Elke keer as iemand sugtend verklaar, “Ek is so lief vir lees, maar ek het net nie meer tyd daarvoor nie!”, voel ek soos ’n bul wat sy bes probeer om ’n rooi lap te ignoreer.

Meestal kom dit van liewe mense met goeie bedoelings. Dikwels word dit met ’n verskonende laggie na my kant toe aangebied. Ek is immers veronderstel om ’n skrywer te wees - en as mense ophou lees, moet ek seker ook ophou skryf.

Maar eintlik het my irritasie met hierdie simpel stelling bra min met my skryfwerk te doen. Dis die leser in my wat wil betoog. Lees bly die eerste en ewigdurende Groot Liefde in my lewe. En enige ware leser wéét tog daar is nie iets soos nie tyd vir lees nie.

Dis soos om te sê jy’t nie tyd om jou tande te borsel nie! Goed, ons kán seker almal ophou om tande te borsel of hare te kam of gesig te was, maar dink net hoe gaan ons lyk. En as jy ophou lees? Ek belowe jou, dit het dieselfde aaklige gevolge vir jou verstand en jou verbeelding as wat ’n gebrek aan basiese higiëne vir jou uiterlike het.

Omdat lees so onontbeerlik soos suurstof is - en so verslawend soos sjokolade - sal ’n ware leser altyd tyd vind om te lees. Tyd máák, tyd steel, tyd afknyp, tyd optower. Ek ken ’n vrou wat sweer sy kan lees terwyl sy haar maskara aanwend. (Nie aan te beveel vir amateurs nie. Laas toe ek probeer het, het ek amper my oog uitgesteek en oordadig baie trane op ’n geleende boek gestort.)

Gelukkig is daar ook minder gevaarlike maniere om ’n ewige leeslus te bevredig. My vriendin Elsabé dra altyd sonder uitsondering ’n boek in haar handsak, wat sy gretig uitpluk die oomblik as sy in ’n verkeersknoop of ’n supermarktou vasgevang word. (Anders as die meeste mense sien sy uit na verkeersknope en supermarktoue.) ’n Ewe leesgierige vriendin van oorsee kook die lekkerste fudge wat ek nóg geproe het, so met die houtlepel in die een hand en ’n boek in die ander. Fudge is mos ’n affêre wat aanhoudend geroer moet word, verduidelik sy, ’n fantastiese verskoning om sonder skuldgevoel te lees terwyl jy voor die stoof staan en roer.

En as jou man wil weet wat jy heeldag gedoen het, hoef jy nie beskaamd te mompel dat jy ’n manjifieke boek gelees het nie. Jy kan sonder om te blik of te bloos verklaar dat jy vir die kinders of vir die kerkbasaar of vir jou ganse vriendekring fudge gemaak het.

Dis hoe ons lesers oorleef. Nee, ek bedoel nie lieg-lieg nie (behalwe miskien soms ’n klein witleuentjie), ek praat van skik en kompromieë aangaan en drie balle gelyk in die lug hou. Want om ure lank te lê en lees bly ’n onbereikbare droom vir die meeste van ons. Behalwe as ons siek word - en só desperaat is ons nou ook nie om te lees nie. Dus lees ons wat ons kan, wanneer ons kan, waar ons kan.

My ma, by wie ek waarskynlik my verterende leeslus geërf het, moes drie orrelpyp-kleuters sonder huishulp of wasmasjien grootmaak, wat haar jare lank bitter min tyd gegee het vir die historiese romans waarvoor sy so lief was. Maar soos ’n veelsydige atleet het sy eenvoudig van langafstande na naellope oorgeskakel. Terwyl die kinders klein en tydrowend was, het sy haar toegespits op kortverhale en tydskrifverhale, so tussen koskook en bottelvoedings deur. Later, het sy geweet, sou daar weer tyd wees vir langafstand-romans, lywige boeke, stories wat ’n duisend-en-een nagte duur ...

Sy’t nooit ophou lees nie, tot op haar sterfbed, net altyd aangepas en anders gelees.

Dis waarom ek ergerlik word elke keer as iemand verklaar dat hy/sy mal is oor lees, maar nooit meer lees nie. Dis ’n oksimoron, soos ’n lewende dooie. Glo my, as jy mal is oor lees, sál jy ’n manier vind om aan te hou lees. Al is dit dan nou ook terwyl jy jou maskara aanwend.