"Boeke is soos brood en moet soos brood behandel word." Dié woorde kom van Elize Botha en is vir my seker van die mooistes wat gesê is oor boeke. Waarom? vra jy. Want brood is een van daai dinge wat jy deel met mense. Dis ‘n stapelvoedsel. Vandaar, jou daaglikse brood. Bowenal proe brood mos altyd lekkerder as jy kuier saam met ‘n klompie vriende en julle breek ‘n ou broodjie. So is dit ook met boeke. Dis iets wat gedeel moet word. Veral as dit ‘n boek is wat ‘n verskil in jou lewe gemaak het, of sommer net as dit ‘n lekker storie is wat jou wegvoer en laat ontspan. Daardie deel van brood en boeke is een van die beste geskenke wat jy vir iemand kan gee. Ek deel weer ‘n hele klomp boeke met julle en hoop dat elkeen hier iets vir julself of vir ‘n ander sal vind. Die eerste klomp boeke is almal lewensverhale van die een of ander aard en dan is daar spesiaal 'n klompie boeke vir kinders ook.

Onthou om ons elektroniese boekwinkel te besoek om van die boeke aanlyn te bestel.

Nine Lives: Memoirs of a Maverick Conservationist, John Varty (Zebra Press, R200)
Ek is ‘n absolute sucker vir boeke soos hierdie. Miskien is dit die romantiese idee van weg wees van alles en net in die bos wees met diere wat agter hierdie obsessie van my sit om sulke boeke te verslind! John Varty se boek lees vinnig en gemaklik en sy skryfstyl is direk en boeiend. Daar is nie onnodige beskrywings wat die teks voller laat lyk nie. Wat my die meeste beïndruk, is hoe hy sy verhaal sonder omhaal van woorde vertel. Moet ook nie vir die uitlap van skandes soek nie. Jy gaan dit nie hier kry nie. Hy vertel wel eerlik oor die op- en af-goed wat in sy lewe gebeur het. Hy is humoristies en ernstig terselfdertyd in die aanbieding van sy memoirs. Dis ‘n fassinerende boek wat vertel waar sy pad begin het, die mense wat hy ontmoet het, die mense saam met wie hy nou gewerk het en baie sterk bande het en waar hy nou in sy lewe staan. Hy is seker een van die bekendste mense in bewaringskringe wêreldwyd, nie dat hy altyd diplomaties was nie! Maar met sy werk het hy ‘n grootse bydrae gemaak tot die bewusmaking van die lot van baie spesies en hul omstandighede. ‘n Filmmaker extraordinaire en ‘n karakter wat hopelik nóg diep spore gaan trap vorentoe. Hierdie een is vir al die romantiese mense daar buite, maar ook vir al die realiste wat weet dis mense soos Varty wat inspireer en ‘n verskil maak.

Veldwagter! Veldwagter!, Hannes Kloppers (Protea Boekhuis, R140)
Veldwagter! vertel die lewensverhaal van Harry Kirkman, een van die bekendste en mees legendariese veldwagters in die beginjare van die Krugerwildtuin. Kloppers vertel van Kirkman se jeugdrome op sy geboorteplaas in die Karoo, sy deelname aan die Eerste Wêreldoorlog en die uitbraak van die Spaanse Griep in 1918. In 1927 word een van Kirkman se jeugdrome bewaarheid toe hy as plaasbestuurder van die Toulonblok, waar grootskaalse beesboerdery enkele jare tevore in die Laeveld begin is, aangestel word. Hier het hy te kampe met droogtes, veesiektes en leeus. In April 1933, skaars sewe jaar nadat die Nasionale Kruger Wildtuin in sy vergrote vorm geproklameer is, begin Harry sy loopbaan as veldwagter in die Wildtuin onder leiding van die ewe legendariese kolonel Stevenson-Hamilton. As veldwagter voer hy die stryd, onder primitiewe omstandighede, teen wildstropers, malaria en mensvreter-leeus. Harry Kirkman was een van die pioniers wat met liefde die Wildtuin help bou het. Die verhaal gee nie net insig in die mens Kirkman nie, maar vertel ook van die vroeëre geskiedenis van die Wildtuin, die toestande in die land en die omgewing. Die skrywer was self vir jare ‘n veldwagter in dié Wildtuin. - Gert Venter
Always looking up Always looking up, Michael J. Fox (Ebury Press, R215)
Die boek is die opvolg op Fox se eerste boek, Lucky Man waarin hy sy memoirs met lesers deel. In hierdie boek gaan hy aan om op ‘n baie eerlike manier en met humor en menslikheid sy stryd met Parkinson's te beskryf. Hy vertel van hoe ingrypend sy lewe verander het en hoe hy nooit weet hoe sy liggaam gaan reageer op ‘n bepaalde tyd nie. Hy moes sy hele lewe omkeer, afsien van sy akteurskap, omdat sy liggaam hom die hele tyd verras met ‘n nuwe beweging. Dis ‘n baie empatiese boek en mens kry insig in die realiteit van hoe dit is om van dag tot dag die siekte te hanteer. Ten spyte van alles bly Fox ‘n optimis en voel mens as leser geïnspireer deur sy vertelling. Hy verduidelik in die inleiding waar die titel vandaan kom: Hy is kort, net-net vyf voet vyf en hy moes altyd maar opkyk na alles en almal, maar dit is nie vir hom sy verwysingsraamwerk nie. Syne is een van iemand wat opkyk emosioneel, sielkundig, intellektueel en spiritueel met ‘n onstuitbare optimisme. ‘n Boeiende lewensverhaal van iemand wat terugploeg om ander mense wat aan die siekte ly se lewens te help verbeter deur sy stigting.
Coco Chanel Coco Chanel, Axel Madsen (Bloomsbury, R175)
Kyk na hierdie aanhaling uit die boek: "Coco Chanel had influence before she had money. She was the Pied Piper who led women away from complicated, uncomfortable clothes to a simple, uncluttered, and casual look that is still synonomous with her name." En dit is die erfenis wat hierdie eksentrieke ontwerper vir vroue gelaat het. Vandag nog is haar naam invloedryk en roep dit ‘n baie spesifieke beeld op - iets waarna baie vroue streef. Eksentriek was Chanel verseker. Sy het haar eie geskiedenis geskep, die waarheid het nie in haar pad gestaan oor hoe sy haar herkoms en lewe aan mense opgedis het nie. Sy het glo selfs een keer gesê dat sy nie eers tydens haar leeftyd in die bieghokkie vir die priester die waarheid vertel het nie! Sy het haar soms die gramskap van mense op die hals gehaal oor haar uitgesprokenheid en omdat haar manier die enigste manier was. Maar dat sy merkwaardig was en ‘n interessante en soms moeilike lewe gelei het, is nie te betwyfel nie. Sy is romanties verbind met ‘n hele paar mans, maar was nooit gelukkig in die liefde nie. Ironies dat sy nooit getroud is nie en laat in haar lewe aan haar kleinniggie, Gabrielle Labrunie gesê het: "All things told, you're the one who got it right. You've got a husband, children. I've got nothing. I'm alone with my millions."
Open  Open, Andre Agassi (HarperCollins, R190)
Van die eerste woord af word jy meegesleur deur Agassi se lewensverhaal. Op die eerste bladsy van die boek vertel hy van hoe hy tennis haat. Hoe hy nie weet wie hy is en waar hy is wanneer hy in die oggende wakker word nie. En hoeveel pyn hy ervaar as gevolg van die meedoënlose kompeterende beroep waarin hy is, fisiek en emosioneel. En dan kan jy nie anders as om te wil verder lees nie. Dis ‘n fassinerende vertelling van sy herkoms en hoe hy van kleins af deur sy pa gedruk is om te presteer op die baan. Dit was oefen, oefen, oefen. En toe begin hy rebelleer, maar niks kon sy tennistalent verberg nie. Dis verstommend hoe Agassi ten spyte van alles bly verbeter het tot hy die nommer een-speler in die wêreld was. Maar daarmee saam vertel hy van die teleurstellings van verloor en hoe hy weer moet opstaan en aangaan. ‘n Fassinerende lewe vol onthullings wat mens met meer respek na die voormalige tennisspeler laat kyk oor sy eerlikheid oor sy lewe.
Encounters with André Brink Encounters with André Brink, saamgestel deur Karina Szczurek (Human & Rousseau, R200)
Chris Barnard beskryf Brink as 'n anomalie, 'n antitese, en meen dat hy so merkwaardig skryf vanweë dié ontwykendheid. Sy Sweedse uitgewer sien die magiese in Brink se toewyding aan reg en gelykheid, en sy stories wat verdraagsaamheid verkondig met 'n mag wat beide die gevoel en die rede aanspreek.
Antjie Krog meen dat sy ego nooit verwydering bring tussen hom en erbarming buite die letterkunde nie, of tussen hom en die verdediging van wat volgens hom reg is nie. Sy vergelyk 'n Brink-kuier met 'n ongewone vakansie.
Die odes aan iemand wie se privaat lewe al in die openbaar gekritiseer is, kan oorweldigend raak. Tot mens fyner kyk. Ou vriende skryf die beste getuigskrifte waarvoor enigiemand kan vra. Van die mees aangrypende korrespondensie oor Brink, is e-posse tussen Bassem Nasir en sy ma. Die ma en haar seun verwoord hulle diepste belewings oor die lewe en liefde midde-in oorloggeteisterde Palestinië. Brink se meelewende antwoord aan Bassem onderstreep elke lofbetuiging oor die begaafde woordmeester.
'n Kosbare versamelstuk waarsonder enige boekrak armer sal wees. - Mariette Postma
Koos Meyer Koos Meyer: Lag-lag ‘n legende, Deon van Zyl (Tafelberg, R160)
Koos Meyer is in Oktober 2000 oorlede. Hy sou in November 2010 sy negentigste verjaarsdag gevier het. In die boek gee Deon van Zyl ons ‘n kykie na wie die merkwaardige man was. Die bundel bevat meer as vyftig staaltjies oor sy lewe. Dit begin by die voorgeskiedenis van die Meyers soos deur Koos self nagevors en opgeteken. Die voorgeskiedenis vertel van Koos se twee seerower-voorvaders en sy groot-grootmoeder Koekie wat met ‘n branderplank tussen die twee seerowerskepe gependel het om was- en strykwerk te doen. Reeds tydens sy laerskoolloopbaan op Christiana het Koos eienaardige geldmaakplanne gehad. In sy lewe was hy student, joernalis, prospekteerder, grootwildjagter, matroos, hotelbestuurder, wildbewaarder, toespraakmaker en mampoerstoker. Elk van die beroepe het hy op sy eie unieke manier aangepak en uitgevoer. Die boek neem ons op ‘n reis deur sy interessante en kreatiewe lewe en vertel van die baie kollegas en vriende wat onder sy poetse moes deurloop. Koos Meyer kan weliswaar beskou word as een van Suid-Afrika se oorspronklikste geeste. Die boek sal help dat ons die legende nie vergeet nie. Die bekende Lou Henning het gesorg vir humoristiese illustrasies. - Gert Venter.
Of loss, hope & healing Of loss, hope and healing: Finding lost family of the displaced, Estelle Neethling (Random House Struik, R190)
In hiedie memoirs van haar laat Estelle Neethling jou met ander en nuwe oë kyk na die immigrante en vlugtelinge in ons land. In haar werk by die Rooikruis is sy verantwoordelik om hierdie mense te help verenig met hulle families.
Die verhale gaan oor die vlugtelinge wat kom hulp - en ‘n toekoms - soek in Suid-Afrika. Mense wat gedwonge en in desperaatheid vlug en alles agterlaat, ook families - kinders hulle ouers en ouers hulle kinders. Verhale van oorlewing ten spyte van hartverskeurende omstandighede en ‘n vasberadenheid om kontak te maak met families. Half terloops word genoem van onmenslike optredes en ‘n Somaliese meisie wat so erg verkrag is dat sy ‘n operasie moes ondergaan.
Met ‘n verlede van ‘n disfunksionele familie met baie hartseer, onsekerheid en lae selfbeeld het die skryfster duidelik baie empatie met die vlugtelinge en skryf sy ook in diepte van haar eie hartseer. - Nikki Strassberg
Searching for daddy Searching for Daddy, Christine Joanna Hart (Hodder and Stoughton Ltd, R127,95)
Joe, 'n vondeling, is as klein dogtertjie deur die Hart-familie aangeneem. Hoewel sy kon aanvoel dat haar nuwe ma nie juis van haar hou nie, het haar nuwe pa haar aanvanklik baie goed behandel. Hy het haar egter ook later misbruik, terwyl Mamma haar soms lelik mishandel het. Sy het verwerp gevoel deur haar nuwe gesin en het, soos sy ouer word, begin wonder oor haar biologiese ouers.
So begin haar toenemende belangstelling in Ian Brady, 'n reeksmoordenaar, wat ten tye van haar geboorte in haar oorspronklike tuisdorp gewoon het. Sy het vermoed hy is moontlik haar biologiese pa. Vir jare het sy aan hom geskryf, totdat hy teruggeskryf het en sy hom ontmoet het. Die poniepers kom hiervan te hore en ook hulle maak misbruik van haar om 'n storie te kry. Om van die omstredenheid te ontvlug, vlug sy uit Brittanje na Amerika.
Die einde is een van oorwinning. Sy vind vastigheid, vind haar ware biologiese vader wat baie bly is om haar te ontmoet, en sy word 'n suksesvolle joernalis en begin haar eie gesin.
'n Lewensverhaal van moed en deursettingsvermoë, van soeke na liefde en aanvaarding, maar bo alles oorwinning. Dié ware verhaal is geskryf sonder enige selfbejammering. - Erna du Toit
The Music Room The Music Room, William Fiennes (Picador, R139)
In dié memoir beskryf Fiennes sy byna magiese jeugjare in Broughton Kasteel ('n historiese herehuis naby Oxford, Engeland) en die effek wat Richard, sy ouer broer en epileptikus, se teenwoordigheid op hom en sy gesin gehad het. Namate Richard ouer geword het, het herhaaldelike aanvalle sy frontale lobbe beskadig en aanleiding gegee tot 'n algehele persoonlikheidsverandering; sy gesin moes magteloos toekyk hoe sy buie van liefdevolle toewyding na onvoorspelbare aggressie draai, wat onvermydelik daarop afgestuur het dat Richard in 'n tehuis opgeneem is. Hier en daar wissel die outeur sy persoonlike herinneringe met kort insetsels oor die geskiedenis en verloop van epilepsie af, maar dit is geensins steurend nie - oor die algemeen is hierdie vertelling 'n eerlike en treffende beskrywing van Fiennes se sonderlinge grootwordjare. Met The Snow Geese (Fiennes se vorige boek) het hierdie skrywer bewys dat hy 'n uitstekende waarnemer van die natuur en menslike emosie is, en The Music Room stel ook nie teleur nie; dié gedenkskrif is beslis die moeite werd om onder oë te kry. - Emsie Viljoen
Ahound the world Ahound The World: My Tavels With Oscar, Joanne Lefson (Zebra Press, R175)
Miskien onthou jy nog al die koerantberigte en radio- en TV-onderhoude oor Oscar, die optelhond wat amper oornag ‘n media-sensasie geword het. Sy lewe het radikaal verander die dag toe Joanne Leffson hom gered het uit die diereskuiling waar sy tyd uitgedien was. Om mense se aandag te vestig op die lot van die duisende en duisende ander diere wat nooit aangeneem word en so gered word uit ‘n diereskuiling nie, het sy besluit om op ‘n "World Woof Tour" te gaan. Die toer het oor agt maande gestrek, oor vyf kontinente heen en hulle het meer as 60 welsynsorganisasies besoek. Die boek is heerlike pret, terwyl dit terselfdertyd ‘n ernstige onderwerp toelig. Die boek bewys maar net weer, ‘n hond bly ‘n mens se beste vriend!
My sussie is &aposn alien My Sussie is ‘n alien, Rachel Bright (Human & Rousseau, R115)
‘n Oulike boekie vir seuntjies wat belangstel in aliens, ruimteskepe en die maan. Klein boeties is nie noodwendig gek oor ‘n nuwe babasussie wat deel van die gesin word nie. Dit is ook so in hierdie boekie. Kleine Abrie hoor net die hele tyd hoe sy ma en pa koer oor sy babasussie, Annie, en al wat hy dink is sy lyk, klink en ruik soos ‘n alien! Hy besluit om haar terug te neem waar sy vandaan kom en wanneer hulle op die reis is, besef hy hy hou eintlik van haar. Dan is die reis terug huis toe na mamma en pappa. Pragtig geïllustreer met ‘n storietjie wat die aandag hou en gepas is vir moderne kinders.
Noag se ark My Bybel-Badboekies: Noag se Ark, (Human & Rousseau, R49,95)
Die boekie is gemik op kinders tussen twee en vier en is bedoel om saam te neem bad toe. Dis van plastiek en dryf en het helderkleurige sketsies. Die storie is in baie eenvoudige taal en vertel net die breë trekke van Noag se verhaal. Al die materiaal wat gebruik word in die boekies, van die plastiek tot die ink, is alles veilig vir kinders. Daar is ‘n tweede boekie in die reeks: Die verlore skapie.
Brul en piep  Kyk net hier . . . Brul en Piep, Outeur onbekend (Human & Rousseau, R42,95)
Die boekie is uit die reeks Kyk net hier -boekies wat gemik is op kinders tot en met drie jaar. Dis klein genoeg om saam te dra in baba se drasak en ook vir klein handjies om dit gemaklik vas te hou. Die boekies is van stewige karton en sal nie sommer maklik beskadig nie. Die teks is eenvoudig en die foto's in volkleur. In hierdie boekie word kinders voorgestel aan ‘n verskeidenheid van diere van ‘n leeu wat brul tot ‘n muis wat piep. In Swem en spat kom visse en ander waterdiere aan die beurt, in Vlieg en flap is dit voëls en in Oulik en sag is dit enigiets van ‘n hasie tot ‘n kuiken.
Die drie Bokramme Die Drie Bokramme, oorvertel deur Carole Bloch met sketse deur Shayle Bester (Jacana, R75)
Pragtig geïllustreer met ‘n storie waar die boelie uiteindelik op sy neus kyk! Klein Bokrammetjie, Middelste Bokram en Groot Bokram woon in ‘n stowwerige veld waar daar nie eintlik meer gras is om te eet nie. Nie ver van hulle af nie is ‘n groen koppie met die sappigste gras. En dit is baie aanloklik, maar die aaklige Monster woon op die groen koppie en hy vreet almal op wat durf waag om sy terrein te betree. Die Bokram-boeties besluit hulle gaan dit waag en met ‘n slim plan en Groot Bokram se heldhaftigheid maak hulle kleingeld van die Monster.
The little pilgrim The Little Pilgrim, Paulo Debs (Christian Art Publishers, R79,95 )
Die boekie is gegrond op die klassieke verhaal The Pilgrim's Progress deur John Bunyan en is so oorvertel dat dit die basiese beginsels van ware geloof aan kinders kan oordra op ‘n eenvoudige en relevante manier. ‘n Seuntjie kry ‘n uitnodiging van die koning om ‘n fees by te woon, maar net ‘n paar van die genooide gaste sal uiteindelik deur die koning uitverkies word. Dan gaan die seuntjie op ‘n lang reis, waar hy gekonfronteer word deur verskillende uitdagings. Hy hanteer elkeen op ‘n verstandige en eerlike manier en bereik dan uiteindelik die plek waar die kasteel is waar die fees gaan plaasvind. Hy moet nog een laaste uitdaging oorkom, wat hy doen, en mag dan deel hê aan die fees. Die boek is vertaal uit Portugees deur Susana Klassen.