskillende soorte goed; mengelmoes van mense". Vir my tower dit beelde op van ’n klomp lekker eetgoed op een bord: steak, eier, wors en tjips, en om die ou klompie af te sluk, ’n pienk melkskommel. Dié week is my top-5-keuse ook ’n allegaartjie. Daar is ’n mengelmoes onderwerpe waaraan jy kan weglê. Hoop jy vind hier jou steak, eiers, wors en tjips, en dat die melkskommel in jou smaak val!
Onthou om ons elektroniese boekwinkel te besoek om van die boeke aanlyn teen afslagpryse te bestel.

Die Genesis-faktor, Francois Bloemhof (Human & Rousseau, R170)
'n Jong vrou spring van ’n 30-verdieping-gebou in Kaapstad af. Daar is geen selfmoordbrief nie. Haar dood word gekoppel aan 'n reeks onverklaarbare selfmoorde. Die enigste skakel tussen al die slagoffers is dat almal een of ander tyd op 'n rehabilitasie-plaas in die Swartland was. Mark Steyn, die Rooi Luiperd, en Lena Dubois moet die saak ondersoek en dit lei hulle na die plaas Goue Kroon, wat besit word deur Magrieta Bakkes. Maar alles is nie pluis op dié plaas en in die omgewing nie. Enigiemand wat Magrieta teenstaan, sterf op onverklaarbare wyse. Verder is daar die raaisel van die vrou wat in 'n buitekamertjie bewaak word en in afsondering gehou word. Wie is sy en wat het sy met Mark se verlede te doen? Mark en Lena kry met 'n unieke vyand te doen. Wanneer vertroulike inligting oor Mark aan Magrieta gelek word, besef hy dat hulle ook met 'n onbekende gevaar te doen het. 'n Volwasse speurverhaal in Afrikaans wat boei. - Karien Labuschagne

Marico se Mambas, Piet Swanepoel (Human & Rousseau, R150)
Soos in die subtitel aangedui word, is dit ’n versameling jag-, lieg- en spookstories uit die Groot Marico-distrik. Die gebeure speel in die Vrystaat en ou Transvaal af, in die tyd net ná die Groot Trek tot ongeveer die 1940's. Dié tydperk het ’n verskeidenheid rare karakters opgelewer. Van die karakters wat ons in die 26 humoristiese vertellings ontmoet, sluit in ’n paar wilde boere, transportryers, jagters, kragmanne, oorlogsveterane en ’n sirkus-eienaar. Wie van julle het nog nie gehoor van die legendariese Mev. Pagel van Pagel se Sirkus nie? In verskeie wêrelddele bestaan daar mites van sogenaamde aapmense. Dink maar aan die jeti wat veronderstel is om in die Himalajas te woon. In Suid-Afrika het verskeie skrywers al stories vertel oor waterbobbejane – mitologiese mensdiere wat veral naby water in onherbergsame streke aangetref word. Swanepoel gee in dié bundel sy eie weergawe en trek die storie deur na die ontdekking van die oorblyfsels van oermense in die ou Wes-Transvaal en Noord-Kaap. Is dit moontlik dat Mev. Ples se familie tot taamlik onlangs steeds met ons was? Swanepoel is ’n ervare skrywer met onder meer sewe digbundels vir kinders op sy kerfstok. -Gert Venter
 Life without Limits, Nick Vujicic (Doubleday, R129,95) As jy net na die voorblad kyk, wonder jy hoe dié mens nog so vriendelik en vrolik kan lag. Die boek straal absolute hoop en liefde vir die medemens uit.
As iemand sonder ledemate sien Nick Vujicic homself nie as gebreklik nie, maar as iemand wat die Here met ’n doel op die aarde geplaas het. Hy het ook deur al die stadiums van "waarom" gegaan en gee uiting aan sy frustrasies, gevoel van weerloosheid en soms wanhoop. Hy beskryf hoe hy en sy familie geleer het om die probleme te oorkom en te oorbrug, en elke aanvanklike probleem is vir hom net ’n uitdaging.
Tog het hy in al die swaarkry die hand van die Here in sy lewe gesien en gevoel. In elke situasie sien hy ander raak wat, na sy mening, swaarder in die lewe kry as hy. Daar was dalk, volgens hom, ’n deur vir hom toe, maar daar was baie oop vensters. Hy het die geleenthede gebruik om vir hom ‘n onafhanklike lewe te bou pleks van om die toe deur raak te sien. Deur alles kom sy blymoedigheid en liefde vir die lewe, sy medemens en God na vore. In alles wat hy doen, dien hy as inspirasie.
Een van die mees inspirerende boeke wat ek in ’n lang tyd gelees het, en ook een wat my skuldig laat voel het omdat ek ook eerder die donker wolk as die reënboog raaksien. - Erna du Toit
 The Affair, Santa Montefiore (Hodder & Stroughton, R115)
’n Heerlike, romantiese boek wat jou meevoer na ’n wêreld van weelde, juwele, ontwerpersklere en wonderlike vriendskappe.
Angelica, in die hoofrol van dié drama, is ’n suksesvolle skryfster. Sy is gelukkig getroud met ’n ryk, aantreklike man en het twee klein kindertjies. Of is sy regtig gelukkig? Sy raak betrokke in ’n verhouding met ’n sjarmante Suid-Afrikaanse wynboer. Helaas is hierdie liefde nie bedoel om ’n gelukkige einde te hê nie, maar dit lei tot geweld, pyn en hartseer. Dit het wel gedien om Angelica met nuwe verwondering en dankbaarheid te laat waardeer wat sy het, nie alleen in haar man en kinders nie, maar ook haar vriende en werk.
As jy geen ander plesier sou vind in die lees van hierdie boek nie, maak die inleiding by elke hoofstuk dit die moeite werd. Pragtige, inspirerende woorde, stukkies juwele van filosofiese waarhede. -Nikki Strassburg
 The Bradshaw Variations, Rachel Cusk (Faber & Faber, R184,95)
Thomas Bradshaw is skaars veertig jaar oud, tog besluit hy dat hy op 'n sabbatsjaar geregtig is - hy bedank uit sy werk, bly by die huis en kyk na sy dogter Alexa terwyl hy klavierspeel en filosofeer oor die aard van kuns.
Sy ouers is geskok deur sy optrede. Waarom sou hy wou rolle ruil met Tonie, sy vrou? Maar Tonie gryp die kans aan en verander van vaal huisvrou na dinamiese lektrise. Kort voor lank herontdek sy haarself en dit stig onmin in hul eens hegte familiekring. Die roman speel af oor 'n tydperk van een jaar, gevul met terugslae en openbarings - lesers word getuie van Thomas se lot, asook dié van sy broers en hul gesinne.
Boeiende leesstof; diepsinnig en by tye ontstellend vanweë die bedrieglike eenvoud waarmee Cusk haar karakters beskryf en lesers op hoogte hou van toepaslike gegewens. Volgens die skrywer is die keuses wat 'n mens in die lewe maak (jou voorkeure en afkere, jou verhouding met naasbestaandes en vriende) in die reël net 'n variasie op 'n tema wat reeds tydens kinderdae gevestig is. - Emsie Viljoen