Ek was gelukkig genoeg om ‘n vroeë kykie te kry na watter boeke op uitverkoping gaan wees. En glo my, daar is hordes boeke oor ‘n verskeidenheid onderwerpe. Ek het letterlik nie geweet waarna ek eerste moet kyk nie. Moet ek my verlustig aan die pragtige box sets van Rolling Stone Cover to Cover of Mad's Greatest Artists of moet ek my vergryp aan die kookboeke! As jy ‘n kok is, kan jy kies uit plaaslike en oorsese boeke. Gordon Ramsay se vrou, Tana, se kookboek, Home Made, sal jou mond behoorlik laat water. Vir die ernstige lesers is skrywers soos Karel Schoeman, Rachelle Greeff, J.M. Coetzee, Kate Atkinson, Ben Elton, Sebastian Faulks, Dan Brown, Tim Ecott en Ian McEwan maar ‘n paar wat verteenwoordig word. Verder is daar koffietafelboeke, biografieë, leefstyl- en gesondheidsboeke en ‘n pragtige keuse van kinderboeke.

En as jy gewonder het waarom die winteruitverkoping so laat is, blameer die sokker! Rene Brophy, publisiteits- en bemarkingsbestuurder van Exclusive Books, sê hulle hou juis die winteruitverkoping nou, sodat daai leemte wat deur die sokker gelaat is, gevul kan word.
Die uitverkoping begin op Donderdag 29 Julie wanneer winkels reeds om 07h30 hul deure sal oopmaak. O ja, amper vergeet ek, van die boeke is met tot 75% afgemerk. Winskopie!