Die benoudheid bly net totdat ek die boekkopers in die boekwinkel sien of tot ek sien hoe 'n ry kinders by die biblioteek boeke uitneem om te lees. Dan jubel my hart opnuut en is my vrese vir daardie oomblik besweer. Net om oor 'n paar weke weer kop uit te steek. Dat veranderende tye boekwinkels en biblioteke in die gesig staar, is 'n feit. My hart breek stukkies-stukkies elke keer wanneer ek hoor nog 'n boekwinkel het sy deure gesluit. Vir my is 'n boekwinkel in 'n gemeenskap een van daardie samebindende faktore. Dis nie asof jy elkeen by name ken nie, maar jy herken die gereelde besoekers se gesigte. Jy weet selfs in watter seksies hulle die langste rondhang en deur die boeke blaai! Van nature is ek nie 'n baie geduldige mens nie, maar snaaks genoeg, in die biblioteek en in die boekwinkel kan min dinge my steur. Ek hoop daar is 'n paar boeke onder die week se keuse wat jou gemoed ook rustig sal maak.

Onthou om ons elektroniese boekwinkel op Kalahari.com te besoek om van die boeke teen afslagpryse te bestel.
Die ander Marta,  Eleanor Baker (Human & Rousseau, R180)
Die tweede uitgawe van ’n roman oor ’n onderdrukte, gefrustreerde vrou wat haarself aan trooskos vet geëet het. Marta is vasgevang in 'n huwelikstirannie met ’n verbeeldingslose en dominerende boer. Sy is die spreekwoordelike "dienende Marta", pligsgetrou en nederig. Tog maak sy skelm geld bymekaar en op ’n dag, nadat alles vir haar onuithoubaar geword het, vlug sy na die Weskus. Sy slaag nie daarin om haarself in die see te verdrink nie. Hier in ’n vissersgemeenskap vind sy egter geborgenheid en vriendskap, en verander haar lewe. Haar man, Hendrik, moet tot ander insigte oor sy huweliksverhouding en sy vrou se behoeftes kom. Eers nadat ’n aweregse familielid hom beïnvloed, slaag hy daarin. Die verhaal is met humor en deernis geskryf. –Malene Breytenbach

  Donker Leuens,  Lien le Roux-De Jager (Lapa Uitgewers, R170)
Kallie Krynauw is ’n forensiese psigofisioloog wat die polisie help in hul ondersoeke om vas te stel of verdagtes die waarheid praat. Sy raak betrokke in ’n hoëprofiel-saak wanneer ’n gesiene wetenskaplike verdwyn en volgens alle aanduidings deur ’n kartel vermoor is. Haar eie lewe en verhoudings met die mense naaste aan haar is in ’n warboel, wat vererger word deur die nuutste ondersoek. Sy is nie meer seker wie sy kan vertrou nie en voel onveilig in haar eie omgewing.
Haar suster, Madelein, is ’n dwelmverslaafde en trek gure karakters na haar toe aan wat ook ’n implikasie vir Kallie en die ondersoek inhou. Sy misbruik die susterlike band om inligting te kry sodat sy haar gewoonte kan voed.
Die karakters in die boek is nie almal oortuigend nie, en die hoofkarakter is by tye irriterend. Die boek sal waarskynlik nie in almal se smaak val nie. – Liesel Pienaar
  Wilna Adriaanse, Omnibus 3 , Wilna Adriaanse (Jasmyn, R195)
In hierdie boek is almal soekend na liefde, geluk en aanvaarding. Die mooiste liefde is nie selfsugtig nie, die mooiste sprokie is die een in jou drome, die beste plek om te wees is in iemand se hart. Elkeen wat oor ons pad kom, is daar met ’n doel.
Die wingerd sal weer bot
Toe sy uiteindelik die lig afskakel, dwaal Juliétte se gedagtes onwillekeurig na die man wat sy vanaand vir die eerste keer ontmoet het, en sy weet haar lewe sal nooit weer dieselfde wees nie. En al was haar lewe die afgelope paar jaar nie altyd maklik nie, was sy gewoond daaraan. Sy het nie nou lus vir veranderinge nie.
Conrad was destyds openlik gekant teen haar en Bertus se huwelik. Sy is verwerp deur Bertus toe sy swanger geraak het en hy in daardie stadium nie kinders wou hê nie. Nou kom Conrad ná drie jaar terug, net om haar én twee kinders op sy plaas en in sy toekomstige huis aan te tref. Juliétte is baie onseker en ontwykend teenoor Conrad, maar daar is ’n vonk tussen hulle, al ontken sy dit teenoor haarself. Conrad is egter geensins onvriendelik teenoor haar of die tweeling nie, inteendeel, hy is té vriendelik, en boonop het hy gisteraand vir die kinders ’n storie gelees. Juliétte moet besluit of sy as wynmaker op die plaas wil aanbly en of sy na Frankryk, haar geboorteland, gaan terugkeer. Maar iemand anders neem die besluit vir haar toe Susan opdaag . . .

Die ander twee verhale is: Liefde is ’n kleur  en Brug van woorde  - Ronel Taljaard

 Oktober

Oktober,  Reney Warrington (Protea Boekhuis, R160)
Hierdie brawe, eerlike debuut hanteer die sensitiewe tema van lesbiese liefde met baie grasie en deernis.
Jo is 'n Johannesburgse fotograaf wat Leigh, 'n Amerikaanse popsangeres, een aand per toeval ontmoet. Hulle geniet mekaar se geselskap maar is terdeë bewus daarvan dat hulle in twee verskillende wêrelde woon en werk. Kort ná hierdie insident word Jo se hele wêreld omvergewerp en sy vlug na haar vriendin in Londen om daar haar wonde te gaan lek. Intussen het Leigh siek geword en ook na Londen gevlug om daar te herstel en van die ewige paparazzi weg te kom. Hulle loop mekaar toevallig weer raak en so ontwikkel hul vriendskap en liefde terwyl hulle albei deur die hartseer in hul lewens worstel. Die boek is pragtig gedruk op glanspapier met 'n reeks kleurfoto’s in die middel van die boek wat die storielyn ondersteun. – Retha Burger

 Insomnia

Insomnia, Leon van Nierop (LAPA Uitgewers, R180)
Die sukses van Van Nierop, bekroonde skrywer en radio-en-televisie-persoonlikheid, skep verwagtinge, maar dié roman is te gedwonge, te sepieagtig. Insomnia het eers as vervolgverhaal in Vrouekeur verskyn.

Louise gaan soek hulp vir haar insomnia by die Jerigo-slaapkliniek in die Pelgrimsrus-omgewing. Haar verloofde het vooruitgegaan en sy gaan hom soek. Die kliniek het torings met geheime, die bos is ondeurdringbaar, daar is 'n doolhof, mis, 'n slegte pad, twyfelagtige behandeling. Mense verdwyn en word vermoor. 'n Atmosfeer van onheil word met swaar opset geskep. Die spanning laai op, die leser moet raai. Die speurder wat die skurke moet vind, is 'n konvensionele oud-rugbyspeler, taai en onpretensieus. 'n Baie sexy vroulike drawwer word ingesleep om 'n kinkel aan die verhaal te gee. Ligte leesstof, vlot geskryf, vinnig gelees. - Malene Breytenbach

 Die wit hings van die Namib

Die wit hings van die Namib, Doc Immelman (Protea Boekhuis, R120)
Die heruitgawe van die boek wat in 1966 verskyn het, bevat twee verhale wat in die woestynwêreld van die ou Suidwes-Afrika afspeel. Die eerste verhaal vertel van Zack Becker, 'n bywonerseun, wat verlief raak op die boer Bertus Reyneke se dogter, Lyda. Die liefde is wederkerig. Bertus Reyneke stel egter vele onregverdige eise om Zack af te skrik. Die erge droogte help ook nie om sake te vergemaklik nie. Gaan die liefde oorwin?
Die titelverhaal handel oor 'n verstrooide doktor, Robert Tredoux, se soektog na 'n legendariese spookperd in 'n onherbergsame deel van die Namib. Dit is die safari-leier, Fanus Brink, en sy assistent, Hennie Weyers, se taak om die doktor en sy twee dogters veilig te hou. Hulle ondek 'n grot vol Boesmantekeninge. Sake begin egter skeefloop toe 'n vliegtuig met enjinprobleme en twee diamantdiewe naby hulle neerstryk. Wie gaan oorwin en oorleef in hierdie harde, maar mooi wêreld? Immelman is 'n ervare skrywer en die twee verhale bevestig dat hy 'n meesterverteller is. –Gert Venter

 The complete voorkamerstories

The Complete Voorkamer Stories, Herman Charles Bosman (Human & Rousseau, R235)
Vir die eerste keer verskyn al Herman Charles Bosman se 80 "voorkamerstories" in een bundel. Bosman het 18 maande voor sy dood 'n opdrag aanvaar om 'n reeks stories te skryf. Al die gebeure speel gedurende die 1920’s af in Jurie Steyn se voorkamer in die Groot Marico-distrik. Die voorkamer dien ook as Drogevlei se poskantoor. Die stories is fassinerend in hul detail oor die doen en late van die mense wat hier woon. In byvoorbeeld "Oom Tobie’s Sickness" word vertel van die dag toe oom Tobie, toegewikkel in 'n warm jas, by Jurie Steyn opdaag om vir die goewerment se lorrie te wag. Hulle het onmiddellik geweet hy is weer siek. Hulle vertel trots dat daar niemand in die hele distrik is wat so gereeld siek is soos oom Tobie nie en dat hy byna al wat 'n dieresiekte is al gehad het. Dan bespiegel hulle met komiese resultate wat hy moontlik tans onder lede het. Die volgende keer toe die lorrie verbykom en die drywer te vertelle het dat oom Tobie die keer 'n menslike siekte het, is hulle effe teleurgesteld – maar beangs toe hulle hoor dis pokke. Die foto’s in die bundel is in 1964 deur David Goldblatt geneem. – Karien Labuschagne

 A season to remember

A Season to Remember, Sheila O'Flanagan (Headline Review, R171)
Die boek laat my baie dink aan die fliek Love Actually. Dit handel oor Sugar Loaf Lodge, 'n luukse gastehuis in Ierland. Die eienaars, Neil en Claire, raak bekommerd toe hulle weens die ekonomiese resessie geen besprekings vir die Kersfeesnaweek kry nie. Maar skielik begin die besprekings instroom en die gastehuis is vol vir die Kersfeesnaweek. In elke hoofstuk van die boek word vertel van die onderskeie gaste en wat daartoe gelei het dat hulle juis hierdie gastehuis gekies het om in oor te bly. Almal het 'n ander rede en die gaste is baie uiteenlopend. Die huis is ouer as 300 jaar en het oorspronklik aan 'n Britse graaf se familie behoort. Weens 'n tragedie het hulle net een somer daar deurgebring. Louisa, die gesin se 10-jarige dogter, het in 'n fratsongeluk gesterf toe sy geval en haar kop 'n skerp klip getref het. Hoewel haar gees nooit die familie se huis verlaat het nie, kon niemand haar ''sien'' nie. Eers toe Claire en Neil een middag saam met twee gaste kuier,  ''sien'' hulle haar. Van blydskap stort Louisa trane en dit was die sleutel tot haar oorgaan ná haar familie wat al eeue op haar wag aan die ander kant. Sy kom uiteindelik tot ruste. – Jenny du Toit

 Half blood blues

HALF BLOOD BLUES, Esi Edugyan (Serpent’s Tail, R109)
Die verhaal begin by Sid Griffiths en Chip C. Jones, twee jazz-musikante van Baltimore, wat in 1992 ná Berlyn reis om 'n rolprent-en-musiekfees ter ere van hul orkesmaat, die legendariese trompetspeler Hieronymous “The Kid” Falk, by te woon. Griffiths is effens onrustig, want hy wil nie sy onderdrukte herinneringe van 52 jaar gelede van Berlyn en Parys gedurende die ontvouing van die Tweede Wêreldoorlog onthou nie. Hierdie bekroonde werk belig die oorheersende politieke dilemma aan die einde van die 20ste eeu: waarheid en versoening. Griffiths dink terug aan die ontvoering van Hieronymus in Parys en hoe hy na 'n konsentrasiekamp geneem is. Falk is nie Joods nie, maar van gemengde Duitse en Afrika-afkoms. Dit, saam met die feit dat jazz as 'n onwaardige kunsvorm gesien is, maak van Falk 'n ongewenste lid van die samelewing: 'n klap in die gesig van Ariese ideale. Esi Eduguan glo dat Afro-transnasionale belewenisse en swart mense se selfuitdrukking een van die 20ste eeu se kerntemas is. Hierdie verhaal is al beskryf as “love in the time of the Third Reich blues”, en sy word alom beskryf as een van die mees musikale skrywers van haar tyd. Hierdie boek sal nie net aanklank vind by jazz-liefhebbers nie, maar by almal wat van verhale hou waarin die menslike psige, weerbaar én triomfantlik, sentraal staan. – Pieter Hugo

 Hearstone

Heartstone, C. J. Sansom (Mantle, R195)

Hierdie is die vyfde boek in 'n reeks boeiende spanningsverhale wat tydens die bewind van koning Hendrik VIII afspeel.

Matthew Shardlake (boggelrug-prokureur en vertroueling van koningin Katarina Parr, Hendrik se sesde vrou) word gevra om ’n saak in verband met die hof van voogdyskap te ondersoek. Die seun van een van Katarina se oudbediendes sterf onder verdagte omstandighede net nadat hy die hof van wanpraktyk beskuldig en Shardlake, bekwame verdediger van verdruktes, aanvaar die opdrag. Dit blyk gou dat dié saak meer om die lyf het as wat hy oorspronklik gedink het; die geval van misbruik betrek ’n edelman wat in dieselfde wyk woon as Ellen Fettiplace, ’n vrou wat in Bedlam (’n inrigting vir sielsiekes) opgeneem is. Shardlake besoek haar gereeld in ’n poging om haar duistere verlede te ontrafel en benut dus die kans om albei sake op te los. Heartstone is ’n aangrypende verhaal met ’n verwikkelde storielyn en ’n uiters onverwagte kinkel in die kabel. Sansom se prosa is historiese fiksie op sy beste en verdien om gelees te word. – Emsie Viljoen